Gaan ons lewendig ander kant uitkom?

Slegs twee maande na die vrystelling van haar gewilde Kersfeestreffer, A Different Little Christmas, is die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer (wat tans in Nederland woon) – Cindy-Louise – terug met ’n splinternuwe enkelsnit wat sommer baie aandag gaan trek.

Make it out here alive is die eerste snit vanaf haar opkomende album en gaan oor daardie tye wanneer jy voel dat jy nêrens inpas nie. Dit word baie slim vertel deur die oë van ’n hoërskoolkind wat konstant geboelie word en wil wegkom van alles af.

“Die liedjie gaan oor ’n tiener wat anders is en met kreatiewe oë na die wêreld kyk. As gevolg hiervan, word sy geïgnoreer in die klas. Sy probeer om dit uit te blok en van die seer ontslae te raak deur vir ’n rukkie te probeer ontsnap van haar realiteit,” verduidelik sy. “Die liedjie ondersoek die fyn balans tussen oorlewing en om oor die afgrond gedruk te word.”

Alhoewel die tema universeel is, is Make it out here alive vir haar baie persoonlik. Haar eie skoolloopbaan het hierdie Indie-rocksnit geïnspireer. “Die lewe gaan daaroor om jouself te aanvaar, maar dis moeilik wanneer jou maats jou nie ondersteun en verstaan nie. Al genees emosionele wonde ook met tyd, bly daar altyd letsels agter. Hierdie enkelsnit is my boodskap aan die wêreld dat die lewe vol goeie en slegte herinneringe is – dit is wat ons maak wie ons is. Soms is die sterkste ding wat jy kan doen om jou swakhede met ander te deel.”

Sy glo egter dat die boodskap oop is vir interpretasie en dat luisteraars van alle ouderdomme by die liedjie sal aanklank vind. “Die omstandighede hoef nie dieselfde te wees vir mense om betekenis in ’n liedjie te vind nie. Ons kan onsself dikwels raaksien in die lirieke – maar dit beteken nie dat ons dieselfde ervaring gehad het nie.”  

Die sangeres put inspirasie uit alles rondom haar en veral dieper sosiale en/ of emosionele kwessies; iets wat opvallend is in haar beskrywing van haar debuut-album, Humanity, wat op 19 Maart 2021 bekendgestel word.

Hierdie vrystelling kombineer ’n interessante verskeidenheid genres en wys hoe veelsydig sy is. Alhoewel die genres wissel, is die sentrale tema Humanity deurlopend dieselfde – elke snit gaan oor die menslike natuur en die emosies wat mense ervaar: liefde, hartseer, geluk, rebelsheid, spanning, teleurstelling en verandering. “Die idee agter ‘Humanity’ was om al my gevoelens op een speellys te sit; om my emosies weer te gee deur my liedjies. Ek gebruik musiek om my waarheid te deel en deur Make it out here alive wil ek vir mense sê dat hulle nie alleen is nie.”

Make it out here alive word gekomplementeer deur ’n musiekvideo deur Zowik Abramov (wat ook die regisseur is) van Kelin Media, terwyl Kevin Kenrick Eduardo Gumbs die choreografie behartig het. Dit plaas klem op die verskil tussen om vasgekeer te voel en vryheid te vind.

“Die skooltoneel is bedoel om klein en beknop te voel, in teenstelling met die buitelugtoneel wat vryheid verteenwoordig. Omdat die liedjie daaroor gaan om net jouself te wees en uiting te gee aan jou emosies, wou ek dit ook graag in die video laat deurkom,” vertel sy. “Ek hou nie daarvan om vir mense te sê wat om te dink nie en wou daarom nie ’n soliede storielyn hê nie, maar eerder iets magies en kunstig. Die video impliseer dat as jy jouself toelaat om vry te wees, jou gees kleurvol en kreatief kan wees. Kykers is egter welkom om hulle verbeelding te gebruik en hulle eie interpretasie van die video te hê.”

Kyk die video hier: https://youtu.be/klQ6eOxVfZo

Cindy-Louise het op sestien begin met klavierlesse en in 2018 haar BA-graad in musiek behaal. Omdat sy oorspronklik opera en jazz studeer het, het sy Nederland toe verhuis om haar opera-studies voort te sit en ongekende musikale vryheid ontdek. Sy het toe begin om haar eie musiek te skryf, wat haar toegelaat het om haar eie styl te ontwikkel en met verskillende genres, emosies en stemtegnieke te eksperimenteer.

“Ek het musiek op skool geneem en ook verder in hierdie rigting gaan studeer. Maar ek het gesukkel om by die reëls en sillabiese struktuur te hou en wou altyd meer uitbrei en anders wees. Om my eie musiek te skep, het my gehelp om uiting te gee aan my kreatiwiteit en om myself te aanvaar. Dit laat my veilig voel, voer my weg na ’n nuwe wêreld en help my om die lewe vanuit ’n ander perspektief te benader,” sê die musikant.

Sy mag miskien relatief nuut wees in die bedryf, maar het reeds bewys dat sy die volgende Indie-rockster gaan wees. Make it out here alive stel nie net haar talent en veelsydigheid as sanger en liedjieskrywer ten toon nie, maar is ook die perfekte lusmaker vir wat sy in die toekoms beplan.

“Maar ek het gesukkel om by die reëls en sillabiese struktuur te hou en wou altyd meer uitbrei en anders wees.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!