Sibbe sê ‘Ja’ vir entstof
Die neem van ’n entstof teen Covid-19 is ’n fakkel van hoop waaraan ’n broer en sy twee susters vashou. Te veel ankers in ons gemeenskappe is oorlede en dis tyd vir vrees om op sy plek gesit te word, sê die Williamse. As gesondheidswerkers van Wes-Kaap regeringsgesondheid wil hulle graag tydens fase 1 van die entstofbekendstellingsprogram geënt word teen Covid-19.
Hoewel Charles Williams (adjunk-direkteur van apteekdienste in die Kaapse Wynland) en sy susters dr. Beverley Williams (huisarts by Stellenbosch-hospitaal) en dr. Hannelie Williams-Walton (psigiater by Paarl-hospitaal) elk unieke insigte in die pandemie het, is gesprekke tuis nes die in ander huishoudings: hoe dit gaan met ‘n familielid of vriend wat Covid-19 het, die hartseer oor geliefdes wie afgesterf het, en nou die neem van die entstof.
As apteker het Charles vertroue in die navorsing wat gedoen is oor entstowwe en ook die maatreëls wat in plek gestel is om die entstowwe veilig te bewaar en toe te dien. Hy sê die doel van die entstof is immuniteit, net soos entstowwe teen siektes soos masels waarmee almal bekend is. “Op die oogaf lyk dit asof die entstof baie vinnig ontwikkel is, maar onthou, dit is gegrond op baie vorige navorsing en parallelle toetsting,” sê hy.
As jy teen COVID-19 geënt is, sal jou liggaam die virus só doeltreffend neutraliseer dat jy nie weet jy het die virus opgedoen nie en nooit simptome ontwikkel nie, óf dit sal die virus gedeeltelik neutraliseer sodat jy wel simptome het, maar dit onwaarskynlik is dat jy ernstig siek sal word. Hoe meer mense geënt is teen die virus, hoe minder sal COVID-19 tussen mense versprei.
“Ek sal spyt wees ek dit nie neem nie. Jy ook! Probeer om onbeperkte toegang en sosiale media te vermy, want dit dra by tot onsekerheid en angstigheid,” sê Charles.
Vanuit haar professie kan Hannelie kan getuig van daardie angs en vreesagtigheid. “Pasiënte sukkel baie met die impak van virus en die inperking. Ons het ’n toename gesien in pasiënte wie depressie en angstigheid beleef,” sê sy. As iemand wie voorheen long-TB gehad het, het Hannelie ook angstig gevoel toe sy in Oktober 2020 positief getoets het vir COVID-19. Dit was moeiik om dit teenoor haar familie te erken, maar sy het gou besef sy sal ondersteuning nodig hê terwyl sy herstel.
“Dit was vreesaanjaend om te weet Beverley het die infeksie opgedoen,” vertel sy oor die tyd toe Beverley ‘n paar maande later ook COVID-19 gehad het. “Die onbekende en onsekerheid kan vreet aan ’n mens. Dis ’n situasie wat jy nie kan beheer nie. Ek was definitief bang, maar hoopvol dat sy sou herstel, sê Hannelie. “Die entstof gaan ’n belangrike rol speel daarin om die pandemie tot ’n einde te bring.”
Beverley stem saam. “Ek sal die entstof neem, want ek wil geen berou hê nie. As jy COVID-19 kry en gehospitaliseer word, wil jy nie daar lê met verwyte nie. Ons het nóú die geleentheid om te keer dat dit gebeur,” sê sy. Beverley het in Januarie positief getoets vir die virus en is later gehospitaliseer. Sy sien uit daarna om die entstof te neem en op hierdie manier ’n voorbeeld vir ander kollegas te stel.
Die drie sibbe vra dat kollegas en mense van die gemeenskap hierdie drie dinge doen:
Neem ingeligte besluite. Besoek webtuistes soos https://coronavirus.westerncape.gov.za/covid-19-vaccination en beperk jou tyd op sosiale media. Indien jy besluit om nie die entstof te neem nie, sal jou besluit gerespekteer word.
Hou aan om jou masker te dra en ander voorkomende maatreëls na te kom.
Moenie huiwer om mediese hulp te kry as jy sukkel om asem te haal nie, en reik uit vir hulp as jy emosioneel oorweldig voel.
Die entstof word reeds in die Kaapse Middestad toegedien en behoort in die volgende paar weke uitgerol te word na gesondeidswerkers in die Kaapse Wynland. Tydens Fase 2 en 3 sal meer mense van die breë gemeenskap geleentheid gegee word om die entstof te neem.
“Sedert die begin van die pandemie het ek al uitgesien na die dag dat ons dit vir ons pasiënte kan bied. Die dag is amper hier!” sê Beverley.