Brand bedreig Jonkershoek

Die verwoestende brand wat die afgelope paar dae in die berge rondom Franschhoek en Banhoek woed, het vanmiddag verder in Jonkershoek versprei en dit lyk tans of dit ook Stellenboschberg nader. Hier is die jongste verslag van die Kaapse Wynlanddistriksmunisipaliteit:

Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit en talle vennote uit verskillende dissiplines en met uiteenlopende vaardighede bestry steeds die veldbrand wat nou na die Jonkershoekvallei in Stellenbosch uitgewyk het.

Huidige situasie
Die brand het vroeg vandag die bopunt van die Jonkershoekberge bereik en word aangedryf deur ’n kombinasie van sterk winde en gemengde plantegroei. Alle brandbestrydingshulpbronne word aangewend om skade aan eiendom te voorkom. Brandbestrydingsaktiwiteite sal deur die nag voortduur. Hoë winde en swak sigbaarheid (as gevolg van die rook) het die ontplooiing van lughulpbronne vertraag, maar die omstandighede laat nou beperkte vlugte toe.
Daar is tans 236 brandbestryders, grondspanlede en spanleiers wat in verskillende hoërisikogebiede werksaam is en hulle word ondersteun deur doelgeboude brandbestrydingsvoertuie – 13 van die KWDM, drie van CapeNature, ses van Stellenbosch Munisipaliteit en drie van die Weskus Distriksmunisipaliteit.
Die lughulpbronne bestaan uit twee Huey’s, een Blackhawk en een Oryx.

Die KWDM en verskeie rolspelers het ’n openbare kennisgewing uitgereik om inwoners van die Jonkershoekvallei en geraakte gebiede aan te raai om hulle medewerking aan die wetstoepassingsbeamptes te gee. As gevolg van die baie digte rook in die gebied, raai die kennisgewing aan dat bejaardes, verswaktes, diegene met komorbiditeite soos asma en jong kinders dit moet oorweeg om by vriende en familie in ander gebiede te gaan bly.
Inwoners is ook meegedeel dat indien hulle bedreig voel en eerder hulle huise wil verlaat, hulle seker moet maak dat die huis veilig toegesluit is, maar hekke moet oop staan en nie gesluit word nie sodat die brandspanne toegang tot die eiendom kan kry, indien nodig.
Teen so 13:00 vandag het die totale gebied wat onder die brand deurgeloop het (insluitend aan Overberg se kant), 8 250 hektaar beloop.

Tydlyn:
Die brand is aanvanklik op Sondag, 21 Februarie in die Overberge aangemeld. Teen laatmiddag op Maandag, 22 Februarie het die brand die pieke van die Banhoekberge buite Franschhoek bereik. In die daaropvolgende dae het die brand na die gebied van die Bergrivierdam versprei. Donderdag het die brandspanne die brandlyn weg van die R45 en landerye herlei. Laatnag op Donderdag 25 Februarie was die brand omtrent 68% onder beheer, maar met die verandering van die windrigting en die intensiewe hitte het die brand oor die bergpiek en na die digbewoonde Jonkershoekvallei beweeg.

Rolspelers:
Die span van Insidentbevel bestaan uit lede van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit asook gekontrakteerde grondspanne, Stellenbosch Munisipaliteit, CapeNature en hulle spanne en die Wynland Brandbeskermingsagentskap. Die span word ondersteun deur Wes-Kaap Rampbestuur, die Stad Kaapstad, Overberg Munisipaliteit, Weskus Distriksmunisipaliteit en die Nasionale Weermag.
Die KWDM se Brandweerdienste wil hulle dankbaarheid betoon teenoor alle betrokkenes wat ondersteuning bied om een gesamentlike doel te bereik, naamlik die voorkoming van lewensverlies, en die beskadiging en verlies van lewensbestaan en eiendom.

Die videogreep is oor tyd deur Thys Lombard van die Oldenburg-wynplaas geneem.

Groot verwoesting word gesaai deur die brand wat tans in die berge bo Jonkershoek woed.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!