Twee brandbestryders wat deel is van die groot groep brandslaners wat swoeg om die brand bo Stellenbosch te bestry is na bewering tydens die operasies beseer. Geen verdere besonderhede is tans bekend nie. Die stryd om die brand te stuit gaan intussen voort en gisteraand laat is inwoners van Jonkershoek gewaarsku oor die naderende brand en mense is aangemoedig om die gebied te verlaat, sou hulle bedreig voel.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdienste, tesame met vennote van regoor die provinsie, gaan voort om die brand wat vyf dae gelede in die Franschhoekvallei ontstaan het, te bestry.
Die bevelspan het berig dat aktiewe brandbestryding dwarsdeur die nag voortgeduur het, en spesifiek daarop gefokus het om te verhoed dat die brand eiendomme en huise bereik. Ten spyte van ‘n bemanning van 236 brand-personeel wat deur 24 brandweervoertuie bygestaan word, het die brand deur Jonkershoek en allangs die bergpieke tot in die Blaauwklippen-omgewing versprei. Die brand word aangevuur deur ‘n kombinasie van digte, gemengde plantegroei en sterk wind.
Die grondspanne word vanoggend deur vars spanne vervang. Verdere beplanning sluit die ontplooiing van lugbronne in om die sporadiese brandlyn in die hoër pieke te waterbom. Die digte rook en sterk wind maak dit gevaarlik om te vlieg. Dit beteken dat lugbronne slegs geïmplementeer kan word as toestande dit toelaat. Die temperatuur sal vandag tot in die dertigs styg, met ‘n serk briesie wat later vandag sal toeneem.
Die bevelspan het bevestig dat twee grondspanlede beserings opgedoen het en tans in die hospitaal behandel word. Daar is op hierdie stadium geen verlies aan lewe, inkomste, of eiendom nie, maar enkele inwoners van ‘n informele nedersetting, is na ‘n gemeenskapsaal in Cloetesville verskuif. Dit was nie ‘n ontruiming nie, maar eerder ‘n besluit wat gegrond was in die beste belang van die inwoners se veiligheid. Die digte rook en as wat deur die brand ontstaan, is vir baie problematies.
Inwoners word daaraan herinner om hul vensters en deure toe te hou om rook en as te vermy. Verder word daar aanbeveel dat bejaardes, verswakte mense met ko-morbiditeite soos asma en jong kinders dit oorweeg om by vriende en familie in ander gebiede te bly.
Goeie storie – hoop die brandweer manne is ok!