Om ʼn verskil te maak in kinders se lewens is haar lewenspassie
Elmarine Anthony
“Vanweë juffrou is ek vandag waar ek nou is.”
Dié woorde beteken alles vir ʼn onderwyser, vertel Raiza Crombie wat vir die afgelope vyf jaar by Hoërskool Cloetesville skoolgee.
Crombie is een van die personeellede wat ʼn omgee en aanmoedigende klimaat by die skool skep (bate no.5).
Haar werk strek egter buite die klaskamer en buite die skool. Wanneer sy praat klink sy soos ʼn onderwyser wat omgee vir “haar kinders”, soos sy na haar leerders verwys, sowel as ʼn gemeenskapswerker. Op die muur agter haar lessenaar is talle briefies van haar leerders oor onder meer watter groot impak sy in hul lewens gemaak het. Daar is so baie briefies dat sy dit elke maand op die muur roteer.
“Skoolgee vir my is nie net jou vak wat jy in jou klas aanbied nie,” vertel Crombie wat Engels vir graad 10 tot 12 gee.
Sy sê: “Voor jy ʼn kind jou vak kan leer, moet jy eers ʼn band met die kind vorm. Dit baat nie jy is die slimste onderwyser met die meeste kennis, maar jy het nie ʼn konneksie met die kind wat voor jou sit nie. Jy moet eers ʼn band vorm met die kinders voordat jy vir hulle enige waardes of skoolwerk kan leer.
“Ek wil weet ‘wie is jy buite die skool?’ Wat is jou omstandigde buite die skool en waar kan ek jou help sodat wanneer jy in die klas kom, jy ʼn beter en meer gemaklike kind is. Hier is baie sosio-ekonomiese probleme- en onregte in ons gemeenskap. Dit sluit in armoede, bendegeweld en dwelm- en alkoholmisbruik. Huishoudelike omstandighede is die grootste rolspeler in ʼn kind se lewe, veral in ons gemeenskap. Jy moet altyd hul omstandighede in gedagte hou.
“Ek is betrokke by alles in my kinders se lewens. As individu voel ek dis my plig om die kinders te leer ken en om belangstelling in hul lewens te toon. As jy nie vandag in my klas was nie, sal ek navraag daaroor doen. ʼn Kind se reis is hulle s’n om te stap, maar my rol is om hulle te help aan die ander kant uitkom. Daardie belangstelling wat jy in ʼn kind toon, beteken baie vir hulle.
“Ek het nog nooit ʼn probleem met ʼn kind in my klas gehad nie. Dis so lekker om skool te gee en te kan lief wees vir jou kinders en hulle is lief vir jou. Om te wys jy gee om is vir hulle so belangrik. As jy onthou wanneer ʼn kind se verjaarsdag is, weet jy hoe spesiaal hulle voel? Dit beteken baie vir hulle.”
Een van die redes hoekom Crombie so sterk voel oor haar betrokkenheid by haar kinders, is omdat haar Engels-onderwyser by Hoërskool Stellenbosch haar op dieselfde manier gehelp het. “Sy het my geïnspireer om ʼn onderwyser te word. Sy het alles wat ek nou doen, vir my gedoen.”
Verdere studies ná matriek was nie ʼn opsie waaraan Crombie gedink het nie, totdat haar onderwyser vir haar aangemoedig en gehelp het om by die Universiteit Stellenbosch aansoek te doen en te registreer. “Die dag toe ons ons graad 12-rapporte kry, het sy skool toe gekom en gesê ‘jy kom sien my mȏre’. Sy het vir my verduidelik oor beurse en wat my verskillende opsies is”, vertel Crombie, oor haar voormalige onderwyser wat nie meer in daardie stadium by die skool gewerk het nie.
Nadat sy haar BA-graad in geesteswettenskappe verwerf het, is sy terug na haar voormalige onderwyser met die vraag “wat nou?” Toe sê ek vir haar ‘ek wil doen wat juffrou nou vir my doen’. Dit is om ʼn kind wat nie ʼn visie het vir sy lewe nie, te help om ʼn rigting in sy lewe te kry. Skool is vir my. Ek wou hier wees waar ek ʼn verskil kan maak. Hier kan ek vir jou iets soos selftrots en respek leer. Dit is uitdagend om ʼn band met kinders te bou, maar wanneer jy dit regkry, is dit alles die moeite werd. Ek dink die minste wat jy vir ʼn kind kan doen is om vir hulle goedheid te wys.”
Wat is batebouers?
In die boek Elkeen is ‘n batebouer deur Jeanette de Klerk-Luttig, word batebouers beskryf as mense wat hoofsaaklik op hoop, vreugde en oplossings vir probleme fokus. “Batebouers glo dat elke persoon en elke gemeenskap in Suid-Afrika die potensiaal het om die lewens van jongmense positief te verander.”
Daar is 40 bates wat ʼn persoon in kinders kan ontwikkel. “Die 40 bates vorm die fondasie vir kinders en jongmense se ontwikkeling en hulle het dit nodig om te floreer en gesond en gelukkig te leef. Dit beskerm hulle teen risiko-gedrag en help hulle om terug te spring ná mislukkings.”
“Die gesondheid van ʼn samelewing kan gemeet word aan hoe hulle omsien na hul jongste generasie. Batebouers gee aan ons ʼn gemeenskaplike visie waardeur verskillende segmente van ons gemeenskappe – families, bure, skole, gemeentes, jeugorganisasies, sportklubs ensovoorts, kan hande vat en saamwerk om seker te maak dat kinders en jongmense kry wat hulle nodig het om in gelukkige, gebalanseerde volwassenes te ontwikkel.”
Foto captions:
Crombie met een van haar oudleerders se ouers wat vir haar ʼn geskenkie gegee het.
Die briefie wat met die geskenkie geskryf is.