Ekonoom Dawie Roodt nou beskermheer van die WAT se Borg ’n Woord-projek
Belê in ’n wenner. Belê in Afrikaans deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal te ondersteun. My gunstelingwoord is verruklik. Wat is joune? Maak dit jou eiendom en borg dit nou want die Borg ‘n Woord-projek verdien jou ondersteuning.
– Dawie Roodt
Die ekonoom Dawie Roodt is vanjaar die WAT se Borg ’n Woord-projek se beskermheer. Roodt is ’n stigterslid, direkteur van, en hoofekonoom by die Efficient-groep. Hy is ’n aanbieder op Ontbytsake en lewer gereeld kommentaar op RSG oor die ekonomiese impak van nuusgebeure.
“Dawie is waarskynlik die Afrikaanse ekonoom wat in sy openbare kommentaar die suiwerste gebruik van Afrikaanse ekonomiese terme handhaaf. Dit rol van sy tong af – geen pretensie nie, maar báie beheer,” belig dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, die keuse van Roodt vir hierdie prestigeposisie.
Roodt het sy taalbeheersing te danke aan ’n vroeëre werk by die Reserwebank waar hy deel van die span was wat die kwartaalblad in sowel Afrikaans as Engels moes publiseer en hy moes die terminologie in beide tale goed onder die knie kry.
Oor sy gewaarwording van taal vertel Dawie dat hy die Afrikaanse ensiklopedie-reeks Die Kennis in sy laerskooljare ontdek het en van hoek tot kant deurgelees het. Daarna kon niks hom keer nie en hy het elke Afrikaanse boek gelees waarop hy sy hande kon lê. Hy het toe reeds besef dat jy deur te lees en deur woorde in iemand anders se kop kan klim.
Volgens Roodt is daar ’n paar woorde wat hy baie erg aan het, maar ook ’n paar wat hy absoluut verfoei: “Een van die lelikste woorde denkbaar is die woord huidiglik.” Sy gunsteling- Afrikaanse woord? Verruklik. “Ek dink dit is een van die wonderlikste woorde in Afrikaans – verruklik – maar jy moet hom baie spaarsamig gebruik,” vertel Dawie aan Anita Visser tydens ’n Monitor-onderhoud oor die Borg ’n Woord-projek.
“Borg ’n Woord se doel is om mense bewus te maak van die waarde van woorde – die mooie, die skoonheid van woorde,” verduidelik Botha. “Elke mens het ’n besonderse woord, en ons wil hê mense moet bewus word van daardie woorde en dit hulle eiendom maak deur dit te borg of te koop.”
Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop. Gaan na die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die weerspieëling van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang in die WAT.
Skakels na video’s:
- Dawie Roodt gesels by die Buro van die WAT oor die verband tussen taal en die ekonomie, en gee ‘n paar wenke vir die bestuur van jou persoonlike finansies.
https://youtu.be/7oDJvXn_z18 - Ontbytsake: Dawie Roodt gesels met Willem Botha oor die Borg ’n Woord-projek
https://youtu.be/dnOBlVTPOYs