‘Besluit oor Afrikaans US se swakste nog’

DAK Netwerk lei optog vir Afrikaans by US

Onder krete van “Stellenbosch jou ding is los”, “Afrikaans is ‘n inheemse taal”, “Stellenbosch jou ding is Wim” en “Ons dala in Afikaaans”, het die DAK Netwerk vanoggend ‘n versoekskrif oor die gebruik van Afrikaans aan prof Leslie van Rooi, senior direkteur van sosiale impak en transformasie van die Uiniversiteit Stellenbosch (US), oorhandig.

Die optog het met ‘n byeenkoms op Die Braak begin waar ongeveer 150 ondersteuners bymekaargekom het en toe deur die strate van Stellenbosch na die US se administrasiegebou gestap het. Van Rooi het die optoggangers, gelei deur Danie van Wyk, voorsitter van DAK Netwerk, ontvang.

DAK is afgelei van die name van Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa wat in die tyd van Jan van Riebeeck aan die Kaap was en ‘n groot rol in die ontwikkeling van die taal gespeel het.

Van Wyk het die griefskrif met sewe vereistes aan Van Rooi op die trappies van die administrasiegebou oorhandig en dit daarna simbolies aan die deure van die US vasgeplak.

“Dit is met groot verontwaardiging dat die DAK Netwerk van die ter syde stelling van die 2016-Taalbeleid van die US kennis geneem het. Nie net het dit ‘n woede onder ons mense ontketen nie, maar dit het ook visioene van die verlede van ontmagtiging en vernedering te weeg gebring,” het hy gesê.

Emeritus professor Hermann Giliomee, een van die voorste stryders om Afrikaans sy regmatige plek op die US kampus te laat behou, het die versoekskrif aan die deur van die administrasiegebou gelees en die besluit van die US-bestuur om Engels die voertaal te maak as die swakste besluit in die US se gekiedens beskryf.

“Die US het drastiese en radikale stappe geneem om die universiteit inklusief te maak en weens ‘n gebrek aan behoorlike beplanning en moedswilligheid Afrikaans as onderrigtaal verwerp,” het  Giliomee gesê.

Die griefskrif van DAK Netwerk eis die volgende:

  1. Die erkenning van Afrikaans as ‘n inheemse taal.
  2. Dat Afrikaans steeds as ‘n volwaardige akademiese taal aangewend word.
  3. Dat die DAK Netwerk ‘n voorstander van meertaligheid is.
  4. Dat Afrikaanssprekende studente die geleentheid gegun moet word om ten minste ‘n eerste kwalifikasie in Afrikaans te kan behaal.
  5. ‘n Onvoorwaardelike verskoning van die US vir die vernedering wat nie-wit student in die verlede ervaar het.
  6. Dat die US met groot omsigtigheid omgaan met studiegeld wat onder moeilike omstandighede verdien is.
  7. Dat die kultuur van robuuste debatvoering weer sy regmatige plek op die US-kampus moet inneem.

Fredrick van Dyk van Studenteplein en sekretaris van die US-konvokasie, het gesê dit het tyd geword dat die US sy gemeenskap moet begin dien en moet omsien na die behoeftes van die studente, en veral die Afrikaanssprekendes.

Van Rooi het met die ontvangs die griefskrif gesê die US is daartoe verbind om met ander organisasies saam te werk oor die nuwe taalbeleid wat tans oorweeg word. Die konsep- taalbeleid sal die een van 2016 vervang en is tans onder oorweging deur belangegroepe.

John Steenhuisen, DA-leier, het op Die Braak aan www.stellenboschmonitor.com , gesê dit is belangrik dat  die US die gemeenskap van die Wes-Kaap in ag neem wanneer daar besluite oor taal by onderwysinstellings geneem word.

“Die grootste gedeelte van die Wes-Kaap se inwoners is Afrikaanssprekend en daarby sluit ek die bruin gemeenskappe in. Om Afrikaans as akademiese taal te verklein kan ‘n omvangryke invloed op die provinsie se inwoners hê,” het y gesê.

Danie van Wyk, DAK Netwerk se voorsitter, plak die lys van 7 griewe op die deure van die US se administrasiegebou.
Fredrick van Dyk, sekretaris van die US-konvokasie en lid van Studenteplein, aan die woord op Die Braak.
Salomé Malherbe van Kleinmond, ‘n selferkende taalstryder vir Afrikaans, het ook aan die optog deelgeneem.
Die optog deur die strate van Stellenbosch ter ondersteuning van die behoud van Afrikaans as akademiese taal by die US, het talle bekendes in die Afrikaans-gemeenskap ingesluit. Foto’s: Danie Keet

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!