Hokkie-meester presteer

 US-hokkiester behaal meestersgraad cum laude

Of dit nou op die sportveld of in die klas is, Keenan Horne is ’n lewende bewys dat harde, eerlike werk vrugte afwerp.

Horne, die onderkaptein van die Suid-Afrikaanse manshokkiespan, het onlangs sy meestersgraad in die regte cum laude by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtighede ontvang.

Sy akademiese prestasie is regtig iets besonders, aangesien dit fyn voetwerk gekos het om sy nagraadse studie in die regte en ’n professionele sportloopbaan gelyktydig te behartig. Sy toewyding, “baie opofferings en laat aande” het egter gesorg dat hy sy akademiese doelwit bereik.

Horne, wat sedert 2018 die onderkaptein van die nasionale hokkiespan is, sê sy akademiese prestasie het nog nie by hom ingesink nie.

“Hierdie prestasie is een van die beste ervarings van my lewe,” sê hy.

Horne skryf sy sukses toe aan die ondersteuning van sy familie.

“Wanneer ’n mens uit ’n minderbevoorregte agtergrond kom, is opleiding mag en ’n instrument om ’n beter lewe mee te skep,” sê Horne.

“Om opleiding te ontvang, was die hoeksteen van my ouers se sukses. Ek het hard gewerk om sukses te behaal. My pa en ma is trots op my vir die feit dat ek ’n balans tussen my sport en die akademie kon handhaaf.”

Horne sê hy het regdeur sy tyd by die US altyd sy pa se woorde onthou dat “akademiese werk harde werk is”, en dat daar geen maklike uitkoms is nie. Anders as in sy sportloopbaan waar hy ’n paar rituele het om vir hom voorspoed te bring, sê Horne daar was “geen rituele” in sy akademiese loopbaan nie, “net eerlike, harde werk”.

Horne het gedurende sy tyd by die US-hokkie vir Maties Sport gespeel en het verskeie sporttoekennings ontvang, wat die Maties-hokkiespeler van die jaar (2015), Maties se top-doelskieter (2015), die Maties-sportman van die jaar (2017) en die rektorstoekenning vir uitnemende sportprestasie (2018) insluit. Hy speel tans vir sentrale hokkieklub in Athlone, waar hy deur die voormalige Suid-Afrikaanse manshokkieafrigter en Olimpiese atleet, Bruce Jacobs, afgerig word.

Wanneer hy nie op die sportveld is nie, kan ’n mens Horne by Mostert en Bosman Prokureurs in Bellville vind, waar hy tans besig is met sy klerkskap.

Oor sy toekomsplanne sê Horne hy het sy visier op die Olimpiese Spele gestel wat in Julie 2021 in Tokio gehou word. Hy hoop ook om in die nabye toekoms die geleentheid te kry om ’n paar seisoene oorsee te speel, maar dit sal eers wees nadat hy sy klerkskap voltooi het.

Keena Horne, een van Maties se voormalige top hokkiespelers het ook ‘n meestersgraad in die regte verwerf. Foto’s: Caleb Sheperd

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!