Geringe styging in gevalle van Covid-19 in Wynland
Die afgelope twee weke was daar ‘n geringe toename in die aantal mense wie positief getoets het vir COVID-19 in die Breedevallei, Drakenstein, Langeberg en Stellenbosch. Op 8 April In die Witzenberg was daar ‘n geringe afname in hierdie tyd. Teen 8 April was daar 329 mense met COVID-19 in die Kaapse Wynland en een groepering van positiewe gevalle in Stellenbosch (ses persone).
Stellenbosch het op 8 April altesaam 6 487 gevalle van Covid-19 aangeteken. Hiervan het 6173 mense al reeds van die siekte herstel, daar was 227 Covid-verwante sterftes en daar is tans nog 87 aktiewe getalle in die dorp.
Sr. Nickey Langeveldt van Cloetesville-gemeenskapsdagsentrum is een van die meer as 5 000 gesondheidswerkers (publiek en privaat) in die Kaapse wynland wat sover teen Covid-19 geënt is. Sy is baie beïndruk met hoe glad die proses verloop het. “Alles was baie goed georganiseer. Ek was nogal bietjie angstig voor en na die tyd, maar ek het myself herinner dat dit is soos net soos wanneer ‘n kind geïmmuniseer word. Ek het na die tyd lyfseer gehad, maar dit het weer weggegaan,” sê sy. “Vir ‘n jaar het ons in vrees geleef. Nou is die geleentheid hier om geënt te word. Ons moet dit aangryp!” Langeveldt is trots daarop om een van vier personeellede van die gemeenskapsdagsentrum te wees wat sover hier opgelei is om ook die entstof te kan toedien.Terwyl minder Wes-Kaapenaars tans positief toets, minder gehospitaliseer word en minder sterf weens die virus, vra die Wes-Kaapse departement van gesondheid dat almal versigting bly en volhou om voorkomingsgedrag, soos die dra van maskers en vermyding van groot byeenkomste, ens.
Tans kan slegs gesondheidswerkers registreer om geënt te word. Na verwagting sal fase 2 van die uitrol van entstowwe in Mei begin en enstowwe sal by meer fasiliteite gebied word. Gesondheidspanne van die Wes-Kaapse regering in die Kaapse Wynland het sy beplanning vir fase 2 en 3 ingedien. Sodra die provinsiale plan goedgekeur is, en die ministeriële advieskomitee duidelikheid gee oor die volgorde waarin mense in die verskillende fases geënt sal word, sal meer inligting beskikbaar gestel word. Intussen sal die inligting by https://coronavirus.westerncape.gov.za/covid-19-vaccination jou belangrikste vrae oor die entstof beantwoord.
“Ons weet baie mense is ywerig om die entstof te neem,” sê Surina Neethling, wat Covid-19 hier moniteer en leiding gee met onder meer die benutting van infrastruktuur vir fase 2 en 3.
“Terwyl die fynere besonderhede uitgewerk word, het ons almal se hulp nodig. Elkeen moet aanhou om hulself te beskerm deur maskers te dra, afstand te hou as daar met ander in die buitelug gesosialiseer word, en dit vir beperkte tye te doen. As jy vir Covid-19 toetsing gaan, dui aan as jy woon in groepsopset soos ‘n koshuis. Besonderhede soos hierdie help ons om vinnig te identifiseer of jy dalk met baie mense in aanraking was.”