SA se eerste wynroete gee steeds pas aan in wyntoerisme
Die Stellenbosch-wynroetes vier vanjaar sy 50ste herdenking – ’n mylpaal wat ook die geboorte van Suid-Afrikaanse wyntoerisme gedenk.
Behalwe die meeste uitsonderlike premium-wyne in Suid-Afrika, het die Stellenbosch-wynroetes die weg gebaan vir die land se wyntoerisme – ’n bedryf wat jaarliks R7.2bn tot die BBP bydra.
“Ons 50ste feesvieringe kom op ’n baie geleë tyd,” sê Mike Ratcliffe, voorsitter van Stellenbosch-wynroetes.
“Die wynbedryf – en inderdaad die hele land – ondervind tans een van sy uitdagendste seisoene en om terug te kyk op historiese prestasies, is belangrik vir die inspirasie wat ons daaruit kan put, vir die werk wat op ons wag.”
Sedert daardie eerste stap 50 jaar gelede, het wyntoerisme se voetspoor tot wynproduserende streke in vyf provinsies en 23 wynroetes uitgebrei. Wyntoerisme-ontwikkeling in Suid-Afrika het gelei tot die transformasie van hierdie wynroetes se landelike lgemeenskappe met moderne wynlandgoedere, gegradeerde hotelle en funksiefasiliteite wat vir gaste bygevoeg is. Meer as die helfte van die lede-wynkelders het kosverwante ervaringe in hul wyntoerisme-aanbieding ingesluit.
Vandag bestaan die Stellenbosch-wynroetes uit ’n magdom wêreldklas toerisme-ervarings buiten die wynproeë. Van wyn-safari’s tot bekroonde gourmet-geleenthede, verdien die wynroete sy reputasie as die grootste besoeker-aantreklikheid buite Kaapstad. Honderde duisende gaste besoek jaarliks die gebied, wat die basis vorm van besoeke aan die Wes-Kaap – vir plaaslike- én internasionale gaste.
In 2019 het Stellenbosch-wynroetes die stigterslid van Visit Stellenbosch, die dorp se amptelike bestemmingsbemarkingsorganisasie, geword. Hierdie gesamentlike inisiatief het Stellenbosch se toerisme-aandeelhouers onder een sambreel verenig met een doel voor oë: om Stellenbosch se toerisme- en ervaringsekonomie tot voordeel van al die gemeenskappe te laat groei.
In dieselfde jaar het die organisasie die eerste wynstreek in die suidelike halfrond geword om by die Porto Protokol aan te sluit.
Hiermee is die toewyding om die fokus op goeie omgewingspraktyke te versnel en om projekte wat op plaaslike volhoubaarheid fokus, te vestig, verstewig.
“Stellenbosch se sukses is te danke aan die unieke kombinasie van verskeie kritieke faktore. Dit sluit onder meer die gehalte – en aantal wynkelders, die skoonheid van die natuurlike omgewing, samewerking en die beskikbaarheid van kultuurtoerisme wat tot wyn-toerisme bydra, in,” sê Ratcliffe.
Die Stellenbosch-wnstreek het meer wyntoekennings per kapita as enige ander in Suid-Afrika verower, wat die skakel tussen wynkwaliteit en suksesvolle wyntoerisme onderstreep.
“As die land se eerste én grootste wynroete, sal Stellenbosch-wynroetes aanhou om die weg te baan. Deel van ons mandaat is om die plaaslike-, provinsiale- en nasionale owerhede aan te spreek rakende sake wat ons lede en die bedryf raak. Ons sal klimaatsverandering kollektief as lid van die Porto Protokol aanspreek en die sosiale agenda dryf,” sê Ratcliffe.
“Stellenbosch erken die leierskaprol wat dit met klimaatsverandering en sosio-ekonomiese aangeleenthede moet speel. Ons is as Stellenbosch se wyn- en toerisme ekostelsel toegewyd om omgewingsbewaring en sosiale samehorigheid te bestuur en goeie waardes onder al ons aandeelhouers te vestig.”
Ratcliffe meen die effek van die pandemie het weer eens gewys hoe gemeenskappe in krisistye saamstaan. Die bedryf het in die verlede self onbeskryflike krisisse in die gesig gestaar en elke keer die uitdagings aanvaar en oorkom.
Vinpro raam dat inkomste van meer as R2.5bn tussen Maart en Julie 2020 verloor is, waarvan die meeste verliese in die wynproelokale gely is.
Toe Covid-19 in die land aangemeld is, het Stellenbosch onmiddellik ingegryp om ekonomies-kwesbare mense wat in en om die wynlande woon, te help. Van hierdie inisiatiewe was Stellenbosch Unite, waardeur 690 000 mense met 207 000 liter sop en 36 800 kospakkies gevoed is.
Vanjaar het die roetes die skenkings van sorg-pakkies aan personeel in die mediese bedryf, wat verpleegsters, skoonmakers, portiere, sekuriteitswagte, administratiewe personeel, kliniekwerkers en ondersteunende personeel insluit, in die streek gekoördineer.
Stellenbosch was ook die eerste bestemming in sub-Sahara Afrika om die World Travel and Tourism Council-goedgekeurde streng gesondheid- en higiëne veiligheidsriglyne vir gaste en personeel se welsyn in te stel. “As ’n wynroete, lê ons steeds sterk klem daarop om te verseker dat ons wyn- en ekostelsels voortdurend hierdie riglyne onderskryf, vir almal se veiligheid,” sê Ratcliffe.
Die Stellenbosch-wynroetes is gestig deur die nou-bekende vreeslose driemanskap, wat in die 1960’s die status quo waar druiwe aan koöperasies gelewer is om die finale produk te maak, wou verander. Die bedryf is destyds deur KWV beheer en koöperasies het dikwels ’n surplus gelewer. Wingerd-eienaars kon nie wyn onder hul eie etikette verkoop nie.
Tydens ’n reis in 1969 na Boergondië, het Frans Malan (Simonsig) en Niel Joubert (Spier) die bekende Routes des Vins at Morey St. Denis ontdek en die moontlikheid van ’n soortgelyke roete in Stellenbosch raakgesien. Met hul terugkeer, het die twee met Spatz Sperling (Delheim) vergader om die nuwe organisasie te vorm en só is die Stellenbosch Wynroetes amptelik in 1971 gestig.
Groenland, Koopmanskloof, Blaauwklippen, Verdun, Overgaauw, Neethlingshof, Hazendal, Uiterwyk, Muratie, Mooiplaas, Hartenberg en Koelenhof het gou by die drie stigterslede aangesluit.
Met die stigting van die Stellenbosch-wynroetes, is ’n georganiseerde netwerk van wynplase wat proeë – en in sommige gevalle ligte maaltye – aangebied het, gevestig. Die besoeker kon van plaas tot plaas ry en wyne proe en koop. Die drankwette het toe bepala dat wyne in bokse van 12 verkoop moes word.
Vandag het die roete vyf sub-roetes, wat uiteenlopende ervarings in wyn-toerisme bied, van die alles-insluitende luukse wynplase met proelokale, restaurante en akkommodasie, tot klein boetiekwynkelders. Tans het die roete 120 wyn- en druiweprodusente lede, wat binne die Stellenbosch Wyn van Oorsprong-klassifikasie val.
Prestasies om van kennis te neem:
- Die Munskänkarna Sweedse Wynklub wys dit aan as wyndorp van die jaar
- Drinks Business-toekennings: op die kortlys vir beste bydrae tot wyntoerisme
- Kaapse Wynlande se burgemeester toekennings vir toerisme: op die kortlys vir toerismegeleentheid van die jaar en uitmuntende diens
- Kaapse Wynlande se burgemeesterstoekennings vir toerisme: op die kortlys vir toerismegeleentheid van die jaar
- Drie maal wenner van die titel vir beste promosieliggaam in die Drinks International Wine Tourism-toekenning
- Twee maal op die kortlys vir wynstreek van die jaar in die Wine Enthusiast Magazine
Interessante staaltjies
- ’n Kompetisie wat in die 1980’s uitgeskryf is om ’n logo vir die Stellenbosch-wynroetes te vind, het ’n ongewone uiteinde gehad. Baie inskrywings – selfs ses van Duitsland – is ontvang. Die wenner is in 1981 op Stellenbosch-wynroetes se 10de verjaardag aangekondig en die logo in gebruik geneem en as handelsmerk geregistreer. Die wenner was van buite die streek – Stan Black, was waarnemende hoof van die Kaapse Technikon se kunsdepartement.
- Stellenbosch-wynroetes het steeds sy oorspronklike telefoonnommer. In die 1980’s was die nommer 4310, by sy kantore in Pleinstraat 33. Vandag is dit 021 886 4310.
- Suid-Afrika se eerste wynfees is in 1973 in die Stellenbosch-stadsaal in samewerking met die Stellenbosch-fynproewersgilde aangebied.
- Die wynroete se stigterslede was deurslaggewend in die vestiging van die Wyn van Oorsprong-stelsel.
- Frans Malan en sy stigterskollegas van die Stellenbosch-wynroetes het die padowerhede aangedurf en in die laat sewentigerjare is die eerste padtekens vir wynplase goedgekeur.