Stellenbosser finalis vir beste jong boer
‘n Vroulike boer uit die Stellenbosch-omgewing is een van die finaliste in vanjaar se jong boer van die jaar-kompetisie wat deur Agri Wes-Kaap Santam Landbou aangebied word. Die wenner word op Woensdagaand 19 Mei tydens ‘n geleentheid in die Paarl aangekondig en lede van die publiek sal dit aanlyn kan volg.
Jo-andra Cloete Gregory (34), alleen-eienaar van Our Poultry Place op Joostenbergvlakte, is ‘n hoenderboer van formaat en een van die finaliste.
Jo-andra het die besigheid in 2016 sonder enige lenings of toelaes met 100 hoenders in ‘n informele nedersetting begin. Vandag huur sy vyf hektaar grond en verskaf Our Poultry Place 10 000 dagoud kuikens per maand aan opkomende produsente.
Sy sê haar visie is om die voorkeur pluimveeplaas te wees waar alle benodigdhede onder een dak is: van dagoud kuikens tot voer, medisyne en toerusting. Om haar insetkoste te beperk en die omgewing te beskerm, gebruik sy herwinbare materiaal.
“Ek wil ‘n fasiliteringsrol speel om die pluimveebedryf uit te bou. Ek glo daaraan om in ander te belê sodat ons saam sterker kan wees,” sê dié entrepreneur, wat ook as mentor vir opkomende boere optree. Sy werk ook tans aan ‘n projek om vroueboere te bemagtig en soos die besigheid groei, herbelê sy in veiligheid vir die plaas.
Jo-andra is ‘n lid van die Stellenbosch-landbougenootskap en haar medelede is vol lof vir haar deursettingsvermoë. Volgens hulle is sy doelgerig en lewer sy ‘n belangrike produk aan hoofsaaklik die informale mark waar die aanvraag na braaikuikens groot is. Sy is innoverend in haar denke en besluitneming en het deur toewyding ‘n boerdery-onderneming begin wat tot die ekonomiese ontwikkeling van die gebied bydra, meen hulle.
PF Theron, voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, sê hulle is opgewonde om vanjaar weer ‘n jongboer-kompetisie te hê nadat dit verlede jaar op nasionale vlak as gevolg van Covid-19 afgestel is. Die provinsiale wenner sal later vanjaar meeding om die nasionale titel van die Agri SA Toyota SA Jongboer van die Jaar.
Die ander finaliste is Alexander Gibson (31) van Doornkraal Agri in die Witzenbergvallei, Ceres wat al die afgelope 10 jaar met 300 ha appels en 110 ha pere boer en sê hy sal graag vertakkings wil byvoeg om sy risiko te versprei. Die plaas verkoel, verpak en bemark al die vrugte self en volgens Alexander is dit ‘n groot voordeel omdat die produk in hulle hande bly.
Derec Giles (38) boer al 20 jaar met groentesaad, vostruise en skape op Dwarsfontein, Uniondale en het ook ‘n vleisbeesvertakking met kruiskoeie wat hy met Sussex-bulle dek. Hy sê sy visie is om elke vertakking optimaal binne goeie bestuur- en bewaringspraktyke te bedryf.
Hoewel die voortslepende droogte in die gebied ‘n impak op sy boerdery het, fokus hy op beter waterbenutting en beter keuses op weidingsaanplantings om die droogtetoestande te bestuur. “Ek moes al baie planne maak om te oorleef en kompeterend te bly, maar ek bly optimisties oor die toekoms. Ek is ‘n aanhouer en hardwerkend wat graag my kennis deel en help waar ek kan,” sê hy.
Floris Steenkamp (38), boer op Kromfontein, Koue Bokkeveld. Hy boer al vir 19 jaar en is die afgelope sewe jaar die produksiebestuurder op Kromfontein waar appels en pere verbou word. Hy het in 2006 ook sy eie grond by Sutherland gekoop waar hy met basterooie boer.
“Daar is twee goed wat ek verstaan, dit is ‘n vrugteboom en ‘n skaap. Altwee praat met my en ek verstaan hulle,” sê dié bestuurslid van Bewaringslandbou Wes-Kaap. Sy visie vir die toekom is juis om bewaringslandbou as deel van ‘n holistiese, volhoubare en winsgewende boerdery-opset tot voordeel van hul werkers, die natuur en sy gesin te bedryf.
Kleinjan Teubes (30) 2020 boer op Versig, Vredendal met droogdruiwe, wyndruiwe, groente en steenvrugte en is hoofbestuurder van die plaas. In 2017 het hy ook twee hektaar nektariens aangeplant wat tans baie positief lyk.
Die droogte in die Matzikama-distrik het ook ‘n impak, maar Kleinjan sê hy gaan alles wat hy in die droogte geleer het, verder toepas. “Ek soek altyd geleenthede waarop ons kan kapitaliseer, soos die grond wat ek in die droogte gekoop het en wat homself ‘n jaar later betaal. As jy die keuse maak om suksesvol te wees, moet jy die wil hê om dinge te maak werk,” sê hy.
Kleinjan, deel van die Oliphantsherlewing-landbougroep, sê hy wil ‘n 100% volhoubare boerdery bestuur met elke vertakking wat op sy eie bene staan. “Tegnologie speel ‘n belangrike rol in die boerdery en hoe vinniger jy dit inbring, hoe vinniger gaan jy die waarde sien. Ek wil herlewingslandbou ook ‘n prioriteit maak,” sê hy.