PRG laat speke fluit

Paul Roosers vaar goed in eerste bergfietswedren

Meer as 50 Paul Roos-bergfietsryers, geborg deur Hamilton’s Painting, het die naweek deelgeneem in die Spur Schools MTB League #1.

Die byeenkoms is by die Bloemendal-wynlandgoed in Durbanville gehou as deel van die Spur-groep se jaarlikse skole-uitdaagreeks.

Die Spur Bergfiets-skoleliga het ten doel om skole aan te moedig om bergfietsry as amptelike sport deel van die skool se aktiwiteite te maak. Die groep het sodoende reeds ‘n sterk nasionale wedrenformaat by skole gevestig en 4 of meer wedrenne word jaarliks tussen April en September in elke provinsie gehou. ‘n Interskole-finaal bring die seisoen op ‘n hoogtepunt in September ten einde en nagenoeg 500 fietsryers van 60 skole uit verskillende streke ding dan om die kampioenskapstitel mee.

Prysgeld van R10 000 vir die wenskool word in elke kategorie as beloning aangebied in hierdie spanfinaal waar die fokus van die individu na die span verskuif.

By Saterdag se eerste Wes-Kaapse byeenkoms het Paul Roos se leerders weer eens puik presteer.

In die o.14-kategorie het Luca Zietsman tweede geeïndig met Morgan Jones vierde, Rupert Taljaard was tweede in die o.15-afdeling,  in die o.16-afdeling was Hendre de Villeirs vierde en in die o.19-groep was Jonatan van Jaarsveld ook vierde.

Jacques Vermooten, Francois Louw en Jaco Saunders het die foto’s geneem.

Leerders van Paul Roos in aksie in Saterdag se eerste bergfietswedren van die seisoen.
Paul Roos se bergfietsryers het verskeie podiumplekke verower by die eerste Spur MTB verlede Saterdag by Bloemendal.
Paul Roos se bergfietsryers is gereed vir die seisoen wat voorlê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!