PRG redeneer seepglad
Paul Roos se redenaars het vanjaar weer die Radikale redenaars-kompetsie goed afgeskop. Vier leerders het in die Afgrikaans-afdeling A-graderings tydens die eerste rondte in April gekry en drie A+ en een A-gradering in die Engels-afdeling.
Die Radikale Redenaar is die breinbaba van Chantelle de Wet, ’n gepubliseerde skrywer en ’n bekende naam in die kring van redenaars. As onderwyseres het sy al hoe meer die nood gesien vir die ontwikkeling van sprekersvaardighede onder leerders en alhoewel daar reeds redenaarskompetisies was, het slegs enkele kinders die geleentheid gekry om hierby betrokke te raak. Aangesien Chantelle geweet het hoeveel tyd en moeite in ’n toespraak ingaan, het sy besluit om ’n redenaarsfees op die been te bring, al was dit slegs om leerders die geleentheid te gee om te kan praat.
Die Radikale Redenaarsfees (RRF) is vir die eerste keer in 2007 in Pretoria aangebied. In 2008 het die RRF uitgebrei na 4 provinsies en in 2009 is dit vir die eerste keer op nasionale vlak aangebied. Tans is daar deelname in al 9 provinsies. Nuwe kategorieë het ontstaan op aanvraag en die Radikale Leesfees het ook bygedra tot meer leerderdeelname. In 2016 het Chantelle die leisels oorgegee aan Linda Henning en so groei die RRF van krag tot krag.
Die Radikale Redenaar se visie is om aan soveel as moontlik leerders die geleentheid te gee om voor mense op te tree. Beoordelaars moet positief bydra tot die leerders se sprekerspersoonlikhede en kritiek moet opbouend van aard wees. Die Radikale Redenaar streef daarna om die angel uit publieke optrede te haal en kinders se selfvertroue te verbeter. Alhoewel die RRF ’n kompetisie is, val die focus deurentyd op deelname en die ontwikkel van redenaars as lewensvaardigheid. So sal die Radikale Redenaar poog om toekomstige beoordelaars op te lei en onderwysers te betrek by redenaars as buitemuurse skoolaktiwiteit.
Die Radikale Visie berus op die ontwikkeling van maksimum potensiaal van sprekers regoor Suid-Afrika.
Eerste uitdunne
Tydens die eerste uitdunrondtes sal een beoordelaar per lokaal in beheer wees. Die beoordelaar sal deelnemers se graad, naam en kategorie kontroleer. Elke spreker ontvang ’n sertifikaat van deelname waarop die uitslae (simbool) en kategorie ook aangedui sal word. Elke deelnemer sal ook ’n repliekvorm van die beoordelaar ontvang. Hierop sal motiverings en opbouende kritiek neergepen word.
Streeksfinaal
Na afloop van al die eerste uitdunrondtes in ’n streek sal elke beoordelaar se topsprekers in elke afdeling deurdring na die volgende rondte. Elke beoordelaar se persoonlike voor- en afkeure verskil en een beoordelaar se 90% is nie noodwendig dieselfde as ’n ander beoordelaar se 90% nie, en dit gee elke deelnemer ‘n regverdige kans. Indien daar nog plekke oop is, sal nog deelnemers genooi word. Aangesien dieselfde beoordelaars gebruik word, maak dit eenvormigheid en standarisering makliker.
Nasionale finaal
Die nasionale finaal word in Oktober in Pretoria aangebied. Sprekers moet in hul spesifieke sessie deelneem om te kan wen. Daar sal ’n minimum van twee ervare beoordelaars per lokaal wees en die wenner en naaswenner sal direk na afloop van die sessie aangewys word. Sprekers se tyd sal wel geneem word en sprekers sal gepenaliseer word, en 3 punte sal afgetrek word vir die 1ste minuut oor die tyd, en daarna 1 punt vir elke minuut. Sprekers wie se toesprake te kort is, sal gepenaliseer word met 3 punte.
Beoordelaars se besluit is finaal en geen veranderinge sal hieraan gemaak word nie.
Uitslae
By Paul Roos het Jacobus Steenkamp, Louw Smith, Jo van Rooyen en Willem Visagie in April vanjaar aan die 15de RRF deelgeneem. Hierdie vier talentvolle redenaars het PRG se naam hooggehou deur om al vier A-graderings (85-90%) vir hul toesprake in te palm.
Vier leerders het ook in die aanlyn Engels-afdeling meegeding. Uitstekende resultate is deur Deacon Senekal (A+), Thomas Mullineux (A+), Jack Vlismas en Liviwe Sotashe (A) behaal.
Foto v.l.n.r: Willem Visagie, Jacobus Steenkamp, Brink Nelson, Louw Smit en Jo van Rooyen
left to right, row 1: Deacon Senekal (A+) and Thomas Mullineux (A+). Row 2: Jack Vlismas (A+) and Liviwe Sotashe (A).