Bekende ‘man-met-die-hoed’ sterf
Danie Keet
‘n Bekende gesig in die strate van Stellenbosch het vroeër vandeesweek vir altyd verdwyn – die 69-jarige Johan Streicher, die man met die leerhoed wat vir dekades ‘n instelling op die dorp was, ook omdat hy in ‘n mobiele woonwa naby Paul Roos gebly het, is vermoedelik aan ‘n hartaanval dood.
Bennie Stander, bekende atleet en jarelange vriend van Streicher, het vertel dat die omstandighede van sy dood nog ietwat duister is en dat hulle nie presies seker is wanneer Johan oorlede is nie.
“Johan was nog Maandagmiddag omstreeks 17:30 hier by Runner’s Edge, maar daarna het ek hom nie weer gesien nie. Dinsdagaand, 8 Junie, het ek bekommerd geraak en toe hy Woensdag 9 Junie weer nie opdaag of antwoord gee nie, het ons begin soek. Ek het toe nog gedink hy is saam met sy suster, Therese la Rouviere.
“Ons het hom herhaaldelik gebel – ek en ‘n ander groot vriend, Chris Wagner, maar ons kon hom nie opspoor nie. Ons het begin soek, nadat hy Bramptons in Kerkstraat teen ongeveer 20:30 verlaat het na sy gereelde kuiertjie daar. Hy het ook nie die volgende oggend sy gebruiklike verskyning by of my of Chris gemaak nie en ons het begin bekommerd raak. Maar al ons pogings om met hom kontak te maak was onsuksesvol. Die polisie het ook nie veel gehelp nie en dit was eers nadat ons ‘n saak van ‘n vermiste persoon aanhangig gemaak het dat pogings aangewend is om Johan op te spoor. Esther Groenewald, Stellenbosse stadsraadslid, het ons ook in ons pogings bygestaan.”
Johan was ‘n bekende gesig op die dorp en het die mense se verbeelding aangegryp met sy ietwat eksentrieke gewoontes en omdat hy in ‘n mobiele huis naby Paul Roos Gimnasium gebly het. Hy het ook altyd ‘n rooibruin leerhoed gedra en het met almal geselsies aangeknoop.
Johan is op Colesberg in die Karoo gebore en het onder meer in die Laerskool Totius en die Rondebosch Hoër Seunskool skoolgegaan. Hy het vir ‘n wyle aan Maties gestudeer, maar sy kwalifikasie aan die Grootfontein Landboukollege behaal.
“Johan was versot op sport – en het vir Maties rugby en krieket gespeel en het ook vir die Vics op skrumskakel uitgedraf. Hy het later die Noordoos-Kaap se provinsiale span gehaal en het in 1976 saam met die legendariese Mannetjies Roux teen Andy Leslie se All Blacks gespeel. Sy direkte teenstander was die ewe bekende Maori-skrumskakel Syd Going. Johan het altyd vertel hoe Going hom uitoorlê het toe hy ‘n drie tussen sy bene deur gedruk het. En ook hoe hard Mannetjies Roux hom ‘getackle’ het.”
Johan se groot liefde was tennis en hy het met groot name in wêreldtennis kontak gehad. Hy was ook ‘n bewese tennisafrigter en het by Van der Stel en Paul Roos afgerig.
Bennie vertel dat hy baie in sy afrigting by Maties-atletiek belanggestel het en sy atlete aangemoedig het – ook as hulle by sy winkel aangedoen het. Johan self het ook elke dag by sy sportklerewinkel kom inloer.
“Ons het land en sand gesels. Hy was ’n joviale mens en het sommer mense wat buite die winkel was, ingenooi en met hulle begin gesels. Hy het baie vir ander omgegee en sou enigiets vir hulle doen. Ek het goediglik na om as my ‘butler’ verwys omdat hy altyd gewillig was om my te help en takies te doen. “
Johan se skoonsuster, Therese Streicher, het vertel dat Johan eintlik maar ‘n swerwer was.
“Hy het mense geniet, het gehou daarvan om oral in die dorp koffie te drink, tennis te speel en net ‘n reisiger te wees. Hy het mense met raad en daad probeer help en hulle ook met hul besighede bygestaan. Sy lekker stories en baie grappies sal ons baie mis,” het sy vertel.
Johan was voorheen getroud en het ‘n seun, Danny, wat in Pretoria woon.
Chris Wagner het gesê dat ‘n gedenkbyeenkoms eerskomende Sondag by Bramptons vir Johan gehou word.
Bennie Stander het hierdie ode aan sy ontslape vriend geskryf:
Man met die hoed
Bennie Stander
Almal ken jou hier …
Om en om het jy gestap
Soms net geloop
Soos water stadig oral gevloei …
Jou Stuiwer nie teruggehou
Maar ook nie sómmer!
Privaat was jy ook
Het húl jou rerig geken?
Die jong seun van Boston …
Eintlik van Richmond inni Karoo
Sportman van Rondebosch High
Wee Pee se strepe ook gedra
Grootfontein se Landbou Prim
Maar eers n wyle n Matie …
Nié juis met Dok C saamgestem!
Teen Allblack en Franse gemeet
Syd Going het jou op kop gevryf
Mannetjies Roux jou hard gelak!
Land en Wêreld getoer
Tennis was vir jou n passie …
Maar hét hul jou geken?
Op Swellendam gesport
Lief vir Geelbeksfontein en Karoo
Skaap ook geboer
En Pa geword …
Trots ook op jou seun!
N eerlike man gesteld op die reg
Altyd ander aangemoedig …
Máár het hul jou geken?
Die hulpvaardige …
Die goedhartige …
Die denker …
Die grapmaker …
JJ, die man met die hoed
Óns het mekaar geken …
‘Kaspaas’ het jy met jouself gespot!
Rus in vrede, Ek gaan jou mis!
B.S. 15.06.21
Baie jammer rus in vrede
Stellenbosch se middedorp gaan leeg voel sonder hierdie besonderse mens! Ai dis hartseer – ‘n legende in eie reg…
I remember Johan from back in 1983/4/5. I worked at Bakoven in Trust Bank centre. He came in for coffee every day. Likeable + funny man. Condolences to family.