Samewerking versterk besigheidsgroei vir ondernemings in swart besit
Die Suid-Afrikaanse Wynindustrie Transformasie-eenheid (SAWITU) het die eerste stap geneem om ‘n volhoubare toekoms vir ondernemings in swart besit te verseker.
Die ondertekening van ‘n huurooreenkoms met die Landbounavorsingsraad (LNR) verseker ruimte in die Nietvoorbij-kelderkompleks vir die ontwikkeling van ‘n eerste-van-sy-soort handelsmerktuiste vir ondernemings in swart besit.
Dis belangrik om geleenthede vir klein en medium ondernemings te ondersoek deur die bestaande bates en infrastruktuur van openbare entiteite (en ander staatsinstellings) te gebruik.
Volgens die voorsitter van die LNR-raad, Joyene Isaacs, is die ooreenkoms ‘n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word deur ‘buite-die-boks’ te dink en ‘n vennootskap tussen die wynbedryf en die LNR wys wat gedoen kan word.
“Die opgradering van die Nietvoorbij-kelderkompleks het ‘n waardevolle geleentheid vir SAWITU en die LNR gebied om saam te werk om te help met die effektiewe en versnelde transformasie van die wynbedryf deur opleiding, navorsing en kapasiteitsontwikkeling. Ons is inderdaad baie opgewonde om hierdie historiese reis te onderneem, kennis te deel en van mekaar te leer – om beide groei in die wynbedryf moontlik te maak en om die breër Suid-Afrikaanse samelewing te bevoordeel”, sê Isaacs.
“Hierdie tipe inisiatiewe sal transformasie, ondernemingsontwikkeling en vaardigheidsontwikkelingsteikens in die wynindustrie dryf,” sê Tshililo Ramabulana, voorsitter van SAWITU.
Die wynproe- en kelderkompleks is onlangs opgeknap en omskep in ‘n moderne, multifunksionele fasiliteit wat SAWITU se visie vir die handelsmerktuiste eggo. Alhoewel dit op dieselfde perseel gehuisves word, sal die handelsmerktuiste ‘n unieke etos en kultuur hê wat met die entrepreneurs wat hierdie fasiliteit sal gebruik, resoneer.
Die meerderheid wynhandelsmerke en entrepreneurs in swart besit het nie ‘n plek om hul eie te noem en ‘n plek wat hul identiteit weerspieël nie. Deur samewerking met die LNR, skep SAWITU daardie ruimte vir hulle,” sê Wendy Petersen, die operasionele bestuurder.
Waar twee wêrelde ontmoet
“Wat ons die meeste tot die lokaal aangetrek het, is die ligging,” sê Petersen. Stellenbosch is ‘n gewilde toeristedorp en is bekend vir sy gevestigde wynroete en geskiedenis. Dit gee ons opkomende wynhandelsmerke en entrepreneurs ‘n groter besigheidsvoordeel, anker hulle in ‘n agritoerisme-omgewing en maak hulle deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se geskiedenis.”
Die historiese gebou waarin die nuwe handelsmerktuiste geleë sal wees, word omring deur pragtige wingerde en kyk uit oor die plaaslike gemeenskap en nabygeleë nedersetting (township). Dit vertoon twee wêrelde wat so verskillend is, tog bestaan dit in dieselfde ruimte.
Fondament
”Ons glo dat die sukses van hierdie inisiatief op ‘n stewige grondslag gebou is,” sê Petersen. “Dit was ook baie belangrik dat ons die verwagtinge van die entrepreneurs bestuur en dat ons almal die teikens en aflewerings verstaan.”
SAWITU het die afgelope twee jaar die geskikste verskaffers en diensverskaffers gewerf en ooreenkomste is met hulle gefinaliseer.
Die organisasie het tyd geneem om die rolle en verantwoordelikhede van al die rolspelers uit te klaar, prestasie-aanwysers en meetbare teikens vas te stel en om die entrepreneurs wat voordeel sal trek uit die aanvanklike fase van hierdie sakemodel, te asseseer.
Petersen sluit af “Daar is nog baie werk wat gedoen moet word voordat die handelsmerke kan intrek en begin handel dryf, maar ons is opgewonde om so ver te kon kom en sien uit daarna om die volgende ontwikkelingsfase te loods.” Hierdie inisiatief vervul ‘n sleutel belangrike rol om die speelveld van bemagtiging vir handelsmerke in swart besit in die wynbedryf te verander.
- Die SA Wynindustrie Transformasie-eenheid
Die SA Wynindustrie Transformasie-eenheid is ‘n sentrum van uitnemendeid in die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat fokus op die bemagtiging en bevordering van swart rolspelers oor die hele wyn- en brandewynwaardeketting.