US Woordfees verleng vir jou plesier!

Fees voort tot 10 Oktober

Op grond van die groot aanvraag na herhalings van programme wat sedert 1 Oktober op Woordfees TV uitgesaai is, het DStv besluit om dié opwipkanaal drie dae langer op die lug te hou.

Die 2021 Toyota US Woordfees sou landwyd en in Namibië van 1 tot 7 Oktober 2021 op DStv-kanaal 150 en GOtv-kanaal 15 plaasvind. ’n Seleksie van gewilde inhoud sal nou ook van 8 tot 10 Oktober in nuwe tydgleuwe herhaal word.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW-projek, is verheug oor dié verwikkeling: “Ons is oorval met positiewe terugvoer van dankbare en meelewende kykers. Die TV-fees sal nooit die spontane saamwees van ’n tradisionele fees kan vervang nie, maar die model maak die fees beslis meer toeganglik vir ’n groter gehoor. Weens die beperkte tydsduur kon ons baie gehalteprogramme net een of twee keer uitsaai, en die ekstra dae bied geleentheid vir meer mense om dié aanbiedings te ervaar.”

Die programskedule vir die verlengde TV-fees sal teen Donderdag 7 Oktober 15:00 op woordfees.co.za beskikbaar wees. Die nuwe dagprogramme sal ook op die Woordfees se sosialemediaplatforms gedeel word. As jy onseker is hoe om op Woordfees TV in te skakel, klik hier.

Groot wenner

Die 22ste Toyota US Woordfees is vanjaar op ’n opwip-TV-kanaal aangebied – vandaar die feestema, “Iets anders”. Die 2021 US Woordfeeskortverhaalbundel, wat die feestema as titel het, is daarom ook 4 Oktober op Woordfees TV (DStv-kanaal 150 en GOtv-kanaal 15) bekend gestel. Die algehele wenner van die kompetisie is by hierdie geleentheid aangekondig. Du Toitskloof Wyne het ’n vyfde maal die prysgeld van R30 000 geborg, wat oorhandig is aan Coen Basson vir sy wenverhaal, “Eenzaamheid”.

Vir vanjaar se bundel, die sesde in die reeks, is 288 inskrywings ontvang. Die ander 23 skrywers wie se verhale ook in die bundel opgeneem is, ontvang elkeen R5 000 van Du Toitskloof en die US Woordfees.

“Met die meeste vorige bundels het daar ’n dominante tema of temas na vore gekom, maar vanjaar was dit interessant genoeg nie die geval nie. Daar is wel verhale met Covid-19 as onderwerp, maar dit oorheers glad nie te midde van ’n wye verskeidenheid temas nie,” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is. “Soos met ál die vorige bundels was die gehalte hoog en dit moeilik om net 24 kortverhale en ’n uiteindelik wenner te kies.”

Klik hier om te sien watter skrywers die 2021-bundel gehaal het.

Die ander twee beoordelaars saam met Kotzé-Myburgh was Valda Jansen en Marius Swart.

Gerda Taljaard is die enigste skrywer wat ’n sesde agtereenvolgende keer in die bundel opgeneem is.

Iets anders sal binnekort aanlyn bestel kan word. Belangstellendes wat graag die bundel wil aanskaf, kan hierdie vorm invul. Hulle sal dan in kennis gestel word sodra die 2021-kortverhaalbundel beskikbaar is.

Vier-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die nuwe US Woordfeeskortverhaalbundel. Dié kortverhaalbundel, wat sedert 2016 jaarliks gepubliseer word, se titel is altyd dieselfde as die feestema, en omdat die fees vanjaar vir die eerste maalop televisie utigesaai is, is dit boek se titel ook “iets anders”.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, is opgewonde oor die volgehoue belangstelling in die feesbundel: “In hierdie moeilike jaar het ons verlang na gemeenskap en gesprek. Die feit dat ons soveel inskrywings vir ons kortverhaalbundelkompetisie ontvang het, onderstreep hierdie feit. Vanjaar besef ’n mens deeglik dat die US Woordfeeskortverhaalbundel ’n warm en kosbare uitnodiging tot verdere nadenke en gesprek is.”

Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof Wyne, beklemtoon ook die rol wat stories in ’n gemeenskap speel: “Goeie stories word gedeel om die tafel. Dit is hierdie tafel wat vir Du Toitskloof nog altyd ’n plek was waar mense bymekaar kan kom om ’n glasie te kan klink op mekaar. Geluk aan al die talentvolle skrywers wie se kortverhale opgeneem is in die bundel en dankie ook aan elkeen wie hul storie ingeskryf het.”

Die lys van skrywers wat in die 2021 US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:

  1. Coen Basson
  2. Karien Brits
  3. Dan du Plessis
  4. Illona Edwards
  5. Ryno Eksteen
  6. Brian Fredericks
  7. Audrey Jantjies
  8. Tarina Jordaan
  9. Lynthia Julius
  10. Sisca Julius
  11. Anna Kemp
  12. Jennie Kruger
  13. Karen Loots
  14. Isabel Martinson
  15. Michèle Meyer
  16. Estelle Nagel
  17. Wessel Pretorius
  18. Deborah Steinmair
  19. Adriaan Steyn Hendricks
  20. Amorine Strydom
  21. Gerda Taljaard
  22. Jaco van der Merwe
  23. Madeleen Welman
  24. Jelleke Wieringa

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!