Meester van Zef-Modernisme, Koos Kombuis, hou solo-uitstalling op Stellies

Omstrede Afrikaanse musiek-ikoon stal unieke kunswerke uit

Koos Kombuis se eerste solo-kunsuitstalling word eerskomende Saterdag, 9 Oktober, om 11:00 by Rayvolt in Birdstraat op Stellenbosch gehou.

Die kunstenaar, sanger, liriekskrywer, kommentator en rubriekskrywer het geen bekendstelling onder Stellenbossers nodig nie en sy musiek is legendaries. Hy is al sedert die 1980’s ‘n ikoon op die Afrikaanse kunstoneel. Gebore op 5 November 1954 en na vele omswerwinge deur die land, het hy al verskeie digbundels, romans en ’n bundel korrespondensie gepubliseer. Sy outobiografie,Seks & drugs & boeremusiek het by Human & Rousseau verskyn. Sy deelname aan die Afrikaanse musiekrebellie of die Voëlvry-beweging, is ewe legendaries.

Ons het ‘n vinnige vraag- en antwoord-sessie met Koos gehad ter voorbereiding van Saterdag se uitstalling. Maak gerus ‘n draai in Birdstraat.

Wanneer het jy begin skilder?

Ek teken graag prentjies van kleins af, maar ek dink my liefde vir kuns het ernstig ingeskop toe ek as hoërskoolkind klasse bygewoon het by die P.J. Olivier-sentrum! Ek was veral mal oor kunsgeskiedenis. Dis nie te sê dat ek van jongs af belofte getoon het nie. My kunsonderwyser het een dag verby my gestap waar ek besig was om ‘n vreeslike gemors met waterverf aan te vang, toe sê hy vir my: “André, hierdie is nie ‘n stillewe nie, dis ‘n stil dood.”

Wat is nou eintlik jou regte naam? Of watter naam verkies jy?

Dis vir my moeilik om te verduidelik hoekom ek soveel verskillende name en skuilname het. Daar is ten minste drie wat ek nou gereeld gebruik: ek is André wanneer ek sosiaal verkeer, ek is Koos wanneer ek sing of skryf, en wanneer ek oorslaan na Engelse rubrieke of novels word ek Joe Kitchen. Ek hoop ek is okei, want hulle sê dis ‘n kenmerk van “borderline personality disorder” as mens aanhoudend jou naam verander. Ek dink dis dalk eerder ‘n normale soeke na identiteit. Ek het eenmaal ‘n “band:” gehad en ons het ons naam meer dikwels verander as Fokofpolisiekar. Op ‘n stadium het ons ‘n nuwe naam uitgedink vir elke show! Maar ek sal probeer om van nou af net by twee of drie te bly voordat ek mense nog verder verwar!

Wat verkies jy: sing, skryf of skilder?

Ek dink ek verkies skryfwerk. Sing en skilder voel vir my soos lekker stokperdjies, al behaal ek soms sukses daarmee! Eintlik het die visuele kunste eers werklik na vore getree in my lewe hier by 2018 se kant. Min het ek geweet dit sou my tydens die pandemie red van finansiële ondergang…

Met ander woorde jy sou dalk nooit jou kuns-talent ontdek het as dit nie vir die pandemie was nie?

So vanaf 2018, 2019 se kant het ek ontdek dat mense dit geniet as ek vir hulle geïllustreerde lirieke doen, met ander woorde, ek skryf die woorde van iets soos “Lisa se Klavier” op ‘n stuk kunspapier, maak ‘n tekeninkie by en sit ‘n boodskappie op, dan verkoop ek dit vir R1000 of R1500! Toe, ewe skielik, strike die Virus ons, al my shows word gekanselleer, en oornag is ek totaal afhanklik van my inkomste hieruit! Dit was toe dat ek besluit het om ‘n behoorlike aanlyn-kuns-promosie van stapel te stuur. Een ding het gelei na ‘n ander. Eers het ek begin eksperimenteer met sogenaamde “celebrity cartoons”, later met abstrakte werke, en kyk hoe lyk ek nou! Ek het sommer my eie solo-uitstalling in die hartjie van Stellenbosch, skaars ‘n blok weg van die P.J. Olivier-sentrum waar alles begin het!

Wat doen jy vir inspirasie?

My abstrakte werk het een dag heeltemal toevallig begin toe ek in my studio besig was om op ‘n jembe-drommetjie te speel. Skielik het ek ‘n prentjie in my verbeelding gesien. Dit was nie ‘n prentjie van iets nie, dit was net sulke vlakke en strepe. Ek gryp toe ‘n kwas en verf en probeer skilder wat ek sien. En die volgende oomblik kom kuier iemand by my en hy wil dit sommer koop! Ek was stomgeslaan van verbasing.

Dink jy jou onderbewuste het ‘n invloed op wat jy teken of skilder?

Ek dink die lekker ding van visuele kuns is die feit dat woorde nie ‘n rol speel nie. As ek skryf, skep ek tonele met woorde, of ek dink oor begrippe. My liedjies het woorde wat rym. Maar ek kom al hoe meer agter daar is dinge wat ek probeer uitdruk wat woorde nie kan vasvang nie. Dis dan wanneer ek gryp na ‘n kwas of ‘n pen.

Waar kom die idee van Zef-Modernisme vandaan.

Op ‘n stadium moes ek ‘n naam uitdink vir my styl. Dis iets wat ek in kunsgeskiedenis geleer het, elke styl moet ‘n naam hê. As daar nie ‘n “isme” by is nie, tel dit nie. Ek het geweet my stuff is nie heeltemal modernisties nie, en ook nie so goed dat mens dit kan vergelyk met Rêrige Groot Kunstenaars soos Picasso of Van Gogh nie. Boonop het baie van my werk ‘n kommen element in, of ‘n element van banale humor. Een dag, terwyl ek weer by P.J. Olivier verby-ry, en ek dink na oor hoe alles begin het, skiet die naam “Zef-Modernisme” in my kop in. Nou het ek eindelik my eie “isme”! En ek noem myself sommer “die vader van Zef-Modernisme”! En daar gaat ek! Eendag skryf hulle dalk iets hieroor in toekomstige kunsgeskiedenis-handboeke!

Koos Kombuis,die vader van Zef-Modernisme, hou Saterdag ‘n solo-uitstalling by Rayvolt in Birdstraat.
Ek dink die lekker ding van visuele kuns is die feit dat woorde nie ‘n rol speel nie.
“André, hierdie is nie ‘n stillewe nie, dis ‘n stil dood.”

One Reply to “Meester van Zef-Modernisme, Koos Kombuis, hou solo-uitstalling op Stellies”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!