Koop jy ‘n gebruikte voertuig?
Met motorpryse wat hemelhoog is, en daarmee saam ’n brandstofprys wat ‘n mens tot raserny wil dryf, is daar tog uitkoms vir verbruikers wat ‘n ander voertuig soek.
Gebruikte motors is ideaal, veral in tye van ekonomiese druk soos wat soveel verbruikers tans ervaar.
Die vraag is altyd, wat is ‘n goeie gebruikte voertuig?
Kallie du Toit, eienaar van Albert de Dion Motors in Bellville, meen ‘n goeie gebruikte voertuig is so goed soos die vorige eienaar na die voertuig omgesien het. Maar dit hang van die koper en die handelaar met wie daar onderhandel word af of dit ‘n transaksie sal wees wat albei partye tevrede stel.
“Wanneer jy ‘n gebruikte motor koop, is dit belangrik om by ‘n betroubare handelaar te koop om te verseker jy koop ‘n wettige hoëgehalte-voertuig. Dit is ook noodsaaklik om ‘n basiese agtergrondondersoek te doen om te verseker die motor is nie gesteel nie,”meen Du Toit.
‘n Gebruikte motor kan nog binne ‘n diensplan val en ‘n mens gaan dan goedkoper betaal aangesien die motor reeds van sy waarde verloor het, terwyl dit in die vorige eienaar of eienaars se besit was.
“Baie gebruikte motors het goeie herverkoopwaardes. Doen jou huiswerk om uit te vind watter opsies jou beter sal pas.
“‘n Motorhandelaar, besigheid of ‘n privaat persoon, wat die koop of verkoop van voertuie as ‘n stokperdjie bedryf of voertuie as by-inkomste verkoop, is almal handelaars van gebruikte voertuie. Hulle moet egter bewys kan lewer dat die persoon of instansie nie ‘n eenmalige transaksie gedoen het nie.”
As die persoon of instansie wat gebruikte voertuie verkoop hom as handelaar voorhou, moet so ‘n persoon of instelling beskou word as ‘n kenner op die gebied en moet hulle te alle tye verantwoordelikheid aanvaar vir latente gebreke op ‘n voertuig
By latente gebrek word bedoel dit wat fout is en wat die koper nie met die blote oog kon waarneem nie, ongelukskade of meganiese skade. Kosmetiese skade word uitgesluit omdat dit ‘n gebruikte voertuig is en kleiner dinge kan breek. Selfs op ‘n nuwe voertuig word slegs een jaar waarborg gegee, maar indien bewys kan word dat die betrokke onderdeel nalatig beskadig is, sal die fabriek ook nie die waarborg eerbiedig nie.
“As jy egter voel jy is onregverdig benadeel in die aankoop van ‘n gebruikte voertuig, is daar twee opsies wat die koper sonder onkoste het.
“Die ombudsman is ‘n aangestelde amptenaar of instansie met gesag om ‘n individu se klagte teen ‘n onderneming of organisasie te ondersoek. In wese is sy rol om ‘n oplossing te vind en die konflik tussen partye te vergemaklik deur advies en bemiddeling aan te bied.
“Wat selfs beter is, die diens is gratis, wat uitstekende nuus is vir diegene wat dalk nie die finansiële middele het om geregtigheid in die hof te soek nie.
“Die tweede opsie is die Kleinhandel Motorbedryf Organisasie, ook bekend as RMI. Die RMI is die grootste werkgewers- en sakeverteenwoordigende organisasie in die Suid-Afrikaanse kleinhandelmotorbedryf met 7 500 lidondernemings wat alle sektore van die kleinhandel-motorbedryf sowel as die voertuigbou- en komponentvaardigingsektore dek, en om die belang van lede en verbruikers te bevorder, te beskerm en aan te moedig deur behoorlike diensstandaarde en etiese handelsvoorwaardes daar te stel en te handhaaf. Hierdie diens is ook gratis.
“Daar is egter die nadeel dat indien so ‘n organisasie of persoon nie ‘n lid van die RMI of Ombudsman is nie, dit ‘n lang uitgerekte proses kan word,” sê Du Toit.
Volgens Du Toit stel die verbruikerswet sekere verpligtinge en verantwoordelikhede voor, maar met gebruikte items gaan die koper nie sonder regsadvies en -kostes die probleem oplos nie.
Die versoeking van ‘n winskoop gaan altyd daar wees, maar het in die meeste gevalle ‘n skuiwergat.
Beperk risiko’s so:
- Skakel al die vernaamste finansieringsinstellings en kry ‘n verwysing
- Laat die voertuig deur die AA (Automobiel Assosiasie) nagaan en kry ‘n verslag. Hierdie diens is nie gratis nie en gaan kostes afhang van die tipe voertuig en omvang van die ondersoek.
- Kry ‘n kundige om saam met die voertuig na te gaan.
Tot volgende keer, hou hierdie spasie dop vir meer algemene inligting.
Motor van die week
- 2015 VW Amarok 2.0 BiTDi Highline 132kw A/T D/Kajuit
- 128 963 km met volle diens rekord by VW-agente
- Hierdie voertuig het ook die volgende ekstras wat deur VW gemonteer is:
- Raakskerm radio
- “off road” waterdigte sitplekoortreksels
- “Stage one mapping” gedoen deur VW wat die voertuig se vermoë opskuif na 155 kilowatt
- V6 VW Allooiwiele ter waarde van R24 000
Prys: R359 995
Bel vir Kallie du Toit by 082 881 4104 vir meer besonderhede.