Koos Kombuis – ‘dis lekker as mense verstaan’

Koos ontdek homself by solo-uitstalling

“Saterdag 9 Oktober was die dag toe my lewe verander het. Dit was die dag toe ek ‘n nuwe perspektief gekry het op wie ek is, wat ek wil doen, en hoekom ek op hierdie aarde is.”

Dit is die woorde van die vermaarde Afrikaanse sanger, liriekskrywer en kunstenaar, Koos Kombuis, na sy eerste solo-kunsuitstalling by Kingsbridge Artr in Birdstraat.

“Omtrent my hele lewe lank was ek bekend as ‘n sanger en ‘n skrywer. Eintlik is ek ‘n beter skrywer as sanger, want ek speel nie vreeslik goed kitaar nie, en die sing-ding het so half per ongeluk gebeur. Maar nou het daar nog ‘n per-ongeluk-ding gebeur… iets anders wat ek doen het meteens erkenning begin kry.

“Groot was my verbasing Saterdag toe Kingsbridge Art toe daar sommer byna dadelik sewe kunswerke verkoop! Nie net dit nie, ‘n klomp mense het opgedaag en almal het baie positiewe dinge te sê gehad. Ek het dit glad nie verwag nie,” sê hy.

Koos vertel dat hy al sy lewe lank prentjies teken vir ‘n stokperdjie het hy eers die laaste drie jaar werklik aandag daaraan gegee. Hy weet van talle kunstenaars, baie van hulle in sy vriendekring alleen, wat al baie verder op die pad is as hy en wie se tegnieke meer ontwikkeld is.

Dalk was dit ‘n geval van ‘Beginners’ luck”?

“Wat my veral goed laat voel het, was Heinz Modler se toespraak wat hy gemaak het om my uitstalling te open. Nou, vir die wat dit nie weet nie, Heinz is nie slegs ‘n bekende in die media en literêre wêreld nie, hy is ook self ‘n beeldende kunstenaar wat al baie langer as ek hoogs gerespekteer is vir sy werk. Ek het baie respek vir sy insig.”

Heinz het iets laat val in sy praatjie wat Koos gehelp het om homself beter te verstaan.

“Ek het vir die eerste keer werklik verstaan hoekom ek onder verskillende name werk, en dat my doopnaam, ‘André’, eintlik ook die naam is van die kunstenaar in my, al is ek meer bekend as Koos, die liedjieskrywer,” het die sanger-liedjieskrywer gesê.

“Wanneer Koos verf, is ons terug by Koos Kombuis. Jy kan jouself nie verhelp om te glimlag nie. Sy werke is vriendelik, gemoedelik en kleurvol. Dit sal egter dwaas wees om van die André te vergeet. Koos het hier vir ons ‘n allegaartjie van werke opgedis. Elkeen met sy eie smaak en kleur. Met elke werk wil André ook iets met ons deel… Koos is ook André. En soos die donker kant van die maan, deel Koos sy André met ons,” was Modler se woorde.

“Nou ja. Dis lekker as jy die gevoel kry daar is mense wat verstaan. Want met hierdie werke het ek werklik soms iets probeer deel wat minder oppervlakkig is as die rymelary en grappies wat ek al so lank al pleeg. Wat sê Don McLean nou weer? “Perhaps they’ll listen now…” ,” het Koos afgesluit.

Kombuis se werke is geraam en gehang deur Kingsbridge Art. Sy uitstalling kan nog besigtig word in Rayvolt se bekende fietswinkel in Birdstraat 6-8, Stellenbosch, tot in Desember 2021. Gou maak, die goed verkoop vinnig!

Hanine van Deventer, Koos Kombuis en Heinz Modler.
Koos het sommer ook ‘n paar liedjies gesing.
Heinz Modler lewer die openingstoespraak.
‘n Jolige affêre -die opening vanKoso Kombuis se eerste solo-kunsuitstalling by Kingsbridge Art in Biodstraat.
Tiaan van Deventer, Koos Kombuis en Hanine van Deventer by die opening van Koos se eerste solo-kunsuitstalling.
Johan Coetzee uitgewer van Naledi by die kunsuitstalling.
Koos Kombuis, Christelle Cronje en Johan Coetzee van Naledi by die uitstalling van Koos se kunswerke.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!