Zola Budd-Pieterse ook op baan
Jerry Motsau het sy Dagbreek-straatmyltitel verlede week suksesvol verdedig met ‘n wentyd van 4:07.22 en gewys hoekom hy tans nr 1-atleet in die 1500m in Suid Afrika is.
Die groot hoogtepunt was egter die deelname van Zola Budd-Pieterse an die prestige-geleentheid. Sy het die meestersafdeling vir vroue gewen. Sy is nog steeds die SA-rekordhouer vir die vroue-myl met ‘n tyd van 4:23.38 wat sy in 1991 in Port Elizabeth opgestel het.
Die enigste droommyl (myl onder 4 minute) van die aand is opgelewer deur Joshua Coelen in die skaatsplank-afdeling met ‘n wentyd van 3:58. 02
Die verdubbeling van getalle in die skole-afdeling het duidelik gewys dat atlete honger is vir deelname en bly is oor die verslapping in die Covid-reëls. Daar was atlete van die Strand, Stellenbosch, Kayamandi, Paarl, Worcester en Milnerton. Danksy die gewildheid van die geleentheid, oorweeg die organiseerders om in 2022 ‘n derde skole-wedloop by die program te voeg.
Die aand het op ‘n hoogtepunt begin met die oorwinning van Ruchen Blaauw van UWK in die seuns o.19-wedloop. Sy tyd van 4:16.13 is vinniger as die wenner van die pretmyl-afdeling en sou hom 5de in die ope-afdeling geplaas het. Die ope damesafdeling is gewen deur Yandi Shane in ‘n tyd van 5:02.3.
In die tweede plek was Kobie Griffiths, wat dieselfde dag haar nasionale kleure in die meesters-afdeling gekry het.
Die pretmyl-afdeling was ‘n tweemanwedloop tussen Lambert Brink en Charl Cronje, met brink wat uiteindleik as die wenenr geseëvier het. Sy wentyd was 4:27.72. Die eerste Dagbreker was Nicolas de Wet. Die studente het weereens gesorg vir ‘n feestelike atmosfeer in hul kostuums en manewales.
Dit was die grootste Dagbreek-straatmyl tot dusver en het gewys dit is een van die hoogtepunte op die SA atletiek kalender.






