Groot stem-wins vir DA
Stellenbosch is steeds onder DA-beheer nadat die party ‘n volstrekte meerderheid in die afgelope plaaslike regeringsverkiesing verower het.
Die DA het altesaam 60,98% van die stemme op hom verenig. Dit was ook ‘n toename van 11,9% in vergelyking met die stemme wat in 2016 vir die party uitgebring is.
Die ANC was weer die party met die tweede meeste stemme,16,25%, maar het ‘n ernstige daling van 25,96% in vergelyking met 2016 getoon.
Die GOOD-party was waarskynlik die party wat die meeste stemme weg van die DA getrek het en het 6,15% van die stemme op hom verenig.
Die DA het altesaam 52 745 stemme getrek, die ANC 14 055 en die Good-party 5 319. Daarmee het die DA 28 setels op die munisipale raad verdien, die ANC 8, GOOD 3, die EFF 2 en een elk vir die VF+ en die PA. Dit is waarskynlik die einde van ‘n era vir Franklin Adams van die DNCA wat vir baie jare as opposisielid ‘n doring in die vlees van die stadsraad was. Tesame met wyle Derick Hendrickse van die EFF, wat verlede jaar aan Covid-19 beswyk het, het hulle ‘n belangrike rol as opposisielede gespeel. Die DNCA kon nie genoeg stemme vir ‘n setel in die raad verkry nie.