SA wynbedryf vra hulp by regering
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf doen ‘n beroep op die regering om hande te vat in die herbou van die sektor en sodoende ‘n volhoubare toekoms te verseker, deur ʼn bevorderlike omgewing vir handel te skep. Dit sluit in weldeurdagte beleidsbesluite, belegging in infrastruktuur, strenger wetstoepassing met betrekking tot onwettige handel, sowel as finansiële ondersteuning en verligting.
“Landbou is geïdentifiseer as een van die drywers van ekonomiese groei en werkskepping in Suid-Afrika. Die wynbedryf speel ‘n belangrike rol in hierdie sektor; dit dra R55 miljard by tot die BBP (1.1%) en ondersteun 269 096 werkgeleenthede in die totale wynwaardeketting,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Die sleutel vir Suid-Afrika – én die wynbedryf – om uit hierdie benarde posisie waarin dit is te kom, lê in volhoubare groei. Dit is nóú die tyd vir bevorderlike beleidsbesluite wat ‘n gunstige omgewing skep om hierdie groei te bewerkstellig. Dit is ook wat ons hoop om van die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, te hoor wanneer hy volgende week die Mediumtermyn-begrotingsbeleid voorlê.”
Die wynbedryf – anders as die groter landbousektor wat die afgelope jaar relatief goed gevaar het vanweë gunstige klimaatstoestande en die afwesigheid van Covid-19-beperkings – word tans deur eiesoortige struikelblokke gekonfronteer weens ‘n ekonomiese afswaai en die wesenlike effek van alkoholbeperkings sedert die begin van die pandemie. Basson sê hoewel die bedryf op herstel en herbou fokus, kan hierdie uitdagende proses langer as vyf jaar duur en sal dit kort-, medium- en langtermyningrypings verg.
“Ons gaan voort met ons pogings om ’n sterk vennootskap met die regering te sluit rondom inisiatiewe soos die Meesterplan vir Landbou en glo dat ’n multilaterale eerder as bilaterale benadering gevolg moet word om ’n bevorderlike omgewing te skep en die wynbedryf se pad na ekonomiese herstel te stimuleer. Betekenisvolle gespreksvoering is uiters belangrik om te verseker dat toegang tot alle regeringshulpbronne verkry word,” sê Basson.
Dienslewering
Die meeste sektore in Suid-Afrika is afhanklik van betroubare infrastruktuur en doeltreffende dienslewering in terme van onder andere water, elektrisiteit en paaie. “Ondoeltreffendheid het die wynbedryf reeds lank geteister met toegang tot water, onbetroubare kragvoorsiening van Eskom, asook tekortkominge by die groot hawens wat produsente, invoerders en uitvoerders erg benadeel. Kaapstad se haweterminaal, die land se mees hoog aangeskrewe hawe, is byvoorbeeld ‘n droewige 347ste uit ‘n totaal van 351 hawens wêreldwyd gelys in terme van doeltreffendheid,” sê Basson.
Die Kaapstadse haweterminaal is van strategiese belang vir die wynbedryf en is een van die besigste internasionale skeepsroetes. Suid-Afrikaanse wynuitvoere verteenwoordig byna die helfte van sy totale produksie. Van hierdie uitvoere is 41% verpakte wyn en 59% grootmaatwyn. Die VK, Duitsland, Nederland, die VSA en Swede is die top vyf markte vir Suid-Afrikaanse wyn met ‘n totale uitvoerwaarde van nagenoeg R10 miljard, die tweede hoogste van enige Suid-Afrikaanse landbouproduk.
“’n Doeltreffende en ten volle operasionele hawe is noodsaaklik om die ekonomie van die land te laat groei en nuwe werkgeleenthede te skep,” sê Basson. “Die stand van Suid-Afrika se haweterminale is egter ’n struikelblok vir die wynbedryf om te herstel en groei. Daarom is dit van uiterste belang om die hawedoeltreffendheid en -kapasiteit te verhoog.
“Ons doen ook ’n beroep op die regering om bykomende toegang tot water te ontsluit, spesifiek belegging in waterinfrastruktuur soos die Brandvlei- en Clanwilliam-projekte te bespoedig en die gebruik van alternatiewe energiebronne te vergemaklik.”
Wetstoepassing
Een van die onvoorsiene nagevolge van die herhaalde inperkings en beperkings op die Suid-Afrikaanse wynbedryf was die groei van onwettige handel. Omdat hierdie onwettige mark buite die regulatoriese bereik van die regering is en onbeheerd funksioneer, lei dit tot verwoestende gevolge vanuit ‘n gesondheids- en ekonomiese perspektief.
“Die drankbedryf word reeds behoorlik gereguleer. Ons doen ʼn ernstige beroep op die regering om op te hou om krisisgedrewe Covid-19-verwante inperkings op wyn in te stel. Dit bevorder die ontwikkeling van parallelle onwettige markte, het ons bedryf in ‘n finansiële krisis gedompel én verminder broodnodige staatsinkomste. In die plek hiervan vra ons dat die regering onwettige drankhandel bekamp en regverdige en deursigtige mededinging in die binnelandse mark bevorder deur die wette wat reeds bestaan strenger toe te pas.”
Beleidsekerheid
Die wynbedryf is anders as ander drankbedrywe – nie net weens sy toerismebestemmings wat duisende plaaslike en internasionale besoekers na die onderskeie wynstreke lok en aansienlike inkomste vir die ekonomie genereer nie, maar ook omdat dit ‘n unieke bate vir die land is. Die wynbedryf het ‘n sterk handelsmerkreputasie vir Suid-Afrika in die internasionale mark gebou, waar ons na 132 lande uitvoer.
Wyn is ook deel van die landbousektor; dit word gemaak van druiwe wat een keer per jaar ryp word en nie van bestanddele wat regdeur die jaar beskikbaar is nie. Omdat wyn ‘n sikliese produk is, is dit belangrik dat die regering doeltreffend en betyds met die bedryf kommunikeer oor drankverwante beleide en wetgewing om ‘n meer bevorderlike handelsomgewing te verseker.
“Ons vra vir ‘n deursigtige belastingsmetodologie soos ooreengekom met Tesourie vir wynverwante produkte en ‘n jaarlikse aksynsaanpassing van onder VPIX aangesien die aksynskoers reeds bo die teiken vir wyn en brandewyn is. ’n Duidelike beleidsraamwerk rondom begunstiging en inklusiewe groei in terme van toegang tot bestaande en nuwe waterbronne is ook ononderhandelbaar.”
Ondersteuning
Die wynbedryf het onherstelbare skade gely deur die Covid-19-pandemie – van ‘n groot aantal klein en mediumgroot wynbesighede, veral in die wyntoerismesektor tot wyndruifprodusente en kelders, wat verskeie ondernemings in swart besit insluit – met sowat 28 000 werkgeleenthede wat reeds verlore gegaan het. “Ons benodig dringende finansiële ondersteuning en verligting sodat hierdie besighede kan begin herbou en herstel om broodnodige werkgeleenthede te verskaf.
“Ons glo die wynbedryf kan ‘n katalisator vir groei en indiensneming wees in Suid-Afrika. Deur hierdie voorstelle te ondersteun, sal die regering help om beleid- en regulatoriese sekerheid, ekonomiese groei, fiskale herstel en werkskepping ná die pandemie te bewerkstellig. Indien die regering egter daarin misluk om hierdie positiewe veranderinge vinnig en doeltreffend te implementeer, sal dit die Suid-Afrikaanse ekonomie in gevaar stel en die land se huidige ekonomiese uitdagings vererger,” sê Basson.