SA-wynbedryf maak reg vir herstel, herbou vernuwing
Suid-Afrikaanse wynbesighede kom aan die begin van 2022 byeen vir ʼn blik op die stand van die bedryf en om hulle toe te rus met die nodige insig en hulpmiddels vir herstel, herbou en vernuwing in die nuwe jaar.
Die Nedbank Vinpro Inligtingsdag, met die tema Revive. Recover. Rebuild word van 09:00 tot 13:00 op 20 Januarie 2022 aangebied. Beperkte sitplekke is beskikbaar vir bywoning by Allée Bleue, Franschhoek, maar die geleentheid word ook regstreeks uitgesaai vir virtuele bywoning.
“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal weer sy kop optel om sy volle potensiaal te bereik na een van die uitdagendste tydperke nóg,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Gedurende die inligtingsdag kyk ons na die volgende stappe wat elke individu en besigheid in ons waardeketting moet neem om ons bedryf weer sterk, mededingend, winsgewend en volhoubaar te maak.”
Die inligtingsdag word as twee agtereenvolgende sessies van 100 minute elk aangebied, met ʼn 30 minute pouse.
Sessie 1: Van die plaas tot die verbruiker
‘n Deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se Covid-19-herstelplan behels groei in die vraag na wyn deur momentum in uitvoere én deur plaaslike verkope en wyntoerisme te bevorder.
Wyndruifprodusente en kelders volg ook ʼn meer verbruikersgefokusde benadering in die wingerd en kelder, terwyl hulle doeltreffendheid op innoverende maniere opskerp.
Lulie Halstead, bestuurshoof van Wine Intelligence, ʼn toonaangewende internasionale marknavorsings- en strategiekonsultasiemaatskappy, sal die eerste sessie afskop deur te kyk na die plaaslike en buitelandse verbruikerstendense wat ná Covid-19 nog teenwoordig sal wees. Vinpro-wyntoerismebestuurder Marisah Nieuwoudt gaan mylpale in dié sektor oor die afgelope vier jaar deel, asook werkbare oplossings wat wyntoerisme vorentoe meer mededingend en volhoubaar sal maak.
Namate die ekonomie van die nagevolge van die pandemie herstel, het wynondernemings die geleentheid om met meer gebalanseerde modelle te herbou. Conrad Schutte, Vinpro-konsultasiediensbestuurder, deel die nuutste inligting oor die komende oes en kyk na doeltreffende produksietendense wat die besigheid in 2022 en daarna sal rig.
Sessie 2: Die groter prentjie
In die tweede sessie neem word ʼn tree teruggeneem en gesels twee kundige panele oor makro-omgewingsfaktore wat wynverwante besighede beïnvloed, en hoe hulle hulself deur hierdie kragte kan stuur om te verseker dat hulle op koers bly.
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet saam met winsgewendheid ook op die volhoubaarheid van die omgewing én mense fokus om te oorleef en te floreer. Daar word gekyk na gevallestudies en kry perspektief op dit wat tans gedoen word, en wat méér gedoen kan word om inklusiewe groei, volhoubaarheid en etiese praktyke na ʼn nuwe vlak te neem. Bruce Jack, eienaar van Bruce Jack Wyne, Bridgitte Backman, visepresident van kommunikasie en openbare beleid en regeringsaangeleenthede (PPGA) en Ronald Ramabulana, voorsitter van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se transformasie-eenheid (SAWITU) is hier aan die woord.
Die wynbedryf is swaar getref deur die gevolge van Covid-19. Dit het nuwe uitdagings meegebring. Die bedryf strewe deurlopend om groei te bevorder. Daarom word gekyk na die huidige stand van die wynbedryf binne die konteks van onontbeerlike ekonomiese groei en beleidsekerheid, aangedryf deur politieke wil. Die paneellede wat dié bespreking gaan lei is Vinpro-bestuurshoof Rico Basson, Nedbank Groep se hoof-ekonoom Nicky Weimar en bekende politieke ontleder en voormalige redakteur van die Sowetan, Mpumelelo Mkhabela.
Werk saam vir sukses
“Ons kan slegs ʼn sterker en meer volhoubare Suid-Afrikaanse wynbedryf bewerkstelling deur strategiese vennootskappe regdeur die waardeketting te vestig en te koester. Bo en behalwe hul noue samewerking met en ondersteuning aan die bedryf gedurende dié moeilike jaar, is ons dankbaar dat ons die Nedbank Vinpro Inligtingsdag in 2022 weer met Nedbank as hoofborg kan aanbied,” sê Basson.
Die geleentheid word vir die 16de jaar aangebied, en Nedbank is sedert 2006 betrokke as hoofborg. Die dag word ook in samewerking met Old Mutual aangebied. Daneel Rossouw, Nedbank se bestuurshoof vir landbou in verhoudingskanale, sê Nedbank is baie trots op die lang tydperk van samewerking met Vinpro. “Vennootskappe soos dié is noodsaaklik vir die groei van die landbousektor.”
“By Nedbank sien ons die landbousektor as ‘n langtermynbelegging wat ‘n belangrike rol in ons ekonomiese herstel speel. Ons werk saam met strategiese rolspelers om by te dra tot ‘n groeiende, volhoubare, getransformeerde en veerkragtige landbousektor wat uiteindelik ‘n positiewe bydrae tot voordeel van die land as geheel lewer. Ons is veral opgewonde om die fokus op volhoubaarheid en ekotoerisme tydens die 2022-byeenkoms te sien, want ons besigheidswaardes is gesetel in die nastreef van volhoubaarheid en die gebruik van ons finansiële kundigheid om positiewe verandering mee te bring,” sê Rossouw.
Registrasie is verpligtend en sluit op 17 Januarie 2022. Die registrasiekoste is soos volg:
Bywoning by Allée Bleue:
Vinpro-lede R800 per persoon*, Nie-lede R1 200 per persoon.
Virtuele bywoning:
Vinpro-lede R450 per persoon*, Nie-lede R600 per persoon.
* Afslag vir Vinpro-lede is beperk tot twee kaartjies per lid.
Registreer aanlyn by https://sales.vinpro.co.za/ of kontak Vinpro by 021 276 0458 of info@vinpro.co.za.
LET WEL: In die lig van onsekerheid oor Covid-19, moet kapasiteit by die lokaal beperk word. Getalle word dus beperk en eerste registrasies sal voorkeur geniet. As alternatief kan persone ook vir virtuele bywoning registreer. Die Covid-19-situasie sal deurlopend gemonitor word en moontlike addisionele beskikbaarheid by Allée Bleue sal vroeg in Januarie 2022 gekommunikeer word.