Leer saam met Neil Sandilands oor Namib in nuwe TV-reeks

Toer deur die Namib-woestyn met KykNet en Neil Sandilands

Die Namib-woestyn is meer as ses miljoen jaar oud en is ook die tuiste van sommige van die hoogste duine in die wêreld. Die woestyn is ongerep, gevaarlik en magies, maar dra ‘n ryke geskiedenis. Vele films en boeke het al die Namib-woestyn se wonder uitgebeeld. Ten spyte van die ongenaakbaarheid van die woestyn het mense steeds probeer om hierdie landskap te tem.

Wanneer die woord “Namib” vertaal word uit Nama, beteken dit letterlik – “Die Groot Niks”. Dit is dan juis hierdie landskap, een van die laaste sewe wildernisse oor op Aarde, se vergete stories en geheime waarna jy kan uitsien.

Die Groot Niks  is ‘n nuwe dokumentêr te siene op jou TV-skerm vanaf Saterdag 12 Februarie. Oor ‘n tydperk van sewe weke sal Neil Sandilands jou die verhaal van die woestyn en die historiese geskiedenis daarvan vertel.

Die myn-aktiwiteite, die natuur en hoe dit moes aanpas in hierdie onleefbare omgewing. Na 107-jaar word daar weer toegang tot die verbode “Sperrgebiet” aan mense toegelaat.

Vir praktiese redes lê die Namib-woestyn hoofsaaklik tussen die twee kusdorpe, Luderitz en Walvisbaai, alhoewel dit tegnies strek tot in Angola. Die Groot Niks sal begin vertel van Luderitz en kykers wys waarna hulle kan uitsien in die 450km tussen dié twee kusdorpe. Ook Kolmanskop, waar die woestyn en natuur besig is om alle tekens van menslike bewoning uit te wis, word ingesluit.

Neil Sandilands is ‘n bekende gesig op ons TV-skerms. Hy het in ons harte gekruip as ‘Bart’ in Sewende Laan. Neil se loopbaan as akteur het op die jong ouderdom van 14 jaar begin en ook vir hom sukses in die buiteland gebring. Na 33 jaar in die bedryf is hy steeds gewild onder sy aanhangers. Hy spog met Amerikaanse burgerskap en gebruik die geleenthede wat na sy kant toe kom.

Hy praat met ‘n sterk Amerikaanse aksent, maar is steeds trots Afrikaans. Neil se liefde vir avontuur is inspirerend en dit is lekker om te luister na sy staaltjies oor, veral, sy ervarings met toer en Namibië.

“Ek is baie beslis Afrikaans, gebore en getoë, dit is waar my liefde lê, maar ek het ook die verrrykende geleentheid om in Amerika te werk en hulle kultuur te beleef,”sê hy.     

Ons is meer bekend met Neil as akteur, maar hy is glad nie ‘n onbekende as aanbieder nie. Neil sê: ”Daar is minder van ‘n skans tussen my en die eindverbruiker, die kyker.” Hy skerts voorts dat the proof will be in the pudding, maar glo dat kykers die dokumentêr sal waardeer.

Hy is tans in Aucland, maar het in 2021 aan verskeie Suid Afrikaanse produksies gewerk. Neil sal ook later vanjaar in die Netflix reeks Sweet Tooth te siene wees.

Waarom is hierdie ‘n moet-kyk vir kykers?

 “Vir die historiese en die praktiese kennis. Vir die landskap wat min mense te siene kry. Word saam met ons ‘n avonturier en aanskou dit soos ons dit beleef het.”

As oud-Namibiër sien ek verseker uit na die reeks. Neil vertel van die betowering wat hierdie strook land bring. Hier tot waar niks of niemand dit maak nie, maar hulle tog tekens van lewe kon vind.

KyKNET Kanaal 144 om 18:00 vanaf hierdie Saterdag 12 Februarie 2022. Moet dit nie misloop nie.

Namib-groete

Annette

Neil Sandilands gaan kykers op toer neem deur die Namib.
Die mistige en misterieuse Namib-woestyn word saam met Neil Sandilands ontdek in ‘n nuwe reeks op KykNet.
Neil Sandikands by een van die ou oorblyfsels van vergange se dae in die Namib.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!