Kleiner SA-wynoes verwag
Die Stellenbosse wynstreek is die enisgte wat nie vanjaar ‘n kleiner wynoes vanjaar verwag nie.
Met die 2022-parstyd op hande verwag Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente ʼn kleiner wyndruifoes, hoofsaaklik weens ʼn afname in wingerdstand, hoë siektedruk en hittegolwe in sekere streke. Dίt volgens die tweede van vier oesskattings deur wingerdboukundiges en produsentekelders in die derde week van Januarie.
“Ons verwag op hierdie vroeë stadium ʼn kleiner wyndruifoes vanjaar teenoor 2021,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se span wingerdboukundiges wat die oesskattings saam met die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels) uitreik.
“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is oor ʼn groot aantal verbouingsgebiede regoor die Wes- en Noord-Kaap versprei, met dikwels uiteenlopende klimaatstoestande. Vanweë hierdie variasie word die oes in sekere streke opwaarts en ander afwaarts geskat,” sê Schutte.
Die oes word kleiner geskat in die meeste wyndruifverbouingstreke, met die uitsondering van Stellenbosch, die Kaap Suidkus en Klein Karoo. Schutte skryf die algehele afname in die 2022-wyndruifoes toe aan wingerduitkappings in veral die Noord-Kaap-, Olifantsrivier- en Robertsonstreke toe, tesame met hoë donsskimmel- en witroesinfeksies in sekere streke. Die rypwordingsperiode was koeler as normaal, maar hittegolwe in Desember en Januarie het wingerde plek-plek onkant gevang en sonbrandskade aan druiwe veroorsaak.
Wyndruifprodusente het andersins ʼn uitstekende seisoen beleef.
Winterstoestande was uitstekend, gekenmerk deur meestal bogemiddelde koue-eenhede – soos weerspieël deur gereelde sneeuneerslae op bergpieke – saam met ʼn hoër as normale reënval wat grondwatervlakke aangevul het. Weens ʼn koel, nat lente was bot algeheel sewe tot 14 dae later as normaal, maar deurgaans mooi egalig. Die koel weer het ook aanvanklike groei vertraag, maar die meeste wingerde het gedurende blomtyd ingehaal en sowat vyf dae later as gewoonlik geblom.
“Daar heers altyd groot opwinding gedurende parstyd, en ons sien daarna uit om voort te bou op die uitstekende gehalte wyndruiwe en wyne wat ons jaar na jaar in die wingerde en kelders sien,” sê Schutte.
Die volgende oesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders word in die derde week van Februarie 2022 uitgereik.