Vlug saam met Wilna Adriaanse

Op VLUG saam met Wilna Adriaanse:

VLUG – 512 bladsye uit die pen van die bekroonde skrywer Wilna Adriaanse. Wilna het reeds sowat 14 gepubliseerde werke en met VLUG bewys sy weer eens waarom twee van haar boeke die ATKV liefdesromanprys opgeraap het. Lesers is dit eens, haar boeke boei en ‘n nuwe Wilna Adriaanse-roman is altyd iets om na uit te sien.

Veearts Milla Roux vlug uit Suid Afrika na die DRK. Hier begin sy by ‘n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees werk. Milla verdiep haar in haar werk om van haar eie tragedie te ontsnap en werk met toewyding om ‘n verskil te maak aan hierdie krimpende spesie.

Die Kongolese regering en rebelle-organisasies se stryd maak die hele Kongo ‘n gevaargebied. Soldate en rebelle gee nie om wie in die middel kom nie en die sentrum kom ook onder spervuur. Milla word gewond tydens ‘n skermutseling en slaan op die vlug met drie sjimapanseewesies. Graham Saunders van die organisasie Dokters sonder grense, bied aan om te help. Graham het ook na die Kongo gekom om van sy eie problematiese verlede te ontsnap.

Twee vreemdelinge, elkeen met ‘n tas vol bagasie van skuldgevoelens, wantroue en vrees, slaan op vlug met drie sjimpanseewesies in ‘n oorlogsgebied – wat kan verkeerd gaan?

Ontspan met lekker leesgenot, ‘n roman propvol spanning en intrige. Die karakterverhoudings is tipies in Adriaanse se styl, boeiend en elke karakter worstel met sy/haar eie spoke. Die roman maak ook doelbewus geen melding van die Covid-pandemie nie.

“Die verhaal val buite die realiteit van die Covid-pandemie. Soos vele ander families het ons s’n geliefdes verloor weens die pandemie. As ontvlugting het ek besluit om die bestaan daarvan weg te laat,” vertel Adriaanse.

VLUG is  digitaal en by boekwinkels beskikbaar.

Lekker-lees groete.

Annette

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!