‘n Onlangse reeks aanvalle op fietsryers buite Stellenbosch het weer eens die gevaar van die roete verby Kayamandi in die kollig geplaas.
Fietsryers van buite Stellenbosch gebruik sirkelroetes deur die dorp as deel van hul daaglikse oefenprogramme terwyl die dorp opsigself ook ‘n gewilde bestemming vir fietsryers is. Plaaslike fietsry-entoesiaste is ook gereeld in en om die dorp aktief, terwyl internasionale fietsryers ook gereeld by die sportsentrums op die dorp oefen.
Liesbet Smit van Durbanville en eggenote van ‘n voormalige Springbok-fietsryer, is een van die viertal fietsryers wat die afgelope maand voor Kayamandi aangeval is.
“Ek en Willem Basson was oppad terug van Franschhoek na ons huise in Durbanville toe die aanval gebeur het. My voorwiel was ongeveer regoor sy agterwiel toe daar uit die bloute ‘n figuur van die sypaadjie afgetree en my hardhandig teen die grond gestamp het. My gewaarwording was dat ek nou gaan val,” het sy vertel.
“Motoriste het dadelik wonderbaarlik opgetree. Ek bid altyd dat God ‘n harnas van beskerming om my moet plaas wanneer ek op my fiets ry. Dis waarom ek weet dat elke mens wat gestop het, deel van hierdie beskermsnetwerk was. Ek het vreeslik hard gegil toe ek val en hy oor my gebuk het om my selfoon te probeer gryp. Ek het blitsvinnig op my rug gedraai sodat hy my sou moes optel om die foon uit te gryp.
“’n Wit bakkie het op die aanvaller afgepyl wat hom toe laat vlug het. Die bakkie het hom liggies getref, maar hy het weggeswenk skuins terug na die linkerkant van die pad. Nog ‘n swart man in ‘n rooi voertuig het skuins oor die pad aangery gekom om ook die aanvaller te probeer stuit. Die aanvaller het ook hierdie voertuie gesystap en weggehardloop. Die bestuurder van die rooi voertuig was baie besorg om te hoor of ek gesteek is, want hy het ‘n mes in die hand van die aanvaller gesien.
‘n Ander swart voertuig het ook gestop en die bestuurder het uitgeklim en gevra of ek beseer is. Hy is van Johannesburg en die soort insidente gebeur glo baie in hul omgewing. Ek kon weer op my fiets klim en hy het skuins agter ons gery tot ons verby Kayamandi was. By Koelenhof se motorhawe moes ek stop om iemand te bel om my te kom oplaai.”
Terug in Durbanville het ‘n mede-fietsryer vertel dat hulle vroeër die oggend ook verby Kayamandi gery het. Hulle was 3 fietsryers saam. Twee booswigte wat vir mekaar met fluite tekens gee, het hulle probeer storm loop, maar hulle kon ongedeerd wegkom.
“Op Vrydagmiddag, 7 Januarie het ‘n ander fietsryer by die Kayamandi-rooiverkeerslig gestop. ‘n Motoris wat langs hom gestaan het, het gevra of hy weet dat die area voor hom ‘n hot spot-area is en of hy stadig langs hom kan ry tot hulle verby die tweede ingang na Kayamandi is. Die fietsryer was baie dankbaar vir hierdie gebaar van beskerming.
“Gedurende die oggend van 9 Januarie is die fietsry-oefenmaat van my man om en by 07h00 op dieselfde plek deur drie trawante met ‘n pyp oor sy rug geslaan en van sy selfoon beroof.
“Die geluk by die ongeluk was dat niks van my gesteel is nie. Ek weet net dat iets daadwerkliks gedoen moet word om beter beveiliging in hierdie area te plaas vir elke fietsryer, drawwer en inwoner in Kayamandi wat sekerlik almal genoeg van misdaad gehad het. As vrou bly ek die sagte teiken. Ek gaan nie toelaat dat vrees en skelms my beroof van my passie vir fietsry nie,”het Smit gesê.
Die voorvalle is by die plaaslike polisie aangemeld, maar geen terugvoer is nog gekry nie. Smit het ook die burgemeester, Gesie van Deventer, en die hoof van gemeenskapsveiligheid, Rikus Badenhorst, oor die voorval ingelig, maar ook geen reaksie gekry nie.
Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder,het by navraag gesê hulle dra nie spesifiek kennis oor ‘n toename in aanvalle op fietsryers in die omgewing nie.
“Daar was wel ‘n brief aan ons gestuur van ‘n fietsryer wat oor die naweek aangeval is. Indien daar sulke insidente plaasvind, moet dit by die polisie aangemeld word. Die munisipaliteit sal sigbare wetstoepassing in die areas waar sulke voorvalle plaasvind, verskerp indien dit onder ons aandag gebring word,” het hy gesê.
Stellenbosch Fietsry is baie bekommerd oor die onlangse (hernieude) voorvalle waartydens fietsryers in die omgewing van Kayamandi aangeval is, aldus ‘n verklaring van die organisasie.
“Die aanvalle het helder oordag plaasgevind en het nie alleen tot beserings aan die fietryers gelei nie, maar hul fietse is beskadig en persoonlike besittings is geroof.
“In al die gevalle was die aanvallers met messe en ander gevaarlike voorwerpe gewapen en dit kon maklik tot lewensverlies gelei het.
“Die strook pad is reeds etlike jare ‘n gevaar vir fietsryers van Stellenbosch, sowel as vir besoekers wat Stellenbosch as eindpunt of deurgangsroete vir hul fietsry gebruik.
“Dit is tyd dat die plaaslike owerheid en die Suid-Afrikaanse Polisiediens hande vat en iets hieraan doen – of moet daar gewag word totdat iemand vermoor word? Daar is nie veiligheidskamera’s in die omgewing nie, en die munisipaliteit moet toesien dat dit behoorlik werk en beman word, sodat die skuldiges vasgetrek kan word.
“Die munisipaliteit moet ook, tesame met sy veiilgheidsvennote, meer gereeld patrollies in die gebied doen om die fietsryers, en ander padgebruikers, sowel as alle lede van die publiek, te beskerm. Die gemeenskap van Kayamandi moet ook hierby betrek word sodat skuldiges in hul geledere opgespoor en aangekla kan word.
“Na vertoë tot die munisipaliteit, die burgemeester Van Deventer, die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, Rikus Badenhorst, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en ander betrokke amptenare, is daar wel nou effense vordering in die verband, en dat ons organisasie se direkteure en vrywilligers, wat hulself beywer vir die bevordering van alle soort fietsry, met spesifieke klem op pendel, wel genooi is om op die gemeenskapspolisieringsforum te dien.
“Ons moedig fietsryers, sowel as die die owerheid, aan om gedurig in gesprek met mekaar te wees, en dat almal welkom is om ons organisasie te nader vir verdere fasiltering,” sê Dawid Botha, voorsitter van Stellenbosch Fietsry.