Nuwe begroting in ‘n neutedop – alles wat jy moet weet

Begroting grotendeels gunstig vir verbruikers

Op Woensdag 23 Februarie, het Enoch Godongwana, minister van finansies, Suid-Afrika se Nasionale Begroting vir 2022/23 in die Parlement ter tafel gelê.

PSG het ’n opsomming van die hoogtepunte en implikasies van die begroting opgestel, asook infografika wat dit toelig. Hier is die saamgevatte hoogtepunte van die begroting:

Belastingskale

Met die R182 miljard in addisionele belasting, hoofsaaklik van mynbou, sal alle belastingbetalers belastingverligting gelyk aan die inflasiekoers ontvang vir die jaar.

Alle kortings word met die inflasiekoers verhoog.

  • Die primêre korting vir belastingbetalers onder 65 jaar is R16 425.
  • Die sekondêre korting vir belastingbetalers van 65 jaar en ouer is R9 000.
  • Die tersiêre korting vir belastingbetalers van 75 jaar en ouer is ’n addisionele R2 997.

Dit beteken die belastingdrempel styg tot R91 250 vir persone van 65 en jonger, R141 250 vir persone van 65 en ouer, R157 900 vir belastingbetalers van 75 jaar en ouer.

Dividendbelasting en rentevrystelling

Dividendbelasting is onveranderd op 20%. Die rentevrystelling bly R23 800 vir belastingbetalers wat jonger as 65 is, en R34 500 vir belastingbetalers van 65 jaar en ouer.

Kapitaalwinsbelasting (KWB)

Insluitingskoerse vir kapitaalwins bly 40% vir natuurlike persone en 80% vir maatskappye en trusts. Dit beteken die maksimum KWBkoerse is:

  • Natuurlike persone en spesiale trusts: 18%
  • Ander trusts: 36%
  • Maatskappye: 22.4%
  • Individuele polishouersfondse 12%
  • Die jaarlikse uitsluiting bly R40 000, en die uitsluiting by dood bly R300 000.

Korporatiewe inkomstebelasting

Vir belastingjare wat eindig op enige datum tussen 1 April 2022 en 30 Maart 2023 sal die belastingkoers vir maatskappye onveranderd bly op 28%. Vir belastingjare wat eindig op of na 31 Maart 2023 sal die belastingkoers van maatskappye daal tot 27%. Om die belastingkoersverlaging op ’n inkomste-neutrale wyse in werking te stel, sal maatskappye vorige belastingverliese teen hoogstens 80% van die huidige jaar se winste kan aftrek. Dit sal beteken dat minstens 20% van ’n maatskappy se inkomste belasbaar is, ongeag vorige geassesseerde verliese.

Trusts

Geen veranderings ten opsigte van die belasting van trusts is aangekondig nie.

BTW-koers

Die BTW-koers bly konstant op 15%.

Hereregte

Geen veranderings is aangebring aan hereregte van toepassing op eiendom wat deur enige persoon (maatskappye, beslote korporasies en trusts ingesluit) verkry word nie.

Die koerse is soos volg:

  • Hereregte Waarde van eiendom (R) Belastingkoers 0 – R1 000 000 0% van eiendomswaarde R1 000 001 – R1 375 000 3% op die waarde bo R1 000 000 maar nie meer as R1 375 000 nie
  • R1 375 001 – R1 925 000 R11 250 plus 6% op die waarde bo R1 375 000 maar nie meer as R1 925 000 nie
  • R1 925 001 – R2 475 000 R44 250 plus 8% op die waarde bo R1 925 000 maar nie meer as R2 475 000 nie
  • R2 475 001 – R11 000 000 R88 250 plus 11% op die waarde bo R2 475 000 maar nie meer as R11 000 000 nie
  • R11 000 001 en meer R1 026 000 plus 13% op die waarde bo R11 000 000

Motorvoertuig-uitgawes

Geen veranderings aan die motorvoertuig-uitgawetabelle is vir 2022 gepubliseer nie.

Mediese belastingkrediete

Die belastingkrediet vir die eerste twee afhanklikes styg tot R347, en vir addisionele afhanklikes word dit verhoog tot R234. Wanneer die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan in werking gestel word, sal hierdie belastingkrediete gekanselleer word.

Aftreefondsveranderings

Geen veranderings is aangebring aan die enkelbedragkoerse by onttrekking of aftrede nie. ’n Belastingbetaler sal bydraes tot enige aftreefonds kan aftrek tot ’n maksimum van 27.5% van vergoeding vir LBS-doeleindes of belasbare inkomste, wat ook al die grootste is (albei sluit aftreefonds-enkelbedrae en skeidingsvoordele uit). Die aftrekking word beperk tot maksimum R350 000 per jaar. Die belasting van onttrekkings uit aftreefondse met emigrasie is uitgestel totdat die dubbelbelasting ooreenkomste met ander lande aangepas kan word. Duidelikheid oor die twee-pot-stelsel en die vermoë om geld uit aftreefondse te onttrek word teen die middel van 2022 verwag. Belastingvrye spaarrekeninge

Die maksimum jaarlikse bydrae tot belastingvrye spaarrekeninge bly R36 000 per jaar.

Verblyftoelae

Die daaglikse verblyftoelae is sedert 2020 konstant op R452 per dag vir maaltye en bykomstige kostes, en R139 per dag vir bykomstige kostes alleenlik.

Aksynsregte en heffings

Aksynsregte en heffings op alkohol en tabakprodukte verhoog tussen 4.5% en 6.5%.

  • Vanaf vandag kos ‘n 340ml kannetjie bier 11 sent meer
  • Kos ‘n 750ml bottel wyn 17 sent meer
  • Kos ‘n bottel vonkelwyn 76 sent meer
  • Kos ‘n bottel spiritualieë R4.83 meer
  • Kos ‘n pakkie sigarette R1.03 meer
  • Kos 25g pyptabak 37 sent meer
  • Kos ‘n 23g sigaar R6.77 meer
  • Is die plastieksakheffing verhoog met 3c per sak
  • Die koolstofbrandstofheffing styg met 1c tot 9c per liter petrol, en 10c per liter diesel, vanaf 6 April 2022.
  • ‘n Nuwe heffing word van 1 Januarie 2023 af ingestel op e-sigaretprodukte (vaping products) teen minstens R2.90 per milliliter.

Boedelbelasting en skenkings

Boedelbelasting word steeds gehef teen 20% op die eerste R30 miljoen van ’n boedel en teen 25% op die waarde bo R30 miljoen. Daarmee saam bly die skenkingsbelasting op jaarlikse skenkings bo R30 miljoen ook 25%. Die boedelbelastingkorting en vrystelling ten opsigte van skenkingsbelasting bly dieselfde. Die verskil tussen die amptelike rentekoers en die rentekoers wat op lenings aan trusts gevra word, sal aan skenkingsbelasting onderhewig wees.

Valutabeheermaatreëls

Bylae F van die begroting bepaal dat die buitelandse blootstelling van versekerings-, aftree- en spaarfondse geharmoniseer word op 45%, insluitend die 10%- blootstelling aan Afrika. Die bewoording stel dit nie duidelik of die blootstelling van aftreefondse hiermee effektief van 30% tot 45% verhoog word, en dié van institusionele beleggers van 40% tot 45% verhoog word in die geval van geen Afrika-blootstelling nie. Die regulasies sal later duidelikheid hieroor gee. Geen veranderings is aan die individuele valutaperke aangebring nie.

Hersiening van voorlopige belastingstelsel

Die hersiening van die voorlopige belastingbetalingstelsel word oorweeg met inagneming van veranderende omstandighede en internasionale verwikkelinge. Die bedoeling is om ’n besprekingsdokument oor die onderwerp te publiseer.

Welvaart rapportering

Om nie-nakoming en bedrog deur die bestaan van onverklaarbare welvaart te identifiseer, sal alle voorlopige belastingbetalers met bates van meer as R50 miljoen in die 2023 belastingopgawe hulle bates en laste teen markwaarde moet openbaar. Hierdie inligting sal ook gebruik word om die moontlikheid van ‘n welvaart belasting te ondersoek.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!