Franschhoek se misterienaweke – ’n moet vir elke emmerskoplysie
Stel jou ’n eksklusiewe, allesinsluitende wegbreeknaweek in die wynlande voor, ’n naweek waar alles tot die fynste besonderhede vir jou beplan is, van die oomblik dat jy aanland totdat jy weer huiswaarts keer. Nee, dis nie ’n droom nie, al sal dit ’n droomnaweek wees, maar iets binne jou bereik. Dit is Franschhoek se gewilde Misterienaweke wat verrassings, ontspanning en pure koestering belowe.
Jou naweek sluit in alles waarvoor Franschhoek bekend is – luukse-verblyf, bekroonde wyne, fynproewerkos en nommerpas ervarings. Sedert hul ontstaan in 2012 het die misterienaweke reeds meer as 2 000 gaste na die streek gelok wat Franschhoek as een van Suid-Afrika se gewildste reisbestemmings bevestig.
Franschhoek se misterienaweke is ideaal vir paartjies wat bietjie wil wegbreek van die alledaagse lewe. Een van die grootste trekpleisters is die feit dat alles vooraf namens jou gereël is en jy en jou maat net kan kom ontspan en uitspan.
Die naweek skop af met ’n eksklusiewe (en onkonvensionele) inbesprekingsgeleentheid vir al die gaste. Maak kennis met almal met ’n glas wyn in die hand voordat jy jou spesiale Misterienaweekboks oopmaak. Die boks bevat al die opwindende besonderhede oor waar julle gaan bly, waar julle gaan eet en wat julle gaan ervaar, insluitende ’n prettige en informele aand waartydens almal op tipiese Franschhoek-wyse in die vallei verwelkom word. Vanjaar word ’n aantal nuwe verrassings bygevoeg wat oor die naweek bekend gemaak sal word.
Alle COVID-19-protokols sal regdeur elke naweek gevolg word.
Hoewel die meeste van die naweek vooraf beplan is, sal daar tog genoeg tyd wees om rustig deur die dorp te wandel en die verskeie boetiekwinkels, kunsgalerye, sjokoladewinkels en plaaslike mark te besoek.
Belangstellendes kan tussen twee opwindende pakette kies wat gebaseer is op die verblyfaanbiedings.
Ultimate (R8 650 per paartjie)
Die crème de la crème van verblyf in die vallei.
Superior (R6 350 per paartjie)
Stylvolle boetiekhotels en gastehuise.
Die koste per paartjie sluit die volgende in:
- Twee nagte se verblyf;
- Ontbyt daagliks;
- ’n Verrassingsgeleentheid die Vrydagaand;
- Aandete die Saterdagaand;
- Middagete Sondag;
- ’n Keur van spesiale Franschhoekse ervarings wat met die aankoms bekend gemaak sal word en gewaarborg is om onvergeetlik te wees.