Kanu Angelina Gold: ’n Unieke Cap Classique met ’n ‘tikkie goud’
Daar mag miskien nie ’n pot goud aan die einde van die reënboog wees nie, maar Kanu Wines aan die buitewyke van Stellenbosch het dit wel moontlik gemaak vir elkeen om “goud in ’n glas” te geniet met die bekendstelling van hul premie-klas Angelina Gold Cap Classique.
Wat hierdie vonkelwyn uniek en uitsonderlik maak, is die feit dat dit 24 karaat eetbare goudvlokkies bevat, die eerste vir ’n vonkelwyn in Suid-Afrika.
“Hierdie Cap Classique bring ook hulde aan die 50ste herdenking van hierdie uitsonderlike wynstyl in Suid-Afrika,” sê Johan Grimbeek, Kanu se wynmaker en keldermeester.
Die pinot noir-druiwe vir hierdie sjampanje kom uit die beste wingerdblokke in die Stellenbosch-wynstreek en is heeltros gepars en toe koud gegis met ’n neutral gis waarna die wyn ses maande op die fyn moer deurgebring het om bykomende kompleksiteit te bewerkstellig. Die vonkelwyn het na die tweede gisting 12 maande in die bottel deurgebring voor disgorgement, die proses waartydens die dooie gis-afsaksel uit die bottel verwyder en die kurk vinnig terug geplaas word. Hierdie deel van die hele wynmaakproses staan as dosage bekend.
“Die Angelina Gold Cap Classique het ’n ryk salmkleur met goue spikkels en ’n baie bleek rand,” verduidelik Johan. “Dit is verfrissend en vars en vertoon geure van rooibessievrugte, rooi appel en delikate spookasem. Dit betree die mond ‘droog’ met volgehoue rooi vrugte, gemoute gars en wilde aarbeie, en het ’n lang einde met ligte roosterbroodgeure in die agtergrond.”
Hierdie is nie Johan se eerste probeerslag met die maak van sjampanje nie. Hy maak reeds sedert 2012 Cap Classique, “maar hierdie is die eerste keer dat dit die goue behandeling ontvang”!
“Uitgebreide navorsing en ontwikkeling is reeds onderneem oor die toevoeging van goudvlokkies by wyn,” sê hy. “Hierdie vlokkies is heeltemal eetbaar en skadeloos.”
Nóg ’n kenmerk wat hierdie Cap Classique in ’n heel ander klas plaas, is die lig-uitstralende diode (LED) in die onderste holte van die bottel wat die goudvlokkies verlig sodra dit aangeskakel word.
Die Kanu Angelina Gold Cap Classique, wat ook in ’n opvallede verpakking kom, kos R1 200 per bottel en is aanvanklik net beskikbaar op die landgoed en aanlyn.
Vir meer inligting oor Kanu Wines en hul opwindede wynreeks, of om te bestel, besoek www.kanu.co.za.