Bloemhof weer tops

Bloemhof weer die beste onder SA se Afrikaans- en dubbelmediumskole

Die Hoër Meisieskool Bloemhof is weer as een van die land se topskole – en as die land se beste hoërskool onder Afrikaans-en dubbelmediumskole – deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS) aangewys te word. Dié aankondiging is Vrydag 25 Februarie in Pretoria tydens ’n prysuitdeling, waar dietoekennings aan Wilna van Heerden (Bloemhof se skoolhoof) oorhandig is, gedoen.

“Ek was bevoorreg om die toekennings namens die personeel in ontvangs te neem, want uiteindelik is dit die opvoeders se kwaliteitwerk wat uitslae van uitnemendheid verseker,” sê Van Heerden.

Die SOS publiseer sedert 2015 ’n jaarlikse verslag oor die nasionale matriekuitslae waarin dié data ontleed word met ’n spesiale fokus op die resultate van Afrikaanse skole, skryf Hugo Vermeulen (hoof: opleiding van SOS) in die verslag se inleiding.

Hy verduidelik die metodiek wat gevolg is om die top 20-skole te bepaal, soos volg: “Die top 20-lyste fokus op twee areas, naamlik die skole met die meeste onderskeidings en skole met die meeste onderskeidings per aantal kandidate wat die vak geneem het. By eersgenoemde staan groter skole ’n beter kans om die lyste te haal. By laasgenoemde is die speelveld egter gelyk.

”Skole met Afrikaans as onderrigmedium, enkelmediumskole soos Bloemhof, maar ook dubbelmediumskole soos Paul Roos Gimnasium, word duidelik in die verslag aangedui. Bloemhof ontvang ’n toekenning vir die Afrikaanse skool met die meeste onderskeidings per kandidaat in die land, en ’n toekenning wat Bloemhof se uitnemendheid in die volgende vakke insluit (in terme van Afrikaans- of dubbelmediumskole in Suid-Afrika):Afrikaans Huistaal (2de), Wiskunde (12de), Wiskundige Geletterdheid (7de), Rekeningkunde (5de), IGO (2de), Fisiese Wetenskappe (9de) en Lewenswetenskappe (10de).

André van Staden (rektor van die Paul Roos Gimnasium) en Wilna van Heerden (skoolhoof van die HMS Bloemhof) glimlag trots nadat albei skole eretoekennings van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ontvang het. Die HMS Bloemhof is nie net een van die top 20-skole met Afrikaans as onderrigtaal nie, maar is eerste op dié lys wat deur die aantal onderskeidings per kandidaat bepaal word. Foto: Verskaf

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!