Munisipale waarskuwing aan die publiek
Jannie Gagiano
“ Ons waarsku teen die ongerief wat moontlik veroorsaak kan word deur modernisasie.”
As die jakkelsies wat in die wingend rondpeuter net te veel word om sondermeer te verduur, wanneer al die kleiner irritasies wat die alledaagse bestaan versuur opvoer tot ‘n punt waar ‘n mens se moer begin pluk, het ons as studente aan die Bonn-universiteit in Duitsland die klagte aangehef: ‘Wenn es in Bonn nicht regnet dann sind die Schranke zu’ – oftewel ‘As dit in Bonn nie reën nie, dan is die motorversperrings oor die treinspoor toe’.
Ergernisvrye bestaan is ons net nie beskore nie. In Afrikaans gesê: As die hoenders nie op die werf skyt nie, dan skyt hulle op die stoep. Niks wil soomloos vlot verloop nie. Daar skort altyd iets. Iewers skyt ‘n hoender op ‘n stoep of iewers is spoorversperrings toe of hou die reën die strate te nat. Of iewers doen die munisipaliteit al weer iets wat jou lewe vergal. Of versuim om iets te doen aan iets wat jou lewe vergal.
Iemand sê nou die dag in ‘n straatgesprek dat Stellenbosch ‘n lekker ou dorpie kan wees as ons net ontslae kan raak van die blare wat heeldag op die sypaadjies rondfladder en van die baie ryk Afrikaners.
Oor die blare en die Afrikaners kan mens nog twis maar oor die munisipaliteit? Uit die hoek van die gewone dorpenaar bekyk, lyk dit soms asof die munisipaliteit aan dieselfde wette van akkummulasie onderhewig is as wat Karel Marx aan kapitaliste toegeskryf het. Wanneer hulle handel, sê Marx, hoor hulle die stemme van Moses en die profete soos ‘n refrein in hulle ore – “Versamel! Versamel! Meer! Meer! Nog! Nog!”
Dit is nou sodat hul dienste aan die gemeenskap kan lewer as ‘n quid pro quo vir hul belastingheffingsywer.
Diens is die quid pro quo vir die nog waarmee die plaaslike owerhede ons in die onvermydelike dwangbuis van belasting wil afbind. Onvermydelik soos die dood, lui die gesegde. Betaal jou belasting en ons sal omsien na daardie blare wat op die sypaadjies rondwarrel en daardie Afrikaners wat ons straatkafees volsit.
Ons sal omsien na al die bergies wat in die winkeldeure lê en slaap, wat hokke en tente opslaan as skuilings in die Eersterivier, wat hulself in straatvore en rivieroewers ontlas, in die begraafplase met dagga dikkop rook en partytjie hou op ‘n peil wat selfs die afgestorwenes opstandig maak. Ons sal omsien na dikgesuipte studente wat laatnag baljaar en onbeteuelt met pappie se kar elke vindingryke manier prakseer om die openbare rus te verstoor.
Mens sou wou dink dat die munisipaliteit na al die merkwaardige verhogings in die waardasies van o.m. private wonings en ander onroerende bates die belastinginkomste so sou laat blom dat die Tzarina van Pleinstraat nou so dik in die pit sit dat sy die tradisionele stremming tussen Nog en Diens nog so ‘n bietjie kon verslap. Miskien doen sy dit tog, maar die getuienis daarvoor lyk asof dit so in die esoteriese dieptes van munisipale finansies verswelg word en dat Jan Alleman dit nou nie eintlik op die straat sien rondlê nie.
Vir baie op straatvlak lyk die dienslewering meer slordig as wat die lofliedere wat gesing word oor die welstand van ons dorpsfinansies ons aan die verstand kan bring. Veral as ‘n mens oorweging skenk aan die styl (sê maar die bedside manners) waarmee die vat en die gee van dienslewering transsaksioneel ontleed kan word. Wat besiel die Tzarina en haar bestuurspan wanneer hulle doen wat hulle doen? Vra hulle so dan en wan hoe die sop wat hulle in jou bord skep, smaak? Of is dit net “eet kind, jou liggaam het dit nodig!”
’n Mens praat nie hier van die groot besluite soos om bv. ‘n enorme kapitaalbate soos Paradyskloof in ‘n golfbaan en versperde rykmansbuurt te herskep of Longlands as ‘n soortgelyke spergebied vir die beter klas mens (as jy weet wat ek bedoel) te reserveer nie.
‘n Mens praat nie van die al-lank-in-die-tandpojekte om die padstelsels wat die dorp bedien te herontwerp sodat verkeersknellinge in die middedorp verlig kan word nie. Of van die jarelange gesloer met die oprigting van bv. n parkeerfasiliteit by die Transvalia-ruimte as ‘n beloofde quid pro quo vir die parkeerruimte wat deur die middedorp se verdigtingsvergunnings toegelaat het dat die Nog-beginsel weereens die Diens-beginsel kon oortroef nie.
‘n Mens praat nie van die noordhek-ontwikkeling wat Kayamandi dan sou omvorm tot die setel van ‘n “ontwikkelingshub” wat kon bydra om haar mense te help smul aan die vruggies van die vlees wat die moderne wêreld aan te bied het nie.
‘n Mens praat van doodgewone, alledaagse, outydse dienslewering soos om die elektriese – en watermeters gereeld en op tyd te lees en dan deur die diensheffingstelsel te laat perkoleer sodat die diensverbruiker nie na agt of tien maande skielik met ‘n agterstallige bybetaling geskok word net omdat die meterleser versuim het om sy of haar werk tydig te doen nie.
En ‘n mens praat veral van die gees en die styl waarmee die “job” gedoen word. Waar is die dae toe ‘n mens die munisipaliteit kon bel om ‘n spannetjie te stuur om ‘n verstopte rioolpyp op jou erf te kom ontprop of om die groeisels wat die sypaaitjies voor die huis ontsier te kom knip en te verwyder? Toe was die quid en die quo nog nie uit wans nie en die generiese diensbelasting nog voldoende om die sommetjies te laat klop.
Ons betree oënskynlik ‘n wêreld waarin ‘n soort dubbelbelastingstelsel heers. Mens betaal ‘n diensbelasting aan die plaaslike owerheid en boonop nog ‘n fooi aan private diensverskaffers wat vir daardie einste owerheid in die bresse moet tree wanneer bestuurswanpraktyke hulle diensleweringskapasiteite verskraal. C’est la vie – ”dit is nou maar eenmaal soos dinge is, meneer.”
Moet ons dit maar gelate aanvaar? Soos die padda in die warm water, verlep ons vereistes dan maar saam met ons omgewing. Maar hopelik darem nie heeltemal nie. Van tyd-tot-tyd duik daar tog insidente op wat wat die Kumbaya my lord-gesindheid oor die nuwe bedeling se voortreflikhede so ‘n bietjie ontluister.
Insidente wat ons aanspoor om oorweging te gee aan die Baron von Munchausen-strategie om wanneer jy op jou perd in die dryfsand vasval, jou hare in jou vuis toe te vou en jouself, perd en al, aan jou kuif uit die verknorsing te trek.
Soos nou Maandagnag toe ek in my drome soos ‘n wafferse Laokoon lê en stoei met die slange wat my soos gewoonlik wil vasknel in die greep van ‘n spulse en losbandige onderbewussyn dat die vloere en die mure van die huis skielik begin bibber en bewe.
Eers dink ek dit is die Tulbach-skeur in die aardkors wat afgetrek het tot in Stellenbosch, maar toe kry my neus die swaelruik. Om ‘n vorm van geestelike borrelsiekte te vermy, skiet ek stadig deur die troebel waters van die onderbewussyn boontoe terwyl ‘n voorlopige hipotese vorm aanneem.
Swael. Satan. Straf vir die sondes wat die vaders as ‘n erflating in jou siel geplant het.
Of miskien is dit die eerste ontploffings in die ontketening van Armageddon? Miskien staan die Hoer van Babylon al klaar op jou stoep gereed om jou siel soos ‘n hardgekookte eier uit jou bors te pluk en saam met die res van jou “block en tackle” te verorber.
Maar hoekom so toegespits op hierdie buurt? Wel, jou huis was intertyd die ampswoning van die student-predikant en die straat is verder af besaai met pastorieë. Hulle staan soos hare op ‘n hond in jou straat. En die kweekskool is net om die draai. Miskien is die hoer op jou stoep se buddy, die anti-chris, al klaar daar besig om sy gifdampe oor die kinders van die Here uit te stort. Ek kan die duiwelsdampe tot hier by my ruik.
Nog deur die slap, maar darem by my volle bewussyn, speel ek vir ‘n wyle met die hipotese dat die gerommel in die straat veroorsaak word deur ‘n tenkbrigade wat Comrade Putin vir sy ANC-comrades gestuur het om die laaste oorblyfsels van kolonialisme vir eens en altyd uit te wis en CR as ‘n ere-oligarg by die ontluikende Russiese koloniale wêreldorde in te lyf.
Maar toe tref die werklikheid. Dit is die munisipaliteit wat die pad laat teer. Of weer laat teer. Sonder om ons vooraf te pols en uit te vra oor hoe ons daaroor voel. Sonder om die wyksraadlid te raadpleeg en haar insette te verdiskonteer. Sonder om in oorweging te bring dat die mense miskien kan weier om aan ‘n soort slaapontberingseksperiment blootgestel te word. Slaapontberings word in die gewone wêreld op rotte in die rivier uitgevoer, nie op mense wat langs die rivier bly nie, sou mens wou dink.
Mense slaap in die nag sodat hulle kan werk in die dag. Behalwe padbouers veral as hulle dubbel betaal word as vergoeding vir die slaapontbering wat hulle moet verduur in diens van ‘n munisipaliteit wat sy dienslewerings quids en quos moet laat klop. Gaan die inwoners nou ‘n belastingsvergunning kry om, soos vir die teertange, te vergoed vir hulle slaapontberings? Quid pro quo?
Een of ander poepol moes tog die besluit geneem het om die padwerke in vlermuistyd en teen dubbeltariewe te laat doen. ‘n Soort autistiese wiskunde-genie met ‘n bloedlyn wat terugloop tot by ‘n verwantskap met Count Dracula en met die emosionele ontwikkelingspeil van ‘n Neanderthaler? En boonop nog toegerus met die fatalisties begronde taalvaardighede van ‘n natuurwetenskaplik- opgeleide mistagoog.
“Duh! Jammer, meneer dit is nou maar eenmaal soos dit is. En: “Verskoon my meneer, maar ek moet sonder versuim vandag nog ‘n kragonderbreking bestuur. Ons kan die diens net van tyd tot tyd bly lewer as ons die diens van tyd tot tyd nie lewer nie. Duh!”
“Wenn es in Bonn nicht regnet sind die Schranke zu.”