Woordfees in Oktober, opwipfees Junie

Woordfeesdatums vir 2022 bekend

Die Toyota US Woordfees kon Maandagaand (14 Maart) die eerste keer sedert Maart 2020 weer die gesellige Langtafel aanbied. Dié geliefde tradisie is tradisioneel die amptelike begin van die Woordfees, maar vanweë onsekerheid rondom die pandemie is besluit om nie vanjaar ’n fees vir Maart in Stellenbosch te beplan nie.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW Projek, het egter onder luide toejuiging aangekondig dat ’n fees in die vlees vir 10 tot 15 Oktober vanjaar in die vooruitsig gestel word.

“Hoewel daar steeds ’n Covid-wolk oor die beplanning van samekomste hang, is ons versigtig ambisieus en hoopvol dat ons vanjaar in Oktober ’n Woordfees in persoon sal kan vier. Die kunstebedryf en die dorp se gasvryheidsektor het dit nodig en ons kan nie wag om weer feesgangers te ontvang nie.”

Maar dis nie die enigste feesplanne vir die jaar nie. Gugu Aseda, inhoudsportefeulje-bestuurder van MultiChoice, het namens DStv by die Langtafel gepraat. Sy het gesê Woordfees TV, wat van 1 tot 10 Oktober 2021 as ’n pioniersprojek op ’n opwipkanaal uitgesaai is, was so suksesvol dat DStv-kanaal 150 weer vanjaar gebruik kan word om vanaf 1 Julie ’n TV-fees in Suid-Afrika en Namibië aan te bied.

Feesentoesiaste kan dus gedurende die winterskoolvakansie ook knus tuis die kunste geniet. DStv-intekenaars met ’n Premium-, Compact Plus- of Family-pakket sal toegang tot DStv-kanaal 150 hê. Meer inligting oor die duur en omvang van die TV-fees sal eersdaags bekend gemaak word.

Die komediant Alfred Adriaan was die seremoniemeester vir die aand en die ongeveer 650 Langtafelgaste is deur die Mike Campbell Orkes en die Universiteitskoor Stellenbosch vermaak. Die US Koor, wat sedert 2012 nommer een op die internasionale Interkultur-ranglys van 1 000 amateurkore is, het verwerkings van drie ikoniese Suid-Afrikaanse liedjies uitgevoer: Bright Blue se “Weeping”, Laurika Rauch se “Stille waters” en Miriam Makeba se “Pata Pata”.

Die Langtafel is in vennootskap met Stellenbosch Wynroetes aangebied wat landgoedwyn voorsien het. Van die Eikestad se voorste restaurante het die spyseniering behartig. Gaste kon kies tussen piekniekstyl etes wat deur Bertus Basson se Eike, Spier, De Warenmarkt, Blaauwklippen of Hussar voorberei is.

Die Mike Campbell-orkes het by die Langtafel opgetree.
Die Woordfees word vanjaar in Oktober gehou.
Die begin van die Woordfees soos mense daaraan gewoond geraak het: met die tradisionele Langtafel. Foto’s: Nanette Evenhuis.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!