Afrika se vermoë om by klimaatsverandering aan te pas belemmer deur gebrek aan data en navorsing
Oor die afgelope drie dekades het Afrika slegs 3.8% van globale befondsing vir klimaat-verwante navorsing ontvang, maar die meeste van dié fondse is aan instansies in Europa en Noord-Amerika toegeken.
Dit is ten spyte van die feit dat die meeste Afrika-lande van die minste tot globale kweekhuisgasemissies bygedra het, en tog alreeds wydverspreide verliese en skade weens klimaatsverandering gely het.
Volgens die jongste interregeringspaneel oor klimaatsverandering werkgroep 2 se verslag “Climate Change 2022: Impacts, Adaptation and Vulnerability, woon 3.3 tot 3.6 biljoen mense in “brandpunt” areas wat hoogs kwesbaar is vir klimaatsverandering, en die meeste van dié areas is in Afrika, Suid-Amerika en Asië geleë.
Volgens die hoofstuk oor Afrika, word klimaatverwante navorsing in Afrika erg deur ’n gebrek aan navorsingstoekennings geraak. Die balans tussen toekennings en die ongelyke verhouding tussen navorsers in Afrika en hul vennote in Europa en Noord-Amerika is onderling onmeetbaar wanneer Afrika se hoë vlak van kwesbaarheid vir die impakte van klimaatsverandering in ag geneem word.
So byvoorbeeld is omtrent alle befondsing vir Afrika-verwante navorsing afkomstig vanaf buite Afrika. Volgens die verslag is 78% van befondsing vir Afrika-verwante navorsing vanaf 1990 tot 2020 aan instansies in Europa en die Verenigde State van Amerika toegeken – slegs 14.5% is toegeken aan instansies in Afrika. Kenia (2.3% van totale befondsing) en Suid-Afrika (2.2%) is die enigste Afrika-lande op die lys van die top 10 lande in die wêreld waar plaaslike instansies befondsing vir klimaatsverwante navorsing in Afrika ontvang.
Die implikasies van dié verslag, wat op 28 Februarie 2022 bekendgemaak is, is onlangs bespreek tydens ’n webinaar wat deur die African Climate Development Initiative (ACDI) by die Universiteit van Kaapstad en die skool vir klimaatsverandering (SKV) by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied is.
Gedurende die webinar het dr Chris Trisos, een van die hoofskrywers van die Afrika-hoofstuk, gesê tot dusver het navorsing hoofsaaklik op ekosisteme, voedselstelsels en water gefokus. Ander hoë-risiko sektore, soos gesondheid en stede, het aansienlik minder befondsing ontvang. Trisos is verbonde aan die African Climate Development Initiative (ACDI) by die Universiteit van Kaapstad.
Die gebrek aan navorsing wat op Afrika gefokus is, hou ernstige gevolge in. Dit beteken dat die navorsingsagenda hoofsaaklik deur die lens van die Global Noorde se belange bepaal word. Navorsers in Afrika word betrek om dié navorsingagendas te ondersteun, instede daarvan om op gelyke vlak die projekte te lei. Die gebrek aan leierskap in navorsing en befondsing dra by tot Afrika se onvermoë om toepaslike oplossings vir die impakte van klimaatsverandering te vind.
Volgens die verslag het ’n analise van meer as 15 000 publikasies oor klimaatsverandering getoon dat, in die geval van meer as 75% van Afrika-lande, het 60-100% van hierdie publikasies nie ’n enkele plaaslike navorser ingesluit nie. Die skrywers was oorwegend vanaf meer welvarende lande buite Afrika.
Die situasie word verder vererger deur die gebrek aan data afkomstig vanuit Afrika:
- Daar is baie min weerstasies in Afrika, en die wisselvallige verskaffing van data beperk navorsers se vermoë om die verandering in klimaat vir sekere dele van Afrika oor die lang termyn te bepaal. Dit beperk ook hul vermoë om meer akkurate voorspellings oor klimaatverandering te maak.
- Gedurende 2000-2010 het slegs 25 van die 54 Afrika-lande een nasionaal-verteenwoordigende opname gedoen wat gebruik kan word om die vlakke van armoede te bepaal, en 14 lande het geen opnames gedoen nie.
Weens hierdie uitdagings word die meeste kennis oor die impak en risiko van klimatsverandering gegrond op globale studies wat steun op data wat van buite Afrika afkomstig is.
Wat is Suider-Afrika se potensiaal om by klimaatsverandering aan te pas?
By ’n kollokwium wat deur Suid-Afrika se presidensiële klimaatskommissie op 3 Maart 2022 georganiseer is, het prof Guy Midgley gesê min mense is bewus van die feit dat ekosisteme op land en die oseaanoppervlak meer as twee derdes van ons emissies absorbeer: “Hierdie ekosisteme is al vir dekades besig om groot hoeveelhede van ons koolstofemmissies te absorbeer. Dit is noodsaaklik dat hulle beskerm word. Ekosisteen-gebaseerde aanpassing in Afrika is ongelooflik waardevol as deel van ons volhoubare response op klimaatsverandering.” Midgley is interim-direkteur van die skool vir klimaatstudies by die US, en hoof van die globale verandering in biologie-navorsingsgroep in die departement plant- en dierkunde. Hy is ook ’n mede-hoofskrywer van hoofstuk 16 oor sleutelrisikos vir die jongste IPCC-verslag.
Dr Debra Roberts, mede-voorsitter van werkgroep 2, sê daar is twee pertinente areas waarop Afrika moet fokus: “Eerstens, Afrika ervaar tans die vinnigste verstedelikingskoers ter wêreld. Ons moet stede gebruik om meer klimaatsweerstandige gemeenskappe te bou. Hierdie is ’n groot geleentheid vir Afrika om stede op ’n meer regverdige en onpartydige manier te ontwikkel. Tweedens, Afrika is geseën met ’n rykdom van natuurlike hulpbronne. Deur 30 tot 50% van ons ekosisteme en waterbronne te beskerm, kan ons hierdie waardevolle natuurlike kapasiteit tot ons voordeel gebruik.” Sy is ook hoof van die Sustainable and Resilient Cities Initiative van die eThekwini munisipaliteit.