Sandra Prinsloo wen groot by 57ste Fleur du Cap-toekennings
Die toekenning van vanjaar se Fleur du Cap-toekenning vir Lewensbydrae was nie die enigste prestasie vir die talentvolle doyenne van die teater, Sandra Prinsloo, op vanaand (27 Maart) se gala-geleentheid op Nederburg buite die Paarl nie.
Die beminde en veelbekroonde aktrise van sowel die verhoog as die groot skerm het ook die 2022-toekenning ontvang vir die beste vertoning in ’n eenpersoonvertoning. Dit is vir haar uitbeelding van Elsa Joubert in Spertyd, die verhoogweergawe van die bekende Suid-Afrikaanse skrywer se lewensverhaal van oud word, verlies en aanvaarding.
“Prinsloo (74) het oor baie jare uitgeblink op die verhoog in sowel plaaslike as internasionale film en TV,” sê Lizelle Malan van Distell, die borg van die jaarlikse Fleur du Cap-teatertoekennings. “In haar ryk en uiteenlopende loopbaan het Prinsloo ’n uitgebreide reeks karakters vertolk en elkeen met individualiteit, menslikheid, nuanse en diepte gevul. Sy was ’n mentor en inspirasie vir geslagte akteurs en het geredelik en vrygewig bygedra tot die Suid-Afrikaanse teater. Sy het ’n groot rol gespeel in die internasionale erkenning wat dit geniet.
“Haar uitbeelding van die skrywer, Elsa Joubert, met sulke ystere grasie, humor en dapperheid in Spertyd is maar net een voorbeeld van haar reuse-talent. Ons is trots om geassosieer te wees met haar welverdiende prestasie en hoop sy gaan voort om haar talente ten toon te stel aan gehore.”
Africa Melane, voorsitter van die beoordelingspaneel, sê: “Sandra Prinsloo bied in gelyke mate uitstekende intellek, verstommende talent en ’n onberispelike werketiek, soos haar vroulike rolle in Shakespeare, Chekov, Williams en Strindberg getuig. Haar optrede in verhoogstukke van P G du Plessis, Bartho Smit, Rachelle Greeff en Nico Scheepers is eweneens onvergeetlik.”
Prinsloo het reeds die Arts and Culture Trust (ACT) Lifetime Achievement Award for Theatre in 2013 verwerf, en in 2014 het sy die Order of Ikhamanga (silwer) van die regering ontvang. Melane sê sy is destyds nie net vir haar uitstekende bydrae tot die uitvoerende kunste geloof nie, maar ook vir haar gebruik van die kreatiewe kunste om standpunt teen rassisme in te neem. Sy is “die trots van die land se kultuurgemeenskap” genoem. In 2018 het sy die Lewensbydrae-toekenning van die Naledi-teatertoekennings ontvang.
Prinsloo was ook nie die enigste persoon wat meer as een toekenning op die gala-geleentheid ontvang het nie, ’n bittersoet geleentheid, aldus Malan.
“Vir die teatergemeenskap om weer na twee jaar in persoon bymekaar te kom, was ’n vreugdevolle ervaring. Ja, dis deurdrenk met hartseer na soveel lyding, maar dit kom as ’n teken van hoop, ’n aanduiding dat ’n bedryf wat so kwaai deur Covid getref is deur sluitings van plekke en verlies van lewe en inkomste weer terugkeer na lewensvatbaarheid. Ons weet daar is steeds ’n land pad na herstel, maar die grootste eerbewys wat ons kan betoon vir die dapperheid van diegene wat aan die Suid-Afrikaanse verhoog behoort, is om voort te baklei totdat die teater in sy volle glorie terug is.
“Wat ons optimities maak, is nie net die diepte van die plaaslike talent nie, maar ook sy opwindende omvang. Baie nuwe name sluit by die land se voorste kunstenaars aan. Jong en ervare spelers wat in die hoofstroom en eksperimenteel optree, asook in klassieke en nuwe stukke van sowel internasionale as inheemse oorsprong, toon ’n bedryf ryk in geleentheid en mentorskap wat op ’n lang lewe dui.”
Valsrivier, aangepas van die roman van Dominique Botha, was die mees bekroonde produksie van die aand. Anna-Mart van der Merwe het die toekenning vir die beste aktrise in ’n hoofrol gewen, Peggy Tunyiswa vir die beste aktrise in ’n ondersteunende rol en Wolf Britz vir die beste beligtingsontwerp.
Onder die dubbele wenners van toekennings was A Howl in Makhanda, a semi-autobiografiese verhoogstuk oor veiligheid en waarneming geskryf en geregisseur deur Qondiswa James, wat ook die toekenning vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse teks ingepalm het. Die komponis, Jannous Aukema, het gewen vir die stuk se beste klankontwerp en oorspronklike musiek.
Die Lady Aoi, aangebied deur Abrahamse & Meyer Productions, het toekennings gekry vir sowel beste stelontwerp as beste kostuumontwerp in die plaaslike aanbieding van Yukio Mishima se moderne Noh-meesterstuk.
Aangebied deur Eric Abraham en die gewese Fugard-teater, het Athol Fugard se Master Harold… and the Boys ook twee keer gewen met Desmond Dube wat as die beste akteur in ’n hoofrol aangewys is en Siya Mayola as die beste akteur in ’n ondersteunende rol.
Malan sê die borge is besonder trots om betrokke te wees in die aanbied en bevordering van nuwe plaaslike talent in die persoon van Sipenathi Siqwayi wat Ganga Nyoko! Inzima Nyoko! (Catch, Brother! It’s Hard, Brother!) geregisseur het, ’n aanbieding in isiXhosa en Engels.
“Makudupanyane Senaoana se toekenning as beste manlike sanger in Curlew River en Siphokazi Molteno s’n as beste vroulike sanger in die opera Così fan tutte laat die kollig val op ’n nuwe generasie stemme wat tot hul eie reg kom met hul uitdrukking van klassieke, internasionale operas.”
Malan het ook die Magnet-teater geloof wat vanjaar se innovasie in teater-toekenning gewen het met sy Early Years Theatre Incubator Project. Die teater is sedert 2014 besig om Afrika-teater te ontwikkel vir voorskoolse gehore. Dit skep en ontwikkel nie net nuwe en unieke Suid-Afrikaanse en Afrika-stukke vir aanbieding plaaslik en oorsee nie, maar bied ook opleiding in toneelspel en verhoogkuns aan.
Melane het dit beklemtoon dat die ontwikkeling en koestering van gehore vir die toekoms noodsaaklik is vir die volhoubaarheid van die bedryf. “Die skep van nuwe stukke vir kinders tussen nul en sewe jaar kan net geloof word. Dit is dikwels hierdie werk wat gehore hul heel eerste blootstelling gee aan lewende vertonings. Kan jy jouself ’n groter eer indink as kunstenaar?”
Die Magnet-teater het wyd getoer in sowel Afrika as die buiteland met produksies wat in die projek ontwikkel is en sodoende hul voltydse leerlinge blootgestel aan samewerking met leerlinge in Kameroen, Kenia, Nigerië, Uganda en Zimbabwe.
Wenners is vanjaar in 19 kategorieë aangekondig. Musikale vertolkings in toneelstukke is saamgevoeg by dié vir musiekblyspele en musiekteatervertonings gegewe die beperkte getal musiekblyspele wat in 2020 en 2021 aangebied is.
Die volledige lys wenners van 2022, is:
BESTE NUWE SUID-AFRIKAANSE TEKS
Qondiswa James | A Howl in Makhanda
BESTE NUWE REGISSSEUR
Sipenathi Siqwayi | Ganga Nyoko! Inzima Nyoko!
BESTE VERTOLKING DEUR ’N ENSEMBLE
Wessel Pretorius en David Viviers | The Waterworks Anthology | Verskeie rolle
BESTE VERTOLKING IN ’N REVUE, KABARET OF EENPERSOONVERTONING
Sandra Prinsloo | Spertyd | Elsa Joubert
BESTE BELIGTINGSONTWERP
Wolf Britz | Valsrivier
BESTE STELONTWERP
Fred Abrahamse en Marcel Meyer | The Lady Aoi
BESTE KOSTUUMONTWERP
Fred Abrahamse en Marcel Meyer | The Lady Aoi
BESTE KLANKONTWERP, OORSPRONKLIKE MUSIEK, KLANKBAAN OF LEWENDE VERTONING
Jannous Aukema | A Howl in Makhanda | Klankontwerp en oorspronklike musiek
BESTE VERTOLKING IN ’N OPERA – MANLIK
Makudupanyane Senaoana | Curlew River | Madwoman
BESTE VERTOLKING IN ’N OPERA – VROULIK
Siphokazi Molteno | Così fan tutte | Dorabella
BESTE VERTOLKING DEUR ’N AKTEUR IN ’N ONDERSTEUNENDE ROL IN ’N TONEELSTUK, MUSIEKBLYSPEL OF MUSIEKTEATERPRODUKSIE
Siya Mayola | Master Harold… and the Boys | Willie
BESTE VERTOLKING DEUR ’N AKTRISE IN ’N ONDERSTEUNENDE ROL IN ’N TONEELSTUK, MUSIEKBLYSPEL OF MUSIEKTEATERPRODUKSIE
Peggy Tunyiswa | Valsrivier | Mary Dlamini
BESTE VERTOLKING DEUR ’N AKTRISE IN ’N HOOFROL IN ’N TONEELSTUK, MUSIEKBLYSPEL OF MUSIEKTEATERPRODUKSIE
Anna-Mart van der Merwe | Valsrivier | Sandra Botha
BESTE VERTONING DEUR ’N AKTEUR IN ’N HOOFROL IN ’N TONEELSTUK, MUSIEKBLYSPEL OF MUSIEKTEATERPRODUKSIE
Desmond Dube | Master Harold… and the Boys | Sam
BESTE REGISSEUR
Paul du Toit | The Unlikely Secret Agent
BESTE PRODUKSIE
Pieter Toerien Productions | The Producers
TOEKENNING VIR MEES BELOWENDE STUDENT
Byron McKeith | Northlink College
TOEKENNING VIR INNOVASIE IN TEATER
Magnet-teater se Early Years Programme
TOEKENNING VIR LEWENSBYDRAE
Sandra Prinsloo
Die wenners ontvang elk R15 000 en ’n silwer medalje. Die 2022 Fleur du Cap-teatertoekennings is ge-ouditeer deur The Finance Man, met regsdienste verskaf deur Cluver Markotter.