Simone wen silwer in SA’s
Simone van der Merwe, ’n gr. 8-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het in Maart aan die Suid-Afrikaanse Tweekamp-kampioenskappe in Gqeberha (Port Elizabeth) deelgeneem waar sy ’n silwer medalje verower het. Sy en haar teenstander het behoorlik vir die eerste plek baklei, want Simone was met ’n skrale 0.21 punte in die tweede plek.
Twee leerders van die Hoër Meisieskool Bloemhof, Milla Kotze (gr. 8) en Nina van Eeden (gr. 9), was deel van die o.15-Bolandtennisspan wat van 18 tot 22 Maart aan die interprovinsiale tennistoernooi in Groenkloof, Pretoria deelgeneem het. Milla is die span se no. 1 en Nina het in die no.3-posisie gespeel.
Die span het teen sterk kompetisie van regoor die land meegeding om uiteindelik ’n algehele derde plek te verower – hulle het slegs met een punt teen KwaZulu-Natal in die semi-finaal verloor en in hul laaste wedstryd die Gauteng-noordspan geklop.
Milla is na afloop van die toernooi in die Suid
-Afrikaanse o.15-tennisspan opgeneem. Dié span vertrek einde Junie na Londen waar hulle onder andere vir SA in ‘n toernooi by die prestigeryke Bisham Abbey Sport Centre sal verteenwoordig en ’n besoek aan Wimbledon kan aflê.
Milla is ook na afloop van die FS Growthpoint en die SA Nasionale
-tennistoernooi vir die o.14 SA-span gekies, wat van 2 tot 8 Mei aan die ITF/CAT-Sonekampioenskappe in Zimbabwe gaan deelneem. Daar sal hulle teen ander Afrika lande meeding.