Studie toon vroulike regslui in SA word steeds ongelyk behandel
Hoewel vroue in regsberoepe in Suid-Afrika reeds groot vooruitgang gemaak het en al neem die aantal vroue in dié beroep bestendig toe, is dit vir hulle steeds moeilik om tot senior posisies te vorder of om vennote in regsfirmas te word.
Dít is volgens dr Tamlynne Meyer wat onlangs haar doktorsgraad in sosiologie aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.
Meyer het gekyk na hoe en waarom vroueprokureurs, veral swart vroue prokureurs, nog steeds gemarginaliseer word, al is formele struikelblokke uit die weg geruim en al word wetgewing en beleide toegepas om transformasie in die beroep te bevorder. Sy het twee belangrike vrae hieroor gevra: Tot watter mate is die beroep vervroulik, en watter faktore belemmer vroue se loopbaanvooruitsigte?
“Omdat vroue die onderwerp van Suid-Afrika se transformasieprojek is, het my studie gekyk na die wesenlikheid van hul alledaagse lewe soos hulle dit beleef en ondervind om ’n prokureur in ’n beroep te wees wat histories deur wit middelklasmans oorheers is,” sê Meyer.
“Oor die algemeen verduidelik die studie die uitdagings waarmee vroueprokureurs gekonfronteer word, asook die maniere waarop hulle marginalisering en ongelykheid ervaar.”
Meyer het as deel van haar doktorale navorsing die kwantitatiewe data versamel deur statistiek van die Prokureursorde se LEAD-databasis te gebruik om ’n beskrywende en voorspellende ontleding aan die hand van die veranderlikes van geslag en ras te doen. Sy het onderhoude met vroueprokureurs gevoer om die ingewikkeldheid van die faktore te ondersoek wat uiteindelik hul loopbaanvooruitsigte strem asook hoe hulle uitsluiting en marginalisering binne die beroep ervaar.
Volgens Meyer het haar studie lig gewerp op die geslagtelike organisatoriese, sosiale en kulturele faktore wat die ervarings van vroueprokureurs beïnvloed, wat sosiale uitsluiting moontlik maak, en aanleiding gee tot die wit manlike oorheersde beroep.
Sy sê sosiale uitsluiting verwys na die manier waarop ʼn sosiale groep grense bepaal en mag en invloed uitoefen sodat die hulpbronne, geleenthede en voorregte net aan ’n uitgesoekte handjievol beskikbaar is. Dit word gewoonlik deur ongelykheid, marginalisering, uitsluiting en elitisme op veronderstelde onsigbare, informele, komplekse, versteekte en genuanseerde maniere geopenbaar.
“Dit word gewoonlik sigbaar deur die kultuur wat die regsberoep waardeer en respekteer – om vermanlik en wit middelklas te wees. Vandaar word al die voorregte, sosiale, kulturele en ekonomiese kapitaal van die wit middelklas gewaardeer en gerespekteer. En diegene wat nie aan hierdie geïdealiseerde kultuur kan of wil voldoen nie, word op verskeie maniere uitgesluit – dikwels baie subtiel, versteek en implisiet.
“Dit kan byvoorbeeld in verskillende plekke en op verskillende maniere gebeur – in teekamers, hysbakke, raadsale van regsfirmas. En dit hou dikwels verband met die soort gesprekke wat prokureurs voer en wie toegelaat word om daaraan deel te neem.
“In ander gevalle gaan dit oor wie uitgenooi word na die firma se sosiale geleenthede en informele sakereise. En deur nie hieraan te kan deelneem nie, beteken netwerkgeleenthede wat uiters belangrik is vir ’n prokureur se loopbaanvordering is beperk. Vroue word dus uitgesluit, ly ’n verlies aan netwerkgeleenthede en hul loopbaangeleenthede word minder.”
Meyer voeg by dat vroue se teenwoordigheid in die beroep nie noodwendig beteken hulle het ’n stem om enige betekenisvolle verandering aktief te fasiliteer nie. Dit is nie net omdat hulle nie magsposisies beklee wat aan hulle die gesag gee om hul stem te laat hoor nie, maar ook weens ’n kultuur wat vrouestemme stilmaak in die beroep.
Meyer sê betekenisvolle transformasie in die regsberoep moet meer as net die nakoming van wetgewing en numeriese teikens wees.
“Die uitvaardiging van wetgewing en die stel van numeriese teikens is egter wel nodig en die moeite werd, aangesien dit die opening van en instaatstelling van ruimtes fasiliteer en ongelykheid uitdaag.
“Dit lei egter nie tot radikale transformasie of verandering nie. Wetgewing, beleide en teikens kan nie die maniere aanspreek waarop sosiale uitsluiting werk om vroue uit te sluit en marginaliseer nie.
Volgens Meyer moet ’n transformatiewe en inklusiewe agenda vir vroue in die regsberoep meer verbeelding aan die dag lê as die uitvaardiging van wetgewing, beleide en numeriese teikens.
“Om betekenisvolle verandering in die beroep te weeg te bring, moet ons verstaan en ondersoek hoe dit geproduseer, in stand gehou en gereproduseer word. Ons sal met subjektiewe ervarings van vroueprokureurs, geslags-, rasse- en klasbestelle moet omgaan om te sien hoe hulle op professionele kulture en praktyke en op die samelewing se sienings en verwagtings wat op verskillende groepe geplaas word, inwerk.
“Ons moet ook op ’n innoverende manier optree en die sienings en ingesteldhede van prokureurs, bestuurslede, kliënte en vroue self aanspreek, aangesien hulle sentraal staan in die bevordering van die transformatiewe projek van die beroep,” voeg Meyer by.