Bloemhof takel Oranje in interskole

Gees loop hoog ná drie jaar sonder Bloemhof/Oranje-interskole

Die 24ste onterskole tussen die HMS Bloemhof en C & N Meisieskool Oranje kon ná drie jaar uiteindelik weer verlede naweek plaasvind. Die lang rusperiode as gevolg van die Covid-19 pandemie het gesorg dat die leerders en personeel ekstra geesdriftig was.

Sedert 1996 word hierdie geleentheid gelyktydig met die Paul Roos Gimnasium en Grey College se interskole gehou.

Hierdie jaar het dit in Stellenbosch plaasgevind en tot ‘n toename in toeskouers en verkeer gelei.  Maar wat is Stellenbosch dan nou sonder verkeer?

Die program het Donderdag 18 Augustus afgeskop met die kore van beide skole wat by LS Gene Louw in Durbanville gesing het. Hierdie geleentheid is baie waardevol aangesien dit ‘n gulde geleentheid is om die skool aan voornemende Bloemhoffers voor te stel.

Vrydagoggend het die leerders oudergewoonte in uitstapdrag by die Markötter-sportkompleks aangetree om die dag met landloop af te skop. Daar was egter geen duidelike wenner hier nie, want dit het met ‘n gelykop-uitslag van 105 punte per span geëindig.

Terselfdertyd is die tenniswedstryde solank by die Woodmill-sentrum se binnenshuise bane gespeel waar Oranje se spelers die botoon gevoer het.

Na die landloop, het leerders na die Bloemhof-sentrum beweeg vir skriflesing en gebed gevolg deur die debatspanne wat mekaar die stryd aangesê het. Die spanning kon met ‘n mes gesny word toe die senior spanne mekaar oor die aanspreeklikheid van bekende figure op sosiale media getakel het.

Bloemhof het egter hul standpunt die beste gestel en verdedig en beide die junior en senior spanne is deur die beoordelaars, Kabous Meiring, Fiona van Kerwel en Ila Alberts, as wenners gekroon.

Die res van die dag is met ‘n kultuurprogram waarin talente met mekaar gedeel is, skaak, vlugbal-, tafeltennis- en hokkiewedstryde gevul.

Die eerste hokkiespanne se wedstryd is ‘n hele paar keer deur kragonderbrekings gestop wat die spanning hoog laat loop het. Uiteindelik moes Bloemhof se eerstes die spit teen Oranje afbyt met ‘n uitslag van 0-5.

Saterdag is nog hokkie- en netbalwedstryde gespeel met Oranje wat ook koning(in) gekraai het in die naelbyt-eindwedstryd tussen die skole se twee eerste netbalspanne. Oranje moes bloed sweet om 24 -21 te wen.

Bloemhof sien daarna uit om Oranje volgende jaar in Bloemfontein aan te pak en hierdie jare lange tradisie voort te sit.

Dankie aan Fairtree wat baie van beide skole se spanne borg en hierdie geleenthede moontlik maak.

Foto’s deur Nellie van der Walt, Jeanni Steenkamomp en Joscelyn van Wyk en Michaela Jay.

Hier is ‘n fotobeeld van die interskole

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!