Stellenbosse skoolkinders help met geld vir Rebelllie – JC Steyn

Geliefde skrywer se stem leef voort in laaste boek

Stellenbosse skoolkinders en die rugbyspelers van ’n Paarlse skool het in 1917 hul gewig by ’n gewigtige saak ingegooi. In Stellenbosch het leerders ’n tyd lank een maal per week sonder ontbyt klaargekom, terwyl die seuns van die Paarl hul rugby-onthaal prysgegee en ooreengekom het om vir ’n hele kwartaal lank net droë brood te eet (hoewel botter later geskenk is en dié uiteindelik ook vir fondswerwing verkoop is).

Só skryf die geliefde en bekroonde skrywer J.C. Steyn in sy laaste boek So is onse mense oor die Kaapse gemeenskap wat in 1917 saam met die res van die land fondse ingesamel het vir die vereffening van die skuld van deelnemers aan die Rebellie van 1914. Dié boek is die afgelope naweek in Steyn se tuisstad, Bloemfontein, bekendgestel en verskyn nagenoeg ’n jaar ná sy skielike afsterwe in September 2021.

Die Rebellie was ’n mislukte opstand weens die Suid-Afrikaanse regering se besluit om op versoek van Brittanje Duits-Suidwes-Afrika tydens die Eerste Wêreldoorlog in te val. In die skets “’n Edele wedywering” in So is onse mense beskryf Steyn hoe Kapenaars, Vrystaters, Natallers én Transvalers bydraes gemaak het tot die Helpmekaarfonds wat vir die Rebelle op die been gebring is. Uiteindelik is die ekwivalent van R80 miljoen so ingesamel en die fondse wat oorgebly het nadat die skuld afbetaal is, is gebruik om studielenings en beurse aan studente toe te ken. “De Burger het gesê dit lyk of die eeu van wonderwerke teruggekom het,” skryf Steyn.

So is onse mense is die derde boek uit Steyn se pen wat deur AfriForum Uitgewers uitgegee is. Dit is ’n versameling “herbesoeke” wat Steyn se vernuf as kultuurhistorikus, kampvegter vir Afrikaans en biograaf met ’n uitsonderlike fyn waarnemingsvermoë ten toon stel. Hierin stel Steyn onder meer ondersoek in na die laaste dramatiese dae van die Anglo-Boereoorlog, hy herontdek die lewe van J.D. Kestell, die man wat liefderik in die volksmond as Vader Kestell bekend gestaan het, loop die pad tot by die manne en vroue van die Vrouemonument, die Brandwaterkom (Steyn se grootword-wêreld), Afrikaans se bittere negentigste verjaarsdag, en verskeie ander outobiografiese vertellings oor mense en dinge wat hom inniglik geboei het. Hy skryf ook oor die Britse koningsgesin se besoek aan die Van der Merwe-gesin se plaas in die Boland in 1947 en die “koningskos” waarop die koninklikes getrakteer is.

Dr. Johan van Zÿl, senior vakkundige van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Smith, Marthie Kemp, Steyn se susterskind, en Wyno Simes, kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, NALN, het tydens die bekendstelling Steyn se lewe, werk en sy laaste boek bespreek.

Volgens Van Zÿl maak So is onse mense ’n uitsonderlike bydrae tot die verbreding van die historiografie van die Anglo-Boereoorlog, een van die belangrikste momente in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Smith het op sy beurt ’n blik gebied op Steyn se lewe en werk as joernalis van die Volksblad en in later jare as gereelde kommentator oor veral taalaangeleenthede in dié blad. Steyn was vanaf Januarie 1959 verbonde aan dié dagblad se redaksie as vertaler, verslaggewer, subredakteur en hoofsub. Smith het die hoop uitgespreek dat Steyn se werk, soos dié van Schoeman, ná sy dood verder vereer sal word. “Sy versameling, sy kennis en sy woorde is ongelooflik en het by die Volksblad begin,” het Smith gesê.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en voorsitter van die AfriForum Uitgewers-direksie, het benadruk dat AfriForum Uitgewers bevoorreg is om Steyn se laaste boek die lig te laat sien en te kan help toesien dat Steyn se werk vir die nageslag behoue bly.

Foto 2: Ilze Nieuwoudt (publikasiebestuurder van AfriForum Uitgewers), Alana Bailey (uitvoerende hoof van AfriForum Uitgewers), J.C. Steyn se suster, Ria Müller, en haar dogter, Marthie Kemp, en Kallie Kriel (voorsitter van die AfriForum Uitgewers-direksie). Müller en Kemp was eregaste by die bekendstelling van Steyn se laaste boek, So is onse mense.

 

Charles Smith (regs), nuushoof van Volksblad, tydens die bekendstelling van So is onse mense deur wyle J.C. Steyn. Steyn het as jong joernalis in 1959 by die redaksie van Volksblad aangesluit. Wyno Simes (links), kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), het tydens die bekendstelling onder meer vertel van die navorsingswerk wat Steyn deurlopend by NALN gedoen het.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!