Stellenbosch in volle blom vir tuin- en buitelugfees

Fees bied lowergroen boeket van blomme, kos, wyn en kuns

Een van die land se prominente tuinleefstylfeeste keer terug ná sy bekendstelling verlede jaar en is weer ’n vars hoogtepunt vir Suid-Afrika se gunsteling eikeboomdorp. Stellenbosch ontsien weer geen moeite vir tuiniers en liefhebbers van die buitelewe in dié tiendag-lange fees, wat van 20 tot 30 Oktober sy strate en omliggende omgewing sal omskep.

Garden Town Stellenbosch is geïnspireer deur die wêreldbekende blommefees in Girona, Spanje en sal alles van tuinboutoere tot blomkuns insluit. Selfdoen groentetuin-maak, wynproe, verf, begeleide voëlkykstappe, kransmaak, mos-opvoedkundige praatjies, teken met gare, heuningproeë en vele meer – dit is alles op vanjaar se program.

Garden Town Stellenbosch is ’n Visit Stellenbosch-inisiatief, wat bestaan ​​uit die streek se toerisme-belanghebbendes en -vennote, waaronder die Stellenbosch-munisipaliteit en Stellenbosch-wynroetes. Die doelwit is om die toerisme- en ervaringsekonomie in Stellenbosch tot voordeel van alle gemeenskappe uit te brei. Dit betrek baie bekende eiendomme en persoonlikhede, insluitend die Dylan Lewis-beeldhoutuin, Rupert-museum, Quoin Rock, Ernst van Jaarsveld, Lanzerac en Babylonstoren, terwyl dit ook die lewens van mense in die Kayamandi-, Idasvallei- en Klapmuts-gemeenskappe verryk.

Tydens die fees sal die Stellenbosse sakekern versier word met ’n blommetema en prominente installasies. Kleurvolle blomvertonings sal, soos verlede jaar, by openbare ruimtes in Birdstraat gedoen word. Hou jou oë oop vir motors, fietse, ’n Harley Davidson-motorfiets en trollies wat met blomme versier is en in die dorp uitgestal word.

Die program skop op 20 Oktober af met ’n groot blomparade, wat as amptelike bekendstelling van Garden Town Stellenbosch sal dien. En almal is genooi! Trek volgens die tema aan en as jy hulp nodig het, sal daar ’n stalletjie by die Braak, die vertrekpunt, wees wat toepaslike toebehore verkoop.

Die parade sal onmiddellik gevolg word deur ’n blomme-weergawe van die dorp se somer-opskiet straatgeselligheid – ’n tuin soiree. Dit vind van 19:00 tot 21:00 by Voorgelegen se vernuwende tuine plaas.

Talle aanbiedings en installasies sal by die Stellenbosch-stadsaal in die hartjie van die dorp plaasvind. Dit word deur die Wes-Kaapse Vereniging vir Blommerangskikkers (WCAFA) georganiseer. Blommeklubs sal van 22 tot 29 Oktober deelneem en daar sal ook werkswinkels en blomme rangskikkingsgeleenthede en -meesterklasse wees.

Die stadsaal sal ook ’n kunsuitstalling deur The Voice Collective aanbied.

Tuine op skou

Private wonings se tuine sal op Vrydag 21 Oktober en 28 Oktober en Saterdag 22 Oktober en 29 Oktober, vir besoekers oop wees. Besoekers word aangeraai om die program na te gaan, om te sien watter tuine wanneer oop is. ’n Toegangsfooi van R20 per tuin sal gehef word. Alternatiewelik kan ’n naweekpaspoort van R200 gekoop word, wat toegang tot al die tuine bied.

Sommige privaat-tuine sal deel van ’n nuwe kompetisie vorm. Die munisipaliteit se eerste burgemeester-tuinkompetisie sal op tuine in nuwe behuisings- en gemeenskapsontwikkelinge fokus. Vyf nuwe behuisingsgebiede is geïdentifiseer om oorweeg te word: Mandela City in Klapmuts, Hillside in Idasvallei, Watergang in Kayamandi Jamestown, en La Motte in Franschhoek.

Die streek se beroemde tuine is natuurlik slaggereed om op hul beste te lyk tydens die geleentheid, waaronder Old Nectar, Babylonstoren, Hawksmoor, Schoongezicht by Rustenberg en Aspidistra en Bonne Esperance. Gaan die program na vir elkeen se onderskeie openingstye.

By baie van hierdie tuine sal werkswinkels, praatjies en toere aangebied word. Babylonstoren se span sal byvoorbeeld besoekers wys hoe om ’n tussie-mussie te maak, die werk wat bye verrig, is die fokus tydens ’n begeleide stap; Ernst van Jaarsveld bied van sy spesiale versamelings aan, asook ’n toer deur hul kombuistuin.

Werkswinkels sal ook in Stellenbosch Kloof se Canettevallei, bekend vir sy laventelprodukte, aangebied word. Hierdie praatjies sluit die maak van protea-origami, ’n laventelstaffie, natuurlike seep, en ’n laventelpraatjie en wynproe, in.

By die Joostenberg-wynlandgoed word ’n lente-plaaswandeling aangebied – die perfekte manier om die pragtige Stellenbosch-buitelewe te geniet.

Tydens Boschendal se begeleide staptoere sal geesdriftiges meer kan leer van die plaas se  geskiedenis en hulle regeneratiewe boerderypraktyke en volhoubare tuinmaakbeginsels, terwyl besoekers die indrukwekkende skoonheid van die plaas en sy tuine sal geniet. Hier is ook jou kans om seisoenale kruie uit hul kruietuin te oes en kennis te maak met hul grond-tot-vurk-filosofie.

Lentemark

Paul Roos Gimnasium bied vanjaar die Afgri-lentemark van 22 Oktober aan, wat by die Markötter-sportkompleks plaasvind. Die buitelugmark sal fokus op kos, wyn, tuin en tuisprodukte. Dit sluit die C2M Kiddies Garden in wat propvol vermaak vir die kleintjies bied. As ‘n uitbreiding van die lentemark, bied Paul Roos ‘n verskeidenheid aktiwiteite tydens Garden Town aan. Dit sluit in die Absa-kunstuin, die C2M High Tea met dr Darren Green, werkswinkels wat fokus op die kuns van bonsai, die wonders van fermentasie en eko-drukwerk, asook ‘n besonderse geleentheid met skrywers en reisigers Erns Gründling en Lindie Stander.

Boschendal se tuine is ook oop vir besoekers.
Ernst van Jaarsveld gaan Babylonstorne se kombuistuine bekendstel.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!