Kom besoek Koppieteefontein by vanjaar se Kamers
Die dinamiese Afrikaanse kunstenaar Jak de Priester is een van die bekende uitstallers wat by die jaarlikse Kamers op die Blaauwklippen-landgoed betrokke is. Die uitstalling begin môre (Dinsdag 25 Oktober).
De Priester het in die verlede bekendheid verwerf vir sy Afrikaanse musiek met eietydse aanklank, maar het die afgelope paar jaar as veelsydige kunstenaar naam gemaak.
Hy is ook bekend vir sy TV-program Reis na Gister waar hy met bekendes na hul geboorteplekke gereis en hul lewensverhale vertel het.
Daarna het Koppieteefontein gevolg, ‘n geselsprogram met bekende vroue en nou is Koppieteefontein ook op Blaauwklippen.
Bresoekers is welkom om daar te gaan inloer en gesels – en natuurlik inkopies te doen.
Volgens De Prestier is daar min dinge lekkerder as om inkopies te doen en die Koppieteefontein-leefstylreeks bied iets unieks aan belangstellendes.
Die reeks is ‘n uitvloeisel van De Priester se skeppende gees en bestaan uit verskillende kunswerke en produkte met van sy lirieke daarop. Produkte soos sy bekende teepot, komberse en kussings, pette, t-hemde, plekmatjies en nog vele meer sal te koop wees.
Sedert hy in 2002 die ATKV se Crescendo-kompetisie met “Sally Williams Nougat” gewen het, het hy ʼn onmisbare baken in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld geword en het hy uit die staanspoor bewys hy is geen eendagslelie wat net so vinnig verwelk soos wat hy begin blom het nie
Jak en sy gesin het die afgelope jaar of drie opwindende nuwe dinge beleef en hulle het besluit om van die noorde na ʼn eiendom in Kleinmond te trek waar hy met ʼn restourasieprojek besig was. Die skool in Pretoria waar die kinders toe nog skoolgegaan het, het voortgegaan met afstandsonderrig en hulle kon dus sonder enige moeilikheid hulle skooljaar in Kleinmond voltooi.
“ Die tydperk wat ons in Kleinmond gebly het, het ons egter besef dat ons dalk sal moet kyk na ander blyplek om voorsiening te maak vir almal se behoeftes. My oudste seun, Jamie, speel tennis, my dogtertjie, Mija, dans en ek wil vinnig by die lughawe uitkom wanneer ek êrens heen moet vlieg. Ons het gaan sit en somme maak, en verskillende opsies oorweeg en ons keuse het op Somerset-Wes geval,” sê hy.
Hy het ook van einde verlede jaar by Chas Everitt op Stellenbosch begin werk omdat hy nog altyd ʼn belangstelling in eiendomme gehad en het al verskeie projekte aangepak waar hy ʼn eiendom gekoop het, ʼn paar veranderings aangebring en opgeknap het, net om dit dan weer te verkoop. Hierdie het vir hom na ʼn wonderlike geleentheid geklink om in onsekere tye ʼn bykomende inkomste te verdien.
Kamers duur van 25 – 30 October toegang is R70 aanlyn en R90 by die ingang en is oop van 09:00 tot 17:00.