Bloemhof se Simone word wêreldkampioen
Simone van der Merwe (gr.8) het die afgelope naweek aan die UIPM Biathle/Triathle wêreldkampioenskappe in Madeira, Portugal deelgeneem en ses goue medaljes gewen.
Die afdelings waarin sy goue medaljes verower het, was:
Triathle gemengde aflos o.15, biathle gemengde aflos o.15, triathle individueel o.15, biathle individueel o.15, triathle meisies o.15 span-medalje en biathle meisies o.15 span-medalje.
Die biathle/triathle bestaan uit ‘n kombinasie van swem, hardloop en laser skiet. Altesaam 650 atlete van 31 lande het hierdie jaar deelgeneem.
Tydens die aflos-item gaan die meisie eerste, hardloop 400m, swem 50m en hardloop weer 400m. Al die hardloop is op die strand en swem is in die see. Sy gee dan oor aan die seun wat dan dieselfde doen.
Die triathle-aflos werk soos volg: die meisie gaan weer eerste, hardloop uit na skietstasies en skiet met ‘n laserpistool op ‘n afstand van 5m. Die atleet moet 5 groen liggies kry voordat sy mag hardloop, so hulle moet die swart kol op die teokenm 5 keer raakskiet. Hoe vinniger die atleet skiet, hoe vinniger mag sy verder gaan. Dan swem hulle 50m, hardloop 600m, gaan skiet weer, swem weer 50m en hardloop weer 600m en gee dan oor vir die seun, wat dan dieselfde doen.
In die indivuduele triathle is dit skiet (5m met een hand, en moet 5 groen liggies kry), hardloop 600m, skiet weer, swem 50m, hardloop 600m, skiet weer, swem 50m en hardloop 600m.
Die biathle individueel is hardloop 800m, swem 100m en hardloop weer 800m.
Simone het in die aflosafdelings saam met haar manlike Suid-Afrikaanse eweknie Rupert Groenewald, van Gauteng, deelgeneem.
Simone is nie ‘n vreemdeling vir hierdie kompetisie nie en het reeds in 2018 aan die wêreldkampioenskap in Egipte deelgeneem en vier goue en een silwer medalje verower. Laasjaar het sy by dieselfde kompetisie in Duitsland twee goue medaljes in die individuele items verower.
Simone sê: “Dit voel fantasties om weer ‘n goue medalje te wen. Ek sou dit nie sonder God kon gedoen het nie.”
Sy meen ook sy het hierdie jaar meer selfvertroue gehad wat bygedra het tot haar sukses, ten spyte van strawwe kompetisie.
Simone se droom is om eendag aan die Olimpiese Spele in atletiek of swem deel te neem.