Oudregter Albie Sachs lewer 4de jaarlikse sosiale geregtigheid-lesing by US
Die ikoniese oudregter van die konstitusionele hof, Albie Sachs, sal vanjaar die vierde jaarlikse lesing oor sosiale geregtigheid op 21 Februarie lewer. Dit lesing word deur die sentrum vir sosiale geregtigheid (SSG) en die leerstoel vir navorsing oor sosiale geregtigheid by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied.
Dit vind heel gepas ’n dag ná wêrelddag vir sosiale geregtigheid plaas wat op 20 Februarie gedenk word om die behoefte aan regverdige en gelyke behandeling vir alle mense te beklemtoon.
Prof Thuli Madonsela, direkteur van die SSG, sê die onderwerp van vanjaar se lesing deur Sachs, “Sosiale geregtigheid en die grondwet: Is dit die land waarvoor ons geveg het?”, het ten doel om saam met die res van die wêreld maatskaplike geregtigheid, tesame met klimaatsverandering, as een van die dringendste uitdagings van ons tyd te beklemtoon.
“Die tydsberekening kon nie beter gewees het nie, veral omdat baie mense hulle rug op die grondwet draai met baie wat sê dit is niks meer as ’n sogenaamde Potemkin-dorp nie, terwyl ander dit verwerp as ’n neoliberale bloudruk wat die status quo laat stagneer,” sê Madonsela.
Sachs beskik as veteran-vryheidsvegter, gevierde skrywer en oudregter wat in die eerste konstitusionele hof van Suid-Afrika gedien het, ongeëwenaarde binne-kennis oor die totstandkoming van ons grondwet en genealogie van die transformatiewe en gelykmakende voorsiening daarvan, verduidelik Madonsela.
“Ons vertrou sy lesing sal aanleiding gee tot nadenke en ’n daadwerklike verandering teweeg bring oor wat van dít word wat die grondwet vir ons in die vooruitsig gestel het,” sê sy.
Sachs het ’n leidende rol in die stryd teen apartheid gespeel en is al met verskeie plaaslike en internasionale toekennings vereer. Hy het op die ouderdom van 21 as advokaat in die Kaapse Balie begin praktiseer en het mense verdedig wat ingevolge die rassistiese statute en veiligheidswette van apartheid aangekla is. Nadat hy twee keer in afsondering aangehou is sonder verhoor – eers vir vyf en toe vir drie maande – het hy in ballingskap in Engeland gegaan, waar hy ’n PhD aan die Sussex-Universiteit behaal het.
Hy is in 1988 in ’n motorbomaanval deur Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte beseer en het sy arm en sig in een oog verloor. Nadat apartheid beëindig is, het Sachs ’n sleutelrol in die opstel van die land se post-apartheid-grondwet gespeel.
Die SSG by die US is verbind tot die bevordering van gelykheid, regverdigheid en die waardigheid van alle mense. Die sentrum poog om deur sy akademiese program en uitreikpogings in die gemeenskap ’n inklusiewer en regverdiger wêreld te skep deur kritiese denke, oop gespreksvoering en betekenisvolle deelname in die breër gemeenskap te bevorder.
Die lesing oor sosiale geregtigheid deur Sachs is ’n belangrike geleentheid vir lede van die universiteitsgemeenskap en die algemene publiek om meer te leer by een van die leiersfigure in die stryd vir menseregte en sosiale geregtigheid. Sy lesing sal ’n kragtige herinnering wees aan die belangrikheid van kollektiewe aksie en volharding om hindernisse te oorkom en verandering teweeg te bring.
- Die lesing op 21 Februarie begin om 18:00 in die Ou Hoofgebou, die tuiste van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid.