Eerste Varsitybekerwedstryd ‘n naelbytstryd soos min
Die FNB Maties het gisteraand (Maandag 20 Februarie) dit tot laat in die wedstryd teen FNB Ikeys gelos om hul eerste oorwinning in die 2023- Varsitybekerreeks te verseker.
Ikeys het vir die grootste gedeelte van die wedstryd voorgeloop en dit het nie gelyk of die Maroentruie die knoop op hul tuisveld gaan deurhaak nie. Op die ou-end het hulle die Danie Craven-stadion laat dreun toe hulle met ‘n skrale twee punte, 21 – 19, teen die Ikeys geseëvier het.
Jurie Matthee, Maties se losskakel, se vlugvoetigheid het daartoe bygedra dat die tuisspan binne die eerste 10 minute van die wedstryd ‘n voorsprong van 9-0 kon opbou danksy sy drie van sewe punte – wat hy ook self verdoel het.
Die Maties se swaarkry het kort daarna begin toe hul blitsvleuel Maselino Pooe ‘n rooi kaart gekry het weens ‘n hoogvat. Ikeys se heelagter, Duran Koevort, het daarna gaan druk om die Kapenaars op die telbord te kry.
Vir die res van die eerste helfte was dit ‘n gestoei met puik verdediging van die Ikeys en danksy goeie samespel tussen hul voor – en agterspelers kon hul senter Lyle Hendricks in die hoekie oorgaan. Ntokozo Makhaza het van die kantlyn af ‘n uitstekende doelskop suksesvol deur die pale gejaag om die besoekers met rustyd met 16-9 te laat voorloop.
Ongedissiplineerde spel deur die Maties en nog ‘n rooi kaart, die keer vir Marco van Rhyn, het die tuisspan tot 14 spelers uitgedun en die Ikeys die geleentheid gegee om nog punte aan te teken vir ‘n voorprong van 19-9. Maties het egter hul vasberadenheid getoon en Thomas Bursey, hul lewendige skrumskakel, het gaan druk. Die vonk hiervoor was ‘n skop-en opvolg deur Luke Burger, terwyl Matthee weer met die doelskop geslaag het om die voorsprong met ‘n enkele punt te vestig. Matthee het, nadat die toeter reeds afgegaan het, met ‘n strafskop geslaag om die oorwinning ‘n werklikheid te maak.
Puntemakers:
FNB Maties 21 (9) – Drieë: Jurie Matthee, Thomas Bursey. Doelskoppe: Matthee (2). Strafskoppe: Matthee (1)
FNB UCT IKEYS 19 (16) – Drieë: Duran Koevort, Lyle Hendricks. Doelskoppe: Ntokozo Makhaza (2). Strafskoppe: Makhaza (1)
FNB Player That Rocks: Asad Moos (UCT Ikeys)