KKNK se eerste jeugkunstefees bring jongmense bymekaar
’n Fees binne ’n fees waar hoërskoolleerders bymekaarkom om die kunste te ervaar met dans, drama, musiek, werksessies en gesprekke wat spesifiek op hulle toegespits is.
Dít is wat deelnemers aan die KKNK se heel eerste Jeugkunstefees, aangebied in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), kan verwag. ’n Bykomende, opwindende element van dié fees is die bekendstelling van aanlyn video’s deur professionele kunstenaars wat bykomende hulpmiddels vir onderwys in die kunste bied.
“Ons bied van 1 tot 4 April tydens die KKNK ’n kyk-, luister-, voel- en ervaar-fees aan, gemik op alle hoërskoolleerders met ’n liefde vir die kunste met spesiale pakkette. Inhoud word saamgestel, sodat groepe ’n geleentheid kry om nie net die kunste buite die klaskamer te ervaar nie, maar ook professionele betrokkenes in die kunste te ontmoet en deel te neem aan gesprekke en werksessies. Dit is ook ’n wonderlike geleentheid om jongmense aan die KKNK bekend te stel, want hulle is inderdaad die gehore van die toekoms,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Volgens Theart is die Jeugkunstefees saamgestel met die oogmerk om opvoedkundige ervarings aan deelnemers te bied.
“Leerders landwyd word uitgenooi om by ons aan te sluit. Daar is ’n skool van so ver as Windhoek wat aangedui het dat hulle die Jeugkunstefees bywoon.” Theart voeg by dat die WKOD ook spesiaal 200 leerders na Oudtshoorn bring.
Anina Lundie, senior kurrikulumbeplanner in skeppende kunste by die WKOD, sê hulle moedig hoërskoolleerders en -onderwysers aan om die eerste KKNK Jeugkunstefees by te woon.
“Hierdie inisiatief deur die KKNK verseker dat leerders aan hoëgehalte-ervarings in die kunste blootgestel word, wat onderrig en leerwerk in die klaskamer versterk. Deur die jeug aan die kunste bloot te stel, word jong gehore gekweek wat nie net op die toekomstige artistieke en sosio-ekonomiese behoeftes van ons provinsie nie, maar ook die res van Suid-Afrika, sal reageer.”
Lundie sê verder dat deelnemers blootgestel gaan word aan dans, drama, musiek en visuele kunste, wat hulle gaan help om vakkeuses in die senior grade en uiteindelik ook loopbaankeuses in die kunste te maak.
“Leerders van alle sfere en sosio-ekonomiese kontekste word uitgenooi na die Jeugkunstefees en hierdie kruisbestuiwing van leerders uit verskillende agtergronde gaan bewustheid van die kunste oor diverse kulture heen ontwikkel. Die belangrikste aspek van die eerste Jeugkunstefees is egter dat dit geletterdheid in en waardering vir die kunste skep, asook toekomstige gehore en liefhebbers van die kunste kweek.”
Op 3 April word die WKOD se ondersteuningsvideo’s, wat in samewerking met die KKNK en professionele kunstenaars oor die afgelope twee jaar opgeneem is vir die vak, Skeppende Kunste bekendgestel. Hierdie video’s word in ’n aanlyn formaat aangebied om as opvoedkundige materiaal en hulpmiddels in die senior fase kurrikulum vir dans, drama, musiek en visuele kunste vir onderwysers en leerders te dien.
“Leerders gaan baat vind by dié video’s wat geskep is deur praktiserende Suid-Afrikaanse kunstenaars, wat dien as rolmodelle en verteenwoordigend is van die oorheersende tale en kulturele kontekste van die Wes-Kaap. Die video’s fokus op die bou van vaardighede in die uitvoerende en visuele kunste, moontlike loopbaangeleenthede, asook entrepreneurskap-vaardighede en hoe dit ’n bydrae tot die kunste-ekonomie van Suid-Afrika kan maak,” sluit Lundie af.
’n Totaal van 107 video’s is vervaardig met onder andere Alan Committie, Ameera Conrad, Arno Carstens, Dean Balie, Dizu Plaatjies, Sylvaine Strike, Tinarie van Wyk Loots, Wessel Pretorius en vele meer. Dit is vervaardig as ’n samewerkende projek tussen die WKOD, Edumedia en die KKNK.
Volgens Roxy Levy, projekbestuurder vir die bekendstelling van die video’s, hou die KKNK se eerste Jeugkunstefees ongelooflike voordele vir leerders in, nie net onmiddellik nie, maar ook in die toekoms.
“Kreatiwiteit en verbeelding word geprikkel, wat hulle toelaat om uit die boks te dink. Leerders word deur optredes en werksessies aangemoedig om emosies te verken, empatie aan te leer, hulle gedagtes, liggaamlike en verbale-vaardighede te gebruik, om sodoende hul eie, unieke stemme te ontwikkel. Hierdie vaardighede word terugneem na die gemeenskappe waaruit hulle kom, waar hulle dit deel en ook hulle maats inspireer. Ons hoop dat die waardevolle vaardighede wat die leerdersgaan ontvang, in enige lewensituasie toegepas kan word en ’n integrale deel van hulle ontwikkel gaan vorm.”
Pholushi Malesa, Absa se streeksbestuurder van alledaagse bankwese in die Oos- en Suid-Kaap, sê as ’n organisasie wat passievol is oor sy rol in die samelewing, sal Absa sessies vir die jeug aanbied wat op finansiële opvoeding en werksgereedheid fokus.
“Dié finansiële sessies sal sleutelonderwerpe insluit soos begroting en hoe om krediet verstandig te gebruik. Die werksgereedheidsessies vorm deel van Absa se ReadytoWork-program, wat ten doel het om jongmense wat gaan werk soek of hul eie onderneming wil skep, met vaardighede toe te rus. Die program verskaf leermateriaal om jongmense te help om die sagte vaardighede te verbeter wat nodig is om doeltreffend van opvoeding na die sakewêreld oor te gaan.”
“Absa gee ook erkenning aan die dikwels onbesonge helde en heldinne wat in ons jongmense se lewens belê en ons sal uit waardering hiervoor ’n middagete hou om die werk wat ons uiters waardevolle opvoeders doen, te erken en te vier,” sluit Malesa af.
- Verskeie pakkette vir die KKNK Jeugkunstefees is beskikbaar, met opsies wat verblyf in- of uitsluit, na gelang van spesifieke behoeftes. Om jou kind in te skryf, kontak Lizané Basson per e-pos by lizane@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337. Die sluitingsdatum vir registrasie is Vrydag 10 Maart.
Die 27ste KKNK vind van 1 tot 9 April op Oudtshoorn plaas
Die heel eerste KKNK Jeugkunstefees word in 2023, in samewerking met die Wes-Kaapse onderwys-departement aangebied.