Schutte neem leisels by Vinpro oor

Vinpro kry nuwe bestuurshoof

Vinpro, die wynbedryfliggaam verteenwoordigend van byna 2 600 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en belanghebbendes in die wynbedryf, het onlangs vir Conrad Schutte as nuwe bestuurshoof aangestel.

Schutte, tans die bestuurder van konsultasiediens by Vinpro, neem die leisels op 1 Junie by Rico Basson oor, wat onlangs as bestuurshoof van die nuwe sambreelliggaam SA Wine, aangestel is.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe uitdaging,” sê Schutte. “Ek sien uit daarna om my begeerte vir die ontwikkeling van mense, die kristallisering van strategiese rigting, my tegniese begrip van die bedryf en toereikende internasionale ervaring in my nuwe rol en tot voordeel van Vinpro toe te pas.”

Schutte is reeds vir die afgelope 13 jaar werksaam by Vinpro. Hy het sy Hons. BSc. (Agric) in wingerdboukunde in 2001 van die Universiteit Stellenbosch behaal. Daarna het hy onder meer as wingerdboukundige by Michigan State University en Thelema Mountain Vineyards gewerk, waarna hy in 2010 by Vinpro as streekskonsultant aangesluit het. In 2018 behaal hy sy meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA) Cum Laude van die US. Hy is reeds sedert 2019 bestuurder van die konsultasiediens by Vinpro.

“Ons sien uit na die nuwe fase wat Vinpro nou betree,” sê Anton Smuts, voorsitter van Vinpro se direksie. “Conrad, wat reeds ’n geruime tyd deel is van die Vinpro-familie en ’n sterk tegniese agtergrond het, is die perfekte persoon om die nuwe rigting wat Vinpro nou inslaan – om nou saam te werk met SA Wine maar te herfokus op plantverbetering, tegniese produksie en gespesialiseerde dienste en die inligtingsbehoeftes van ons wynprodusente, te bestuur.”

Vinpro is ’n nie-winsgewende maatskappy wat byna 2 600 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en belanghebbendes in die bedryf verteenwoordig. Vinpro se beleggings sluit, onder meer, ’n 100% belang in Vititec (Edms) Bpk en ’n 75% belang in Farm MS (Edms) Bpk in.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!