Nuwe plan vir biodiversiteit vir Stellenbosch nodig

Natuurherskepping op Stellenbosch nodig

Daar moet ‘n plan kom op Stellenbosch vir verhoogde biodversiteit. Klimaatsverandering en gierigheid sonder perke is die rede vir ons verswakte biodiversiteit.

So het die bekende plaaslike ekoloog, Dave Pepler, vandeesweek gesê op die jaarvergadering van die Stellenbosch Belangegroep.

“Ons moet ophou om gate in ‘n dyk toe te druk en moet ‘n oorkoepelende plan saamstel om die dorp se biodiversiteit te verhoog. Stellenbos

ch is deurkruis van riviere en hierdie riviere moet gebruik word as koppelings sodat diere en organismes kan beweeg. Ongelukig is een van hierdie riviere, die Plankenbrugrivier, se ecoli-besoedeling so hoog dat dit van die skaal af is. Met die Eersterivier gaan dit ook nie so goed nie. Toe ek in 1971 langs die Eersteivier kom woon het, kon ek ‘n forel of twee gaan vang vir my gaste se aandete. Dis nou ondenkbaar,” het Pepler gesê.

“Die paadjies langs die Eerstrivier is te netjies. Omgevalle bome word afgekap en weggery. Waar moet die uile nou hul neste maak. ’n Hidroloog moet raadgee oor hoe die Eersterivier bestuur moet word, nie ‘n arbeider met ‘n kruiwa nie.

“Burgers met kundigheid moet hul stemme dik maak en hul hulp aan die Munisipaliteit bied. Ons betaal belasting en is geregtig op ‘n gesonde omgewing. Wil die Raad nie die raad en kundigheid van inwoners aanvaar nie, moet burgers die Raad uitstem!

Volgens Pepler moet daar natuurherskepping (“rewilding” ) op Stellenbosch plaasvind. In die afgelope tyd het daar natuurherskepping in  die helfte van Londen se parke plaasgevind met ‘n tsoenami van lewe as resultaat. Daar is wolke van skoenlappers en die voëls is terug.

Die Braak en ander “eilande” moet lewende kerne word wat insekte en voëls lok. Plekke soos die Jannie Marais-plein op die kampus is saai gebiede wat met inheemse wilde plante beplant moet word.

“Baie van ons tuine in die dorp lyk dieselfde. Daar moet lyste van plante beskikbaar gestel word wat insekte en voëls lok en kort voor lank sal die eilande van biodiversiteit  ‘n vasteland word. Groentetuine kan op plekke soos die dakke van die Inenieursfakuteit aangelê word wat honderde mense kan voed.

“Ons moet of droom van n nuwe toekoms of wegloop. Daardie droom moet ‘n oorhoofse visie en plan vir Stellenbosh insluit,” het Pepler afgesluit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!