Bloemhof-praters vaar goed

Bloemhof kweek SA se top sprekers

Die Hoër Meisieskool Bloemhof neem jaarliks aan verskeie landswye debat- en redenaarskompetisies deel waaronder die ATKV-debat, ATKV-redenaars, Radikale Redenaars en Oppie Tong Af.

Vanjaar het die Bloemhoffers behoorlik bewys dat hulle nie skroom om hul mening te laat geld nie. Na `n taai stryd teen opponente uit die Wes-Kaap se skole, het Bloemhoffers plekke in die nasionale finale van elkeen van hierdie debat- en redenaarskompetisies losgeslaan.

Die Bloemhoffers wat deurgedring het na die landwye finale is soos volg:

Janka Strauss (junior kategorie) en Delinda Quinot (senior kategorie) beklee onderskeidelik die eerste en tweede  plek  in die Wes-Kaap met hul onvoorbereide toesprake  wat hul by die ATKV-redenaarskompetisie gelewer het.

Janka Strauss, Annalien Spies en Kaylie Herbst (ATKV-debat junior kategorie) eindig tweede en Marilin Smit en Chrystan Wagenstroom (ATKV-debat senior kategorie) eindig derde is die Wes-Kaap se semi-finaal.

In die Radikale Redenaarskompetisie behaal die volgende leerders almal eerste plekke in die Wes-Kaap kompetisie – Marilin Smit (voorbereide toespraak), Awonke Sibonda (voorbereide toespraak Afrikaans. EAT) en Emma Dafel (eksperimentele toespraak).

Marilin Smit (oorredingstoespraak voorbereid) en Emma Dafel (motiveringstoespraak voorbereid) eindig albei ook onder die eerste twee in die Wes-Kaapse ronde van die Oppie Tong Af-kompetisie.

 

Alhoewel die volgende Bloemhoffers nie deurgedring het na die landswye finaal nie, het hulle onder die top 10 in die Wes-Kaap geëindig:

In die ATKV-redenaarskompetisie se senior afdeling eindig Janke Marais sesde en Annette Bruwer sewende in die voorbereide toesprake afdeling, terwyl Chrystan Wagenstroom vyfde en Miné Malan tiende in die onvoorbereide toesprake afdeling eindig. Khazimla Ndiki beklee die vierde plek met haar voorbereide toespraak in die kategorie vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal.

Katryn van Rooyen behaal by Radikale Redenaars ‘n derde en Lise Bruwer ‘n vierde plek met hul voorbereide toesprake in die afdeling vir graad 9’s. Emeri Botes en Mieke Jonker eindig sewende in ATKV-debatskompetisie vir seniors.

Daar heers `n sterk kultuur van Afrikaanse debat- en redenaars in  Bloemhof se gange. Debat en redenaars bied nie net vir leerders die geleentheid om belangrike vaardighede vir hul toekomstige loopbane aan te leer nie, maar kweek ook `n liefde vir Afrikaans en redevoering by die leerders.

Marilin Smit (gr.11) sê: “Debat en redenaars bied vir my `n geleentheid om van die realiteit te ontsnap en net te praat. Dit het my soveel verskillende vaardighede geleer byvoorbeeld hoe om my perspektief duidelik aan iemand anders oor te dra.”

Janka Strauss (gr.9) meen dat debatskompetisies nie nét leerders leer om hul mening te lig nie, maar ook leerders se luistervaardighede verskerp juis omdat debat van leerders vereis om fyn na hul opponente te luister. Sy voeg by dat dit vir haar een van die spesiaalste dinge in die wêreld is en dat daar min ander dinge is wat so lekker is soos redenaars en debat.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!