Groot drama by Paul Roos

PRG, US Dramadepartement stel hoofkarakters van ‘The Addams Family’ bekend

Vir die eerste keer in die geskiedenis van Paul Roos en US Drama, sal dié sekondêre en tersiêre instellings saam ‘n projek aanpak.

Dit sal die eerste grootskaalse musiekblyspel wees wat in die nuut-opgegradeerde Adam Small-teater opgevoer word. Die samewerking maak dit vir Paul Roos-leerders moontlik om die verhoog met dramastudente te deel, regie van ‘n professionele akteur/regisseur én vervaardiger, onder die wakende hand van professionele tegnici, te ontvang.  Paul Roos se kreatiewes sien veral uit om in dié professionele ouditorium te kan optree waar hulle verseker is van indrukwekkende dekor, beligting en klank.

Teaterliefhebbers kan uitsien om weggevoer te word na die fassinerende wêreld van die Addams Family. Dié Amerikaans-gotiese gunsteling, soos ook onlangs aangevuur deur Netflix se populêre ‘Wednesday’, word beskou as ‘n wild-wonderlike, heerlik-verskriklike, magies-onheilspellende en chaotiese teatrale ervaring.

In dié weergawe van “The Addams Family” – die Musiekblyspel – raak Wednesday verlief op ‘n jong man van ‘n gerespekteerde Ohio-familie. Hy dring daarop aan om by die Addams-familie te kom kuier.  Gomez Addams (Wednesday se vader) moet iets doen wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie – hy moet ‘n groot geheim hou, en gevolglik die waarheid van sy geliefde vrou, Morticia, weerhou. Die aand ontvou soos dié twee uiteenlopende families mekaar vir aandete ontmoet.

Die vertoning vind tussen 22 Augustus en 2 September by die Adam Small-teater plaas. Kaartjies kos R155 per persoon en kan reeds by Quicket gekoop word.  Studente sal die geleentheid geniet om op aangewese aande hulself in Addams Family-kostuums op te dos. Bes-geklede gehoorlede sal teaterkaartjies vir opkomende produksies by die Adam Small-teater losslaan.  Hoër skole word ook uitgenooi om by te woon.

Vier Paul Roosers vertolk rolle in dié produksie. Die hoofkarakters word vertolk deur: Ben van Wyk (Pugsy), Nelandi Boshoff (Morticia), Fezeke Nontlanga (Alice), Vihann van Rooyen (Fester), Aidan Garth Lewis (Luke), André Gerber (Mal), Merwe van Gent (Gomez), Mia van der Merwe (Wednesday) en Mateo Komlosy (Lurch).

Paul Roosers in die toneelstuk is, van links Llewellyn de Wet (Conquistador Ancestor), Ben van Wyk (Pugsley), Nelis Venter (Soldier Ancestor) en Benjamin Jooste (Caveman  Ancestor).

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Leave the field below empty!