Onvergeetlike musikale Karoonag by Klassique
Is jy lief vir klassieke musiek? Het jy ‘n passie vir die Klein Karoo? Sorg dan dat jy voor Donderdag op Oudtshoorn kom vir vanjaar se Klein Karoo Klassique.
Dis hierdie week feestyd op Oudtshoorn – dié keer met klassieke musiek en ’n winter baadjie – wanneer die 14de Klein Karoo Klassique op Donderdag 3 Augustus begin.
Gehore kan uitsien na van ons land se voorste klassieke musici, musiek- en boekgesprekke, kuns, kos en wyn met ’n feesprogram wat tot Sondag 6 Augustus vele geleenthede bied om saam te kuier in die pragtige Klein Karoo.
Een musikale hoogtepunt wat ’n onvergeetlike aand van musiek beloof, is ’n Karoonag met die Suid-Kaap Kinderkoor en vriende (Vrydag 4 Augustus 19:00). Dié multi-bekroonde streekskoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, is te sien saam met Suid-Afrikaanse musieklegende Coenie de Villiers en twee soprane van Kaapstad Opera, Brittany Smith en Alida Scheepers.
De Villiers sê dit is altyd vir hom heerlik om saam met ’n koor op te tree, veral ’n koor van jonger stemme. “Koormusiek is die plek waar jongmense dikwels hulle lewenslange reis met musiek begin. Vir my as solis is daar niks lekkerder as om die groot klank van ’n koor óm jou te hoor nie, veral as dit musiek is wat uit jou eie pen kom.” Hy sing “Katedraal” en “Karoonag” saam met die koor.
Vir hom is dié uitvoering ’n moet-sien vir feesgangers omdat dit musiek deur ’n wonderlike koor, ’n toeganklike program en ’n kans om uithaler soliste van Kaapstad Opera in die hartjie van die Klein Karoo te hoor bied. “Dít alles maak hierdie uitvoering die voor-die-hand-liggende keuse op die program.”
De Villiers is van die begin van die fees op Oudtshoorn, waar hy Vrydag en Saterdagoggend gesprekke met kunstenaars oor die werk wat uitgevoer word fasiliteer. “Dit is vir my heerlik om so ’n spektrum van klassieke musikante uit die boonste rak saam op een plek te kan beleef. Daar is nie ’n slegte keuse in die uiteenlopende program nie. Ek dink die uitdaging gaan wees om by alles te kan uitkom”, skerts hy.
Hierdie uitvoering word moontlik gemaak deur die ATKV, wat reeds sedert 2010 by Klein Karoo Klassique betrokke is. Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê ’n Karoonag met die Suid-Kaap Kinderkoor en vriende is beslis ’n moet sien op die program. “Jongmense en koorsang lê my baie na aan die hart.”
Kaapstad Opera-sopraan Brittany Smith is vroeër vanjaar by die 58ste Fleur du Cap-pryse bekroon met beste vroulike optrede in ’n opera, vir haar rol in Kaapstad Opera se Le Nozze di Figaro. Sy het self koor gesing en sê Klassique is ’n waardevolle platform vir die Suid-Kaap Kinderkoor se jong stemme, omdat dit ’n wonderlike manier vir kinders is om optredes in die teater te ervaar, waaraan hulle nie noodwendig eers blootgestel is in groot stede soos Kaapstad, Johannesburg, Durban of selfs oorsee nie.
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Brittany-Smith-198x300.jpg)
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Brittany-Smith-198x300.jpg)
“Klassique bied ’n platform en geleentheid aan hierdie jong stemme om te sien of hulle werklik iets soos hierdie wil doen vir ’n lewe en dat hulle dit kan laat gebeur as hulle hulle daarvoor beywer.”
Haar raad vir jong, aspirant opera of ander sangers met ’n droom om eendag op verhoë regoor die wêreld op te tree? “Wees gedissiplineerd in jou kunsvlyt. Werk hard en met deursettingsvermoë, maar hê respek vir jouself en vir jou kuns.” Smith sing Mozart se “Laudate Dominum” saam met die koor.
Sopraan Alida Scheepers is die 2023 Jong Kunstenaar van Kaapstad Opera se Judith Neilson-program. Sy sê die blootstelling wat Klassique aan dié koorlede bied is uiters waardevol. “Blootstelling aan professionele sangers en verskillende tipes musiek uit ons gevarieerde program, om met musiek te werk, dit te leer, te memoriseer en te sing ontwikkel jou geweldig baie. Dit is inspirerend vir die kinders.”
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Alida-Scheepers-199x300.jpg)
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Alida-Scheepers-199x300.jpg)
Scheepers sê egter dit is nie net vir die jongmense inspirerend nie, maar vir haar en Smith ook, omdat hulle die volgende generasie van sangers, musiekliefhebbers en gehore sien. Haar raad vir aspirant sangers: “Vertel altyd ’n storie wanneer jy iets opvoer. Dis waarom jy dit doen. Droom groot en werk baie hard, maar moet nooit vergeet jy vertel ’n storie nie.” Scheepers sing Le Roux Marais se “Heimwee” saam met die koor.
Smith en Scheepers is ook Saterdag 5 Augustus om 19:00 op die verhoog vir die ATKV-Galakonsert met Kaapstad Opera vir ’n program van tydlose hoogtepunte uit die mees beroemde operas en musiekblyspele.
Jan-Erik Swart, dirigent van die Suid-Kaap Kinderkoor, sê uitvoerings soos hierdie verseker dat koorlede baie hard werk om ’n internasionale standaard te bereik. “Die samewerking tussen hierdie musici en die kinders skep ook nuwe rolmodelle vir die kinders, wat uit hul eie geledere droom om operasangers en opgeleide kunstenaars te word.”
“Die Suid-Kaap Kinderkoor bestaan uit lede vanuit Oudtshoorn, George, Mosselbaai, Knysna, Stilbaai en Ladismith. Dié jong sangers bied ’n energieke en passievolle musikale klankervaring, wat uniek aan die koor se musikale identiteit is.”
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met addisionele ondersteuning van Le Lude, Rosenhof Country House en die Oudtshoorn-munisipaliteit. Die fees se verblyfborge is Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel by Bon Hotels, Ravenscliff Manor, Turnberry Boutique Hotel en Wildehondekloof Game Reserve.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by klassique.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay, of die KKNK-kantoor. Kaartjies word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid. ’n Eksklusiewe Klassique-pakket bied toegang tot nege uitvoerings teen ’n totale besparing van 30%. Vir verblyfopsies in en om Oudtshoorn kan feesgangers ook Klassique se verblyfvennoot LekkeSlaap besoek.
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Coenie-de-Villiers-©-Gareth-van-Nelson-200x300.jpg)
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Coenie-de-Villiers-©-Gareth-van-Nelson-200x300.jpg)
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Suid-Kaap-Kinderkoor-©-Hans-van-der-Veen-300x176.jpg)
![](https://www.stellenboschmonitor.com/wp-content/uploads/2023/08/n-Karoonag-Suid-Kaap-Kinderkoor-©-Hans-van-der-Veen-300x176.jpg)